UJ span tegnologie in om geestesversteurings te beveg

Tienerseun_leerproses.jpg

Foto: pixgood.com

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het Vrydag ’n aanlyn-geestesgesondheidsprofielstelsel vir kinders bekendgestel, wat in alle Gautengse skole geïmplementeer sal word.

Die projek, onder leiding van prof. Jace Pillay van UJ, word in samewerking met die kantoor van die Gautengse premier aangebied.

Luidens ʼn verklaring deur die universiteit ly ongeveer 10% tot 20 % van kinders en jongmense reg oor die wêreld aan geestesversteurings. Dit is egter dikwels moeilik om die oorsake van geestesversteurings te bepaal.

“Die behoefte aan so ʼn navorsingsprojek blyk duidelik uit die toenemende geweld in skole en gemeenskappe wat in ons land heers – waarvan heelwat gekoppel is aan uitdagings met geestesgesondheid,” sê Pillay.

UJ se navorsing toon aan dat hindernisse soos ʼn gebrek aan ondersteuning in die burgerlike samelewing sowel as ’n gebrek aan wêreldwye konsensus oor geestesongesteldheid en die behandeling daarvan tot geestesversteurings onder kinders kan lei.

Indien geestesversteurings nie behandel word nie, kan dit ʼn groot invloed hê op kinders se ontwikkeling, opvoedkundige prestasies en hul potensiaal om vervulde lewens te lei.

UJ voer aan dat sy aanlyn-geestesgesondheidsprofielstelsel strook met die vierde nywerheidsrewolusie (4IR). Dit beteken die stelsel kan toetse aan- of aflyn uitvoer. Dít stel navorsers en dataverbruikers in staat om navorsingsbevindings in te dien en te ontvang met die druk van ʼn knoppie.

Volgens Pillay speel die gebruik van tegnologie ʼn groot rol in die lewering van geestesgesondheidsdienste. Dit ondersteun kinders en jong mense deur programme wat voorkoming, assessering en behandeling van geestestoestande bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Doffie ·

Is dit regtig moelik om die oorsake vas te stel van geestelikeversteurings?

Kom ons begin by die tekort aan tug, massa media, selfone, druk van ouers vir prestasie en nog baie voor die handliggende oorsake.

Ek sukkel dan daarmee

Abe ·

Doffie,
Die berig verwys na “geestesversteurings” nie “geestelike versteurings” nie. Daar is n verskil. Die moontlike oorsake waarna jy verwys dui ook vir my daarop dat jy nie heeltemal reg verstaan nie.

Anoniem ·

Gebruik asb die Regering eers as proefkonyne, die simptome is daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.