Uitvoerende bedryfshoof vir SAUK ‘binnekort aangestel’

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die aanstelling van ʼn uitvoerende bedryfshoof vir die SAUK sal binnekort gefinaliseer word volgens die bevel van die hooggeregshof oor die aanstelling van uitvoerende hoofde by die openbare uitsaaier, het die raad van die SAUK Dinsdag gesê.

“Die raad wil dit graag op rekord stel dat hy in hierdie saak kragtens die interim hofbevel opgetree het. Dit sluit die vereiste van konsultasies met die aandeelhouersverteenwoordiger [die minister van kommunikasie] in,” het die raad in ʼn verklaring gesê.

“Die interim hofbevel bied duidelikheid oor die raad se verantwoordelikhede om uitvoerende aanstellings te maak by die SAUK. Die werwing van die uitvoerende hoofde [hoof uitvoerende beampte, uitvoerende bedryfshoof en uitvoerende finansiële hoof] is een van die SAUK-raad se dringende prioriteite, en die proses duur voort. Die aanstelling van die suksesvolle uitvoerende bedryfshoof word nog afgehandel en advertensies is gepubliseer vir die posisies van uitvoerende hoof en uitvoerende finansiële hoof.”

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van kommunikasie, het Maandag mediaberigte verwerp dat Chris Maroleng, MTN se groepshoof vir korporatiewe sake, as bedryfshoof by die SAUK sal oorneem, om die voormalige omstrede bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, te vervang.

Sy het gesê die kabinet is verantwoordelik vir die aanstellingsprosesse van uitvoerende hoofde by die openbare uitsaaier en dat geen uitvoerende bedryfshoof by die SAUK aangestel is nie.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Kubayi-Ngubane daarvan beskuldig dat sy inmeng met die werk en onafhanklikheid van die SAUK-raad.

Die interim hofbevel wat verlede jaar in Oktober uitgereik is, het die magte van die kommunikasieminister beperk om uitvoerende hoofde by die SAUK aan te stel, om die onafhanklikheid van die raad te beskerm. Kubayi-Ngubane het intussen aangedui dat sy van voornemens is om te appelleer teen dié uitspraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.