UJ-prys: ‘Skepsel’ gooi anker

Die wenners van die 2021-UJ-debuutprys asook die 2021-UJ-prys is aangekondig nadat kortlyste vir albei pryse verlede week aangekondig is.

Ryan Pedro ontvang vanjaar die UJ-debuutprys vir sy digbundel Pienk ceramic-hondjies en die UJ-prys word aan Willem Anker toegeken vir sy roman Skepsel.

Oor Pedro se debuutbundel sê een van die keurders: “Besonder geslaagd is die strukturele konseptualisering wat behels dat die bundel aangebied word as ʼn hibriede vorm wat iewers tussen ʼn “mixtape” en hedendaagse rap- of hiphop-album aangebied word.”

“Anker is die tweede skrywer in 21 jaar wat drie keer as wenner aangewys is,” sê prof. Karen de Wet, sameroeper van die beoordelaarspaneel. Marlene van Niekerk het die UJ-prys in 2005, 2011 en 2014 ontvang vir Agaat, Die sneeuslaper en haar digbundel Kaar. Anker het die debuutprys in 2008 vir Siegfried verower, sewe jaar later vir Buys (2015) en nou, ná nog ses jaar, in 2021 vir Skepsel.

Wanneer daar oorsigtelik na die UJ-prys verwys word, sluit dit ook die UJ-debuutprys in. Van Niekerk en Anker het albei drie keer die UJ-prys ontvang. Maar waar Van Niekerk drie keer die hoof-UJ-prys verower het, het Anker twee keer die hoof-UJ-prys gewen en een keer die UJ-debuutprys. Die ander skrywer wat al die UJ-debuutprys én die UJ-prys ontvang het, is SJ Naudé.

Een van die keurders meen die bekoring van Anker se roman is vervat in die toeganklike manier waarop al die verskillende filosofiese, sosiologiese en wetenskaplike idees vir lesers aangebied word. Die keurder sê ook dat die ongewone karakters in Skepsel ʼn verdere beloning van dié ambisieuse roman is.

Altesaam 71 titels het vanjaar om die UJ-prys meegeding, waarvan 27 debute is. Hoewel die getal inskrywings ietwat minder was as die vorige jaar (altesaam 83 in 2020), was daar ʼn toename in die getal debute: van 17 tot 27 debuutpublikasies.

De Wet meld verder dat ongeveer ʼn derde van die inskrywings poësie was en dat albei kortlyste ook meer as een digbundel ingesluit het. Inskrywings is van 15 verskillende uitgewers en drukname ontvang. Die wenners is deur Queillerie (Skepsel) en Kwela (Pienk ceramic-hondjies) uitgegee.

Die UJ-pryse vir Afrikaans word sedert 2000 jaarliks aan skrywers van uitsonderlike Afrikaanse boeke toegeken. Titels wat vir die UJ-pryse ingeskryf word, moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees en in die voorafgaande kalenderjaar (1 Januarie tot 31 Desember) verskyn het.

Die UJ-prys is ʼn oop kategorie vir boeke van enige genre wat oorspronklik in Afrikaans en deur nie-debutante geskryf is, waar die UJ-debuutprys slegs vir debute geoormerk is.

Sedert 2021 word die UJ-pryse deur die Kantoor vir Meertalige Taaldienste onder leiding van prof. Marné Pienaar geadministreer. Die Trust vir Afrikaanse Onderwys borg die 2021-UJ-pryse en ʼn prysgeld van onderskeidelik R70 000 en R35 000 is op die spel.

Die paneel het bestaan uit proff. Karen de Wet (UJ) en Marné Pienaar (UJ), drs. Frederick J Botha (SPU), Sonja Loots (UK) en Johan Myburg, asook Valda Jansen en Earl-Ray Basson (CPUT).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.