Uitwerking van klimaatsverandering op insekte kan landbou ook raak

(Foto: pixabay)

Veranderinge in temperature én reënvalpatrone weens klimaatsverandering kan oor die volgende dekades ʼn beduidende invloed hê op die voorkoms van motte en skoenlappers in Afrika.

Dít volgens ʼn studie wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Bewaringsekologie en Entomologie gedoen is en in die vaktydskrif Ecological Modelling verskyn het. Daarvolgens kan die gebiede waarin sekere spesies wat in meer gematigde streke voorkom, met tot 72% krimp.

In die artikel in Ecological Modelling stel dr. Madeleine Barton ook ʼn nuwe model voor wat ander navorsers kan gebruik om die uitwerking van klimaatsverandering op vlinders en motte in Afrika te bestudeer.

Die studie is beplan en voltooi terwyl Barton nog ʼn nadoktorale navorser in die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie in die Fakulteit AgriWetenskappe was. Sy het dit voltooi in samewerking met prof. John Terblanche van die universiteit se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, en ʼn voormalige US-kollega, prof. Brent Sinclair, wat deesdae verbonde is aan die Western University in Kanada.

“Bitter min navorsing is al gedoen oor die uitwerking van klimaatsverandering op Afrika se Lepidotera (wat skoenlappers en motte insluit). Soortgelyke inligting is wel al beskikbaar vir spesies op ander vastelande,” het Terblanche gesê.

Sy navorsing fokus op die uitwerking wat klimaatsverandering kan hê op die verspreidings- en bevolkingsdinamika van landboupeste en insekte wat siektes oordra, soos tsetsevlieë.

“Dis belangrik om insekte te bestudeer, want die landbousektor is bekommerd oor hoe klimaatsverandering die verspreiding van peste en insekte wat gewasse bestuif, kan beïnvloed. Die uitkring-effek daarvan kan voedselsekerheid beïnvloed. Talle insekspesies speel ook ʼn rol in die verspreiding van siektes. Veranderinge betreffende die streke waar hulle voorkom, kan ook implikasies vir ons gesondheidstelsel inhou,” het hy gesê.

Barton het ʼn prosesgebaseerde klimaatvoorspellingsmodel ontwikkel.

Terblanche het gesê dit is die eerste klimaatmodel wat spesifiek ontwerp is om die uitwerking van temperatuurveranderings én reënval op die toekoms van Afrika se skoenlappers en motte te voorspel. Soortgelyke modelle bestaan vir ander wêreldstreke, soos Europa, Noord-Amerika en Asië.

Barton se model is vrylik beskikbaar en gratis om te gebruik deur ander wetenskaplikes wat data oor die fisiologie en verspreiding van Afrika-spesies beskikbaar het.

Die model oorweeg nie net moontlike toekomstige temperatuurveranderings nie, maar ook die invloed wat veranderende reënvalpatrone en droogtes op insekte kan hê. Dit is onder huidige klimaatstoestande getoets, asook die scenario wat teen 2050 verwag word. Die model is getoets met beskikbare data van twee endemiese Afrika-spesies: ʼn bekende landboupes, die Busseola fusca, wat op gewasse gevind word, en die skoenlapper Bicyclus anynana.

“Om meer akkurate voorspellings te kan maak, is dit beter om temperatuurveranderings asook die beskikbaarheid van water in jou modelle te gebruik. Dis nodig, want hierdie elemente beïnvloed die voortbestaan van spesies verskillend. Hoe klimaatsverandering die verspreiding en bevolkingsdinamika van ʼn insek oor die hele vasteland heen sal beïnvloed, hang baie af van die organisme se fisiologiese vermoë om spesifieke toestande te hanteer,” het Barton verduidelik.

Die navorsers het bevind dat hoër temperature en veranderende reënvalpatrone in sommige gevalle die verspreidingsgebied van party Afrika-skoenlappers en motspesies met tot 72% kan laat krimp.

Die verspreidingsgebied van spesies soos die mieliestamboorder (Chilo partellus), wat nie hoër temperature goed verdra nie, kan met die helfte krimp. Spesies wat gevoelig is vir koeler temperature en droë toestande kan weer oor groter gebiede aanpas namate temperature en reënval styg. Daar word voorspel dat spesies in die noordelike dele van Afrika kuswaarts en na hoërliggende gebiede sal verskuif om strawwe klimaatstoestande te systap. Die verspreidingsgebied van spesies in die suidelike dele van Afrika sal waarskynlik krimp.

“As ʼn mens slegs na temperatuur as maatstaf kyk, lyk dit asof spesies in die trope die gevoeligste vir klimaatsverandering gaan wees. Ons modelle wys egter dat wanneer neerslagpatrone sou verander, dit ook ʼn invloed op spesies in gematigde streke gaan hê,” het Sinclair gesê.

“In die toekoms kan die wisselwerking tussen uiterste temperature en droogtes ʼn groot uitwerking hê op insekte in Afrika en elders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

De Villiers ·

‘n Ander, amper ernstiger bedreiging vir insekspesies, is giftoediening. Elke insekdoder, hetsy dié toediening van gif met ‘n vliegtuig of trekker in landbou, of die blikkie gif in jou kas vir vlieë, miere ens., maak ander insekte ook dood wat net so belangrik is vir die bestuiwing van plante en gewasse. Selfs vlieë speel ń belangrike rol in bestuiwing. As ons aanhou gif gebruik teen insekte, gaan onsself die oorsaak wees van die einde van ons eie voortbestaan.

Bietjie bietjie ·

Klimaats verandering …
Regtig ???
Sê eerder belasting verandering !

Klimaatsalaltydverander ·

As die klimaat nooit verander nie het ons nog in die ys tydperk gewoon. Laat die natuur sy natuurlike proses gaan…

Werner ·

Dat slim mense (wat in die rubriek aangehaal word) nou so onnosel kan wees.

Johann van Cullinan ·

Ja die slim gelerdes se simpel geloof dat ons as mens eers ape was. stupid en hulle noem dit ñ univeriteits graad. Gelukkig is die meeste van ons direk geskape na die ewebeeld van God. Ek haat dit om te hoor of te lees six million years ago. Of hierdie klippie is 600 000 000 jaar oud. Regtig.

Zaks ·

500 top wetenskaplikes het verlede week global warming as hoax bestempel. Insekte – gif EN minder tuine. Klimaat berandering IS DIE NUWE one world initiative.

John ·

… en moet tog net nie na die uitwerking van die son praat nie, dan is die galg jou voorland… Erge klimaatsveranderinge is reeds tot so ver terug as 1185 in boomringe aangedui en die geskiedenis verwys na langer tydperke voor dit. In die Journal of Applied Meteorology and Climatology 1930-1940 word aangetoon dat sedert 1930 gedurende die Depressie en die gepaardgaande droogtes die koolstofvlakke laag was en gestyg het terwyl aardverwarming deesdae laer is as destyds. Terloops op Donderdag 24 Oktober, presies 90 jaar later, het die sg Black Thursday in 1929, die Depressie ingelui met die ineenstorting van die NY-aandelebeurs. Die ergste droogtes in die 1900s het hiermee saamgeval.

Human ·

Dit wannabe wetenskaplikes wat hier kommentaar lewer, wil nou met hulle superieure intellek, hoogs gekwalifiseerde natuur en omgewing wetenskaplikes verkeerd bewys en afmaak as oningeligtes. Net twee aanhalings vir sulke blatante, arrogante onnoselheid.
“How foolish can you get and fools rush in where angels feat to tread”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.