Uitstel van verkiesing skep grondwetlike dilemma

Argieffoto (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die moontlike uitstel van die plaaslikeregeringsverkiesing later van jaar kan ’n groot impak hê op die hele grondwetlike bestel van Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig Glen Mashinini, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), tydens ’n perskonferensie bevestig dat die kommissie die aanbevelings van regter Moseneke sal volg en ’n hof sal nader om die 2021 munisipale verkiesings tot 2022 uit te stel. Die verslag het aanbeveel dat die verkiesing nie later nie as die einde van Februarie 2022 moet plaasvind.

Siviwe Gwarube, woordvoerder van die Demokratiese Alliansie, het gesê sy party se standpunt bly onveranderd. “Ons ondersteun nie die uitstel van ʼn verkiesing nie. Ons sal die OVK se aansoek bestudeer om spesifiek te kyk op watter manier die kommissie die verkiesing wil uitstel. Dit is uiters belangrik dat die proses streng aan die Grondwet moet voldoen en die regte van alle Suid-Afrikaners moet verseker.”

Gwarube sê die DA sal ook kyk na moontlike presedente wat deur die uitstel van die verkiesing geskep kan word en dan ʼn besluit neem oor volgende stappe.

Die DA het in sy voorlegging aan die OVK ʼn paar argumente teen die uitstel van die verkiesing ingesluit, waaronder:

  • Die plaaslikeregeringsverkiesing moet voldoen aan die grondwetlik voorgeskrewe tydsraamwerk. Volgens die Grondwet is dit elke vyf jaar.
  • Die verkiesingskalender is ʼn reguleringsmeganisme om vry en regverdige verkiesings te verseker en die “stand van gereedheid” van politieke partye om aan die verkiesing deel te neem is nie ʼn geldige rede om die verkiesing uit te stel nie.
  • Massabyeenkomste is nie noodsaaklik om vry en regverdige verkiesings te hou nie. Dit is dié byeenkomste wat ʼn risiko inhou vir die verspreiding van Covid-19, nie die hou van die verkiesing self nie.
  • Argumente dat die plaaslikeregeringsverkiesing kan lei tot ʼn toename in Covid-19-gevalle kan betwis word deur die verskeie munisipale verkiesings wat reeds sedert die aanvang van die ramptoestand gehou is.

“Nou dat die OVK die besluit geneem het om die hof te nader, sal ons ʼn ogie hou oor die proses om seker te maak dat ons die hoeksteen van ons grondwetlike demokrasie beskerm: gereelde, vry en regverdige verkiesings,” het hy gesê.

Volgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is sy party ook gekant teen die uitstel van die munisipale verkiesing wat op 27 Oktober vanjaar sou plaasvind. “Die OVK maak moontlik ’n fout in sy aanname dat ’n volgende golf van Covid-19 in daardie tydperk sal uitbreek. In teenstelling met die OVK se siening hieroor, is daar ander geloofwaardige projeksies wat toon dat die volgende golf nie rondom Oktober gaan wees nie, maar teen middel Desember tot in Januarie aanstaande jaar.”

Groenewald sê daar is geen sekerheid hieroor nie, maar indien die Desember/Januarie-projeksie wel akkuraat is, kan dit veel meer ongeleë wees indien die verkiesing vroeg in die jaar sou plaasvind.

“Wat die OVK se besluit aanbetref, sien die VF Plus rooi ligte flikker. Daar bestaan ’n grondwetlike bepaling oor verkiesings wat dit duidelik maak dat ’n volgende verkiesing nie later nie as negentig dae van die jaardatum van die vorige verkiesing gehou moet word. Indien die Grondwethof sou toelaat dat sekere bepalings van die Grondwet nie uitgevoer word nie, kan situasies in die toekoms ontstaan waar ander verkiesings op nasionale en provinsiale vlak om sekere redes ook uitgestel kan word. Dit kan ’n presedent hiervoor skep.”

Groenewald meen dit sou ’n ernstige verbreking van artikel 1 van die Grondwet wees wat juis moet verseker dat die land se demokratiese bestel gehandhaaf en beskerm moet word en dat gereelde verkiesings die kern hiervan vorm.

“Artikel 1 kan slegs verander word met ’n meerderheidsbesluit van 75% in die parlement. Politieke partye kan onder die huidige omstandighede steeds werwing doen deur ander metodes as direkte kontakbesoeke. Die internasionale standpunt is ook dat verkiesings steeds vry en regverdig kan plaasvind al kan daar nie op die normale wyse werwing gedoen word nie.

Die VF Plus se standpunt is dat plaaslike regering in Suid-Afrika weens die ANC se swak dienslewering in so ’n haglike toestand is dat kiesers so gou as moontlik die geleentheid moet kry om verandering teweeg te bring.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen ook sy regspan opdrag gegee om ondersoek in te stel rakende die meriete van ’n aansoek wat deur die OVK ingedien gaan word om die munisipale verkiesings uit te stel en, indien wel, regsargumente aan die hof voor te hou.

“Hoewel regter Moseneke aanbeveel dat die verkiesing uitgestel moet word, maak hy geen bevinding of dit volgens die Grondwet wel moontlik is nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake. “Die probleem is egter of die Konstitusionele Hof of die Verkiesingshof ’n aansoek gaan oorweeg wat eintlik grondwetlike wysiging vereis. Hierdie aansoek kan ’n groot impak op toekomstige regspleging hê.”

Regter Moseneke noem in sy verslag dat daar nie eenstemmigheid is oor of die verkiesing moet plaasvind nie. Die verslag fokus daarop of dit vir die OVK moontlik is om die verkiesing vry en regverdig te hou op 27 Oktober 2021. Die verslag oorweeg ’n reeks faktore wat die volgende insluit:

  • Die vermoë van politieke partye om hul verkiesingsveldtogte van stapel te stuur.
  • Wat mediese kenners se voorspellings gaan wees ten opsigte van die Covid-19-gevalle tydens die vierde week van Oktober.
  • Die kapasiteit van die gesondheidsektor.
  • Gemeenskapsimmuniteit en inentings.
  • Die moontlike impak indien die verkiesing na Februarie 2022 uitgestel word.
  • Die OVK se moontlike remedies rakende die situasie.
  • Die impak op die munisipale begrotingsjaar.

“Die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture is dit eens dat die munisipale rade se termyn nie oor langer as vyf jaar mag strek nie en dat die OVK ’n verkiesing moet hou binne 90 dae ná verstryking van die vyfjaartermyn,” het Mostert benadruk. “Dit blyk dat die Grondwet se bepalings hieroor gebiedend is en daar min – indien enige – beweegruimte vir ’n hof is om ’n uitstel van die verkiesing na 1 November 2021 te sanksioneer.”

Hierdie saak kan ’n groot impak hê op die hele grondwetlike bestel van Suid-Afrika. “Daarom het AfriForum besluit om regter Moseneke se verslag, asook die aansoek wat deur die verkiesingskommissie geloods sal word te oorweeg en verder te ondersoek om moontlike toetreding tot die saak te oorweeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andre ·

Dit is geen verrassing vir my nie, ek vermoed dis deel van die planne om by n een party Afrika staat uit te kom. Mens weet deesdae werklik nie meer wat om te glo en of in goeder trou opgetree word nie, dit blyk nie die geval te wees nie.

Werner ·

Nog net die naiewe mense wat dink die regering steur hulle aan n grondwet

Andries ·

Hulle is doodbang vir die ” Geen Bier, Geen stem” veldtog wat hul baie stemme gaan kos.

Pieter ·

Die ANC kommuniste is slim hulle sien ons neem nie standpunt in nie. Hulle maak net soos hulle wil.

Grassie ·

Ek het baie respek vir dr Groenewald en beskou hom as ‘n sterk leier maar dink hy regtig dit gaan enige verskil in die uitslag van die verkiesing maak as dit uitgestel word? Die gepeupel gaan almal steeds vir dieselfde onbevoegdes stem waarvoor hulle by die vorige verkiesing gestem het.

Karel Kobus Kruger ·

Presies net so. En die meeste wittes gaan weer vir die DA matrieksertifikaat bende stem. Ja ja, hulle bestuur munisipaliteite redelik goed.

christo ·

Daar is reeds hierdie jaar bewys dat direk na die Desember vakansie Covid-19 getalle so toegeneem het dat die heropening van skole in Februarie 2021uitgestel moes word. Die aanname wat die OVK maak is dus ‘n gehap na wind. Die kruin van die huidige Covid-19 vlaag behoort voor Oktober reeds verby te wees en sodanig af te neem dat plaaslike verkiesings wel gehou kan word. As skole 100% oop is kan ek nie sien hoekom plaaslike verkiesings ‘n superverspreider kan wees nie. Die rede hoekom die ANC en EFF daarin geslaag om hulle kiesers ongeletterd te laat ipv om hulle te bemagtig byt hulle nou aan die g*t.

Jaco ·

Almal wat teen die uitstel van die verkiesing is moet net onthou: as dit wel in Oktober 2021 plaasvind, is die instel van ‘n 4de golf Corona em vlak 4 inperking en toe strande in Des 2021 en Jan 2022 baie maklik. Verkiesing in Feb 2022 beteken strande bly oop komende Desember en Januarie. B

Jaco ·

Verkiesing in Oktober 2021 is ‘n uitstekende manier om baie mense in te ent teen Covid-19. Ons kan selfs “herd immunity” vlakke bereik. Beplan NOU AL om inëntingsfasiliteite by elke stempunt te hê. Dit kán werk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.