Uitvoerkwota vir leeubeendere verminder

Argieffoto: Designerpoint, Pixabay

Nomvula Mokonyane, nuutaangestelde minister van omgewingsake, het die uitvoerkwota vir leeubeendere, wat vroeër die jaar meer as verdubbel is, weer verminder.

Dit kom nadat Edna Molewa, voormalige minister van omgewingsake, in Julie vanjaar die uitvoerkwota van 800 skelette per jaar na 1 500 skelette per jaar verhoog. Dié omstrede besluit het talle omgewingsaktiviste woedend gehad.

Mokonyane, wat Molewa wat vroeër vanjaar dood is vervang het, het egter Maandag aangekondig die besluit is hersien en dat dit nou weer 800 skelette per jaar is. Die nuwe kwota is nou weer dieselfde as die toekenning vir 2017.

Volgens Mokonyane sal dit die departement in staat stel om te reflekteer oor die effektiwiteit van die implementering van die kwota en om voldoening en moniteringstelsels te verbeter.

Die kwessie sal intussen verder ondersoek word deur ʼn hoëvlak-paneel wat deur Mokonyane aangestel is. Die paneel is aangestel om beleid rakende die bestuur, teel, jag, handel en hantering van leeus, olifante, luiperds en renosters te hersien.

Die paneel sal openbare verhore hou, konsepvoorleggings opstel en wetenskaplike navorsing en ander vorms van inligting oorweeg ten einde huidige praktyke, regulatoriese maatreëls en beleidsposisies te evalueer.

Volgens Mokonyane sal die paneel ook leemtes in die verband identifiseer en voorstelle maak. “Die paneel sal ook die implementering van die aanbevelings van die kommissie van ondersoek hersien oor die haalbaarheid van die wettiging van handel in renosterhoring.”

Mokonyane het gesê die departement het die afgelope paar jaar met ʼn aantal emosionele en komplekse instandhoudings- en volhoubaarheidskwessies te doen gehad, veral dié wat ikoniese spesies behels. “Dit sluit in olifantbestuur, ivoor, handel in renosterhoring en die nuwe kwessie van handel in leeubeendere.”

Die departement se grondwetlike mandaat is om te verseker dat die omgewing beskerm word en wetgewing en ander maatreëls ingestel is om ekologies volhoubare ontwikkeling en die gebruik van natuurlike hulpbronne te verseker.

Mokonyane het gesê met die inagneming van die huidige nakomingsinspeksies van fasiliteite waar leeus reg oor die land aangehou en geteel word, is daar ʼn behoefte om volhoubare gebruik te versoen met streng beheerde internasionale handel en monitering.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Paul ·

Nou wat is so goed daaraan om die kwota te verminder, verwag sy nou dat ons moet hande klap?

Karolis ·

Volgens alle aanduidings is dit die Departement van Omgewingsake wat verantwoording moet doen vir die onwettige leeujag en -slagtings.
Eish! Darem maar.

Willehond ·

Die verkiesing kom! Bla bla bla bla! Beteken nie eers die stof op jou vloer nie!

Lizl ·

Ons deure is oop vir China, hoe verwag hulle om bedreigde spesies te probeer red as ons die mense agter die stropery ons land in verwelkom?

Sandy ·

Die vraag is hoekom is daar enigsens ‘n uitvoerkwota full stop.

Christo ·

Ek weet nie of dit goeie of slegte nuus nie. Onwettige stropery sal nou voortgaan, want skielik word die waarde van leeu skelette meer. Die Departement van Omgewingsake kon nog nooit onwettige handel van enige diereprodukte bekamp nie. dit gaan net nog ‘n spesie op die lys word wat gestroop word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.