Uitstuur van SMS’e oor plasing van leerders by sommige skole nou uitgestel

onderwys-skool-skole-onderrig-argieffoto

(Foto: Element5 Digital/Unsplash.com)

Die departement van onderwys gaan wél Woensdag voort met die uitstuur van SMS’e oor voornemende graad 1- en graad 8-leerders se plasings in skole – die skole van waar klagtes ontvang is, se SMS’e word egter teruggehou.

Maroela Media het vroeër berig AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die Gautengse departement van onderwys in ’n prokureursbrief gevra om die uitstuur van kennisgewings oor skoleplasings tot 16 Oktober 2019 uit te stel. Dié kennisgewings word per SMS aan ouers van voornemende graad 1- en graad 8-leerders gestuur.

Die organisasies sê verskeie skole en beheerliggame het hulle oor die plasings om hulp genader. Hulle meen daar is talle teenstrydighede en onreëlmatighede in die plasingslyste wat die departement aan hulle voorsien het.

Sommige mense sê selfs dat die probleme reeds verskeie kere onder die departement se aandag gebring is, maar dat sogenaamde hersiene lyste weer dieselfde, of nuwe probleme ingesluit het.

AfriForum en die SOS het in vandag (Dinsdag) se skrywe die departement tot die einde van die werksdag gegun om te reageer. Indien hulle teen dan geen reaksie of bevestiging van uitstel gekry het nie, sou hulle die dringende hof vra om die uitstuur van die inligting te verhoed totdat die probleme uitgestryk is.

Die departement het vroeg Dinsdagaand in ʼn brief gesê hy beskou die situasie in ʼn baie ernstige lig en dat die SMS’e vir plasing by die 12 skole – soos genoem in AfriForum en die SOS se brief – tydelik teruggehou gaan word.

“Die tydelike opskorting van die plasingsproses beteken die departement gaan môre SMS’e aan ouers stuur, maar nie aan ouers van dié wat in die brief genoem word of skole met soortgelyke probleme nie. SMS’e aan dié skole gaan eers gestuur word wanneer die departement tevrede is dat die probleme uitgestryk is.”

Die departement het onderneem om teen Donderdag verdere terugvoer te gee.

Carien Bloem, AfriForum se bestuurder vir onderwys, het die stap verwelkom, maar sê die situasie gaan waarskynlik steeds tot verwarring onder sommige ouers lei as hulle nié môre die plasings-SMS’e kry soos verwag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Shaun ·

” sal hulle die dringende hof vra”. Julle bedoel seker AfriForum en SOS sal n ” Dringende aansoek voor die hof bring”? Daar bestaan nie n dringende hof nie. Net dringende aansoeke.

hannelie ·

Ek kan nie meer die gewag vat nie. My senuwees is klaar en elke keer as ek dink ok ons hoor more dan sien ek dat daar op 99.9 uit gestel is. Weet hierdie mense wat dit aan ons ouers doen wat so sit en wag en ons dood stress. Kry die dekselse proses reg en laat weet ons wat gaan aan.

Ilze ·

Hannelie ek voel vir almal van julle. Die gewag maak mens mal en die tyd wat hulle antwoord is die tyd wat skoolklere die duurste is. Sterkte vir almal

Lola ·

Om die plasings aanhoudend uit te stel is ook nie ‘n oplossing nie. Wat doen ons as ouers as ons teen einde Oktober eers moet uitvind ons kind het nie plasing gekry in ‘n skool nie? Waar begin jy dan? Besef hulle die onnodige stres waaronder hulle ons plaas?

Yolandi ·

Hannelie, ek stem saam jou! laat weet ons net! sodat ons ander planne kan maak!

Lola ·

Dit sal natuurlik ook baie help as hulle vir ons kan sê watter skole die probleme het?

Hanna Hoekom ·

Ek vermoed dat ons hier van “funksionele skole” praat. Dus: Afrikaanse skole! As ouers hul kinders by n Afrikaanse skool ingesjryf het, kan hulle moeilikheid verwag. Sterkte!

Johan Neuteman ·

Dis moeilik vir gesinne: vasgevang tussen goedkoper staatskool maar vyandige/ondoeltreffende staat dikteer aan die een kant, en duurder privaatskool aan die ander kant; maar daardie privaatskole wat hulle eie sake reël – jy doen aansoek en kry ‘n antwoord, klaar – en wat die gemeenskap en nie die politiek nie, dien, word ‘n beter opsie.

Mary'Lee ·

Kan enige iemand dalk bevestig watter 12 skole hulle na verwys?

Tessa ·

Ek is ook ‘n ouer wat wag om te hoor of my kind geplaas is waar ons aansoek gedoen het. My keuse van skole is deel van die 12 wat ‘n probleem is. Die berig noem dat daar wel ouers is wat vandag per sms sal hoor waar hul kinders geplaas is. Is daar ouers wat al ‘n sms ontvang het?

Mari ·

Ongelukkig ook nog geen sms ontvang nie. Ek wonder ook of enige iemand wel het?

Hannelie ·

Ek het vroeg oggend ‘n sms van een skool gekry dat my kind plek by hulle gekry het, maar dit is nie my eerste keuse nie, want dit is 20 kilos van my huis af. Ek het toe ook ‘n sms van die skool van my eerste keuse gekry, wat gesê het dat daar ‘n probleem met die GDO se lyste is en dat ons eers van die 2de Oktober af sal weet.

Dell ·

Ek is darem klaar met hierdie gewag, my kinders is reeds gr9 en op. Ek glo ons skool is ook een van die wat terug gehou word. Top Afrikaanse skool, met plek vir 350 gr8’s, maar oor die 1000 aansoeke ontvang, want daar is glad nie genoeg skole nie. Die dept het groot probleme omdat politiek voor op die agenda geplaas word ipv in die beste belang van die leerders. Sterkte aan almal wat moet wag.

riana ·

Stem. Bly my kinders is klaar verby die Aanlei registrasie punt en albei in Hoërskole val hulle keuses. Weet die Engelse skool langs my 1 kind se skool het oor die 3000 aansoeke gekry vir Graad 8 in 1ste uur na aanlyn registrasie oop gemaak het , en hulle het net plak vir 200 leerling. Meeste aansoeke was van kinders wat nie in area bly nie, en probleem is , kinders wat wel daar bly mag dalk nou nie plek kry nie, is om van moeg te word. En dan bou ons skole in area’s waar mense nie wil skool gaan nie, en hulle staan nou leeg….. ai

HbK ·

Dink vir ‘n oomblik aan die druk op die leerders. Hulle wil ook ‘n spesifieke skool bywoon. Kinders wat oppad is hoërskool toe, is nie juis emosioneel die stabielste nie. Wat sal moet gebeur voordat hierdie lawwe sosiale ingenieurswese ophou.

Liesel ·

Hierdie hele storie is net ‘n manier vir selfverryking van die sogenaamde “amptenare”! Dié dat hulle so baklei het om hulle pos terug te kry nadat hulle uitgeplaas is in ‘n ander pos…. Neewat – niks met opvoeding en onderwys te doen nie, politiese spel!

Poot ·

As die onderwys dept nie fondse wanbestee nie, kan daar skole gebou word en onderwyser indiens geneem word. Maar nee….. skole is mos soos taxis, prop hulle vol tot die tyres bars. Banana republic.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.