UJ-student, nog twee sterf in skietery

(Foto: Yusuf Abramjee/X)

ʼn Student aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) en nog twee mense is Donderdagmiddag in Braamfontein in Johannesburg doodgeskiet.

Volgens kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, het onbekende verdagtes op twee mans losgebrand terwyl hulle binne ʼn geparkeerde voertuig gesit het. ʼn Bus wat universiteitstudente vervoer het, het in die kruisvuur beland en twee studente is geskiet.

“Albei mans in die voertuig en een student is dood verklaar terwyl die ander student na die naaste hospitaal geneem is vir mediese behandeling.”

UJ het bevestig dat ʼn 18-jarige tweedejaarstudent in die voorval dood is. Die student wat gewond is, is ook van UJ en sterk aan in ʼn hospitaal.

Herman Esterhuizen, woordvoerder van UJ, het gesê die studente was op ʼn bus wat hulle van die universiteit na hul blyplekke in die Johannesburgse middestad vervoer het.

“UJ is in kontak met wetstoepassingsagentskappe wat die voorval ondersoek. Ons gedagtes is by die families van die betrokke studente. Die universiteit bied berading aan studente wat op die bus was ten tyde van die skietery.”

Nevhuhulwi het gesê die motief vir die skietery word ondersoek. Sake van moord en poging tot moord is geopen en niemand is al in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Riaan ·

18 jaar, 2de jaar student!!!! Verduidelik bietjie dit. Gewoonlik 18 in matriek of dalk word die een dalk 19 later in die jaar, dan nog steeds moet dit ‘n eerste jaar wees.

Lettie ·

Aitog, is SA in oorlog gewikkel? Hoekom skiet Suid-Afrikaners daagliks op mekaar om dood te maak? Só baie teleurstellend.

ES ·

Net so voor die verkiesing kom wys die kriminele vir ons hoekom ons die cANCer MOET uitstem hierdie jaar. Ek hoop regtig die mense wat nie wil stem nie “omdat dit nie ‘n verskil maak nie” tog hierdie jaar van mening verander sodat ons hierdie drek kan uitstem en kan begin bou en herstel aan hierdie pragtige land van ons.

Republikein in die Wes Kaap ·

ES, die meerderheid van die bevolking is afgestomp. Dié tipe dinge kom daagliks voor. Ongeveer 76 mense word elke dag vermoor. Die ekonomie is in sy kanon. So, alles gaan nou om oorlewing. Die regime het daarin geslaag om die bevolking se psige te breek.

Elmarie ·

@Riaan – ‘n vriend, miljoener en uitstekende besigheidsman was SESTIEN destyds (ek praat van so vyftig jaar gelede al) toe hy drie dae lank per trein van Zim moes ry om by Ikeys uit te kom om te studeer. Dit is wel moontlik

Jakkie ·

@Riaan. Heel moontlik. Vermoede ‘n jaar vroeg skool toe. Skryf word 17 in matriek, word 18 in eerste jaar en word 19 in tweede jaar. Die student moet seker nog hierdie jaar verjaar. Van my nefies en niggies is op 5 skooltoe, het 6 geword in Gr. 1 i.p.v. 7. Sommige kinders wat vroeg in die jaar verjaar gaan vroeër skooltoe.

Shakespeare ·

Dis vir ons erg maar vir die, by verre meerderheid in ons land is dit ‘n dood normale verskynsel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Net gister is ‘n DA raadslid voor die munisipale kantore in Jeffreysbaai geskiet. Die man word nou in die hospitaal behandel. Waarskynlik ‘n sluipmoord poging. Hierdie tipe aanvalle kom nou ook voor in stedelike gebiede.

Bolandse Nooi ·

@Riaan, ek was 17 toe ek gematriukuleer het. Ek het eers 18 geword op die 30ste Desember, so dis heel moontlik. Jy mis die punt, ou – ‘n JONG, onskuldige mens wat iets van sy/haar lewe probeer maak het, is DOODGESKIET.

Anonymouse ·

Riaan, dis tien teen een swak verslaggewing. Net soos die feit dat dit by Wits was, en nie UJ nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.