Uitvoerkontrakte van meer as R1,8 miljard vir Kaapstad

James Vos, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur (Foto verskaf)

Maatskappye in Kaapstad het in die 2018/19- finansiële jaar uitvoerkontrakte ter waarde van meer as R1,8 miljard onderteken, het die Stad Sondag gesê.

“Wesgro, die Stad Kaapstad se internasionale handel- en beleggingsbevorderingsagentskap, het gehelp om die ooreenkomste vir plaaslike maatskappye te fasiliteer,” het James Vos, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, gesê.

Dié getalle is bekend gemaak in Wesgro se gekombineerde kwartaallikse verslag vir die jaar teen ʼn doelwit van tussen R103 miljoen en R210 miljoen.

“Ek is veral tevrede met die agentskap se prestasie tydens uitdagende ekonomiese tye. Dit wys hoe belangrik uitvoere is vir Kaapstad se ekonomie en om groei te stimuleer en werk te skep,” het Vos bygevoeg.

Danksy 56 uitvoerkontrakte sal ongeveer 733 poste oor die volgende vyf jaar in Kaapstad geskep word. Die ooreenkomste is onderteken met kopers in lande soos Japan, Singapoer, China, Nederland, Ethiopië, Senegal, Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Mosambiek, Nigerië, Thailand, Maleisië, die Verenigde State van Amerika, Kenia, Rwanda en die Verenigde Arabiese Emirate. Dit dek sleutelsektore vir Kaapstad se ekonomie, insluitend agri-prosessering, vervaardiging, mediese toestelle en kosmetika.

Volgens navorsing deur Wesgro het meer as die helfte van maatskappye wat aan ʼn opname deelgeneem het oor hul Afrika-strategie, gesê Kaapstad is die beste, of een van die beste stede om sake mee te doen in die res van Afrika.

Die Wes-Kaap voer meer uit na Afrika as enige ander plek in die wêreld, ter waarde van R46 miljard sedert 2018.

“Hierdie getalle bevestig dat Kaapstad homself gevestig het as die gekose stad op die Afrika-kontinent. Ons is verbind daartoe om die getalle te verhoog en ek is vol vertroue dat ons saam met Wesgro en ander instansies nog meer poste in Kaapstad sal skep,” het Vos bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Hoe doen die agt ANC provincies in verlyking? Sal graag wil weet.

Ian ·

JohanR soos gewoonlik doen hulle niks behalwe plunder nie. Dit is afterall al waarin hulle tans presteer.

Sanna ·

Net die helfte van die belasting wat ingevorder word, word in die Wes-Kaap spandeer. Die res word gespandeer in die minder welvarende ANC provinsies.

Hanz ·

Ek wonder is daar nog enige Suid Afrikaanse vragskepe met Suid Afrikaanse bemanning oor om hierdie uitvoere te gaan lewer? Die handels vloot sektor was altyd ‘n goeie voorbeeld van Suid Afrika se ” ons kan” houding maar ongelukkig is dit nou omtrent geheel en al tot niet laat gaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.