UJ-student leef ‘in vrees’ ná moord op medestudent

Universiteit van Johannesburg. Foto: Aurobindo Ogra - Eie werk. via Wikimedia Commons

Universiteit van Johannesburg. Foto: Aurobindo Ogra – Eie werk. via Wikimedia Commons

Die student van die Universiteit van Johannesburg wat gesien het hoe ʼn medestudent vermoor is, het Vrydag gesê hy sukkel om vir die eksamen voor te berei en leef in vrees nadat die polisie beslag gelê het op al sy elektroniese toerusting vir ʼn “ondersoek”.

Magnificent Mndebele het twee weke gelede by ʼn koshuis, wat nie op die kampus geleë is nie, gesien hoe Kelvin Baloyi deur ʼn onbekende veiligheidswag doodgeskiet is.

Baloyi se moordenaar het van die toneel gevlug en die universiteit, en eienaars van die gebou, het geweier om aanspreeklikheid te aanvaar. Hulle voer aan hulle weet nie wie die veiligheidswag is nie.

Mndebele het foto’s geneem van die gebeure voor Baloyi se moord asook die bebloede toneel. Twee polisiebeamptes het in die vroeë oggendure in siviele klere by Mndebele se koshuis opgedaag en beslag gelê op sy selfoon en skootrekenaar, sonder dat hulle ʼn lasbrief gehad het. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy hul ondersoek belemmer en geweld aanhits.

Mndebele, ʼn tweedejaar joernalistiek-student, het gesê sy grootste uitdaging nou is om voor te berei vir sy eksamen. Hy kan egter nie sy skootrekenaar gebruik om voor te berei vir ʼn praktiese eksamen nie, aangesien die polisie dit nie wil beskikbaar stel nie.

“Die polisie het my soos ʼn misdadiger hanteer. Hulle het beslag gelê op my toerusting sonder enige lasbrief en geëis dat ek al die foto’s uitvee. My prokureur het ʼn brief geskryf aan die provinsiale kommissaris, maar niks het nog gebeur nie.”

Kol. Noxolo Kweza, woordvoerder vir die polisie in Johannesburg, het nie reageer op African News Agency se versoek om kommentaar te lewer nie.

Mndebele het gesê hy leef in vrees, aangesien twee onbekende persone ook sy meisie by die Auckland-kampus geteister het, en haar aangesê het om vir hom te sê hy moet sy ondersoek na die voorval staak.

Mndebele het gesê hy was gewillig om met die polisie saam te werk en het selfs in die hof getuig nadat die verdagte in hegtenis geneem is, maar die manier hoe hy behandel is, laat hom die polisie se doel om die moord te ondersoek, bevraagteken. “Ek slaap nie eers meer by The Yards nie. Dit is te veel om te dra en dit nog buiten die trauma dat ek gesien het hoe Baloyi koelbloedig vermoor word,” het hy gesê.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum het vroeër vandeesweek Mndebele se “teistering” deur die polisie veroordeel.

Die Suid-Afrikaanse Kommunikasievereniging, die professionele verteenwoordigende vereniging vir die kommunikasiebedryf, het gesê hy is “diep besorg oor die voortslepende intimidasie, teistering en mishandeling van professionele en studente-joernaliste”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oom Walker ·

Niemand weet wie die onbekende veiligheidswag is nie, maar hy het alreeds in die hof verskyn nadat hy in hegtenis geneem is??

lettie ·

Ja die berig of die weergawe vd student maak nie sin. Was die vermoorde student onskuldig of het krimineel of verdag opgetree wat gelei het tot sy dood?

Thyskotze ·

Weet polisie elke dag wat hulle doe n ek glo nie diis dalk polisieman wat dit gedoen het

miv ·

Moordenaar is seker familie of vriend van die ondersoekers in die saak. Tragies dat die jong man en sy vriendin nou bedreig word en sy eiendom sonder ‘n lasbrief gekonfiskeer word. Dié polisielede wat so optree en hul kollegas se naam ook in die gedrang bring, behoort summier ontslaan te word.

John ·

Die polisie en veiligheidswagte is nou die skurke? Studente word vermoor, gestenig, verkrag en besteel, verhoed om te leer of eksamens te skryf en dan moet hulle ook nog betaal vir al die lyding om uiteindelik ‘n ‘ticket’ na ‘n paradyslike lewe in SA te bekom… Aai tog!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.