UJ vra ruimte vir ondersoek ná student se dood

Keleletso Mohlala. Foto: Twiiter via @UJAPK_SRC.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het Vrydag versoek dat die polisie die ruimte gegee word om die omstandighede rakende die dood van een van die universiteit se studente behoorlik te ondersoek.

Collen Maepa, woordvoerder van UJ, het gesê die universiteit het onlangs talle medianavrae oor beweerde voorvalle van selfmoord en/of pogings tot selfmoorde deur hul studente ontvang. Maepa het gesê hulle is ook bewus van gerugte en bespiegeling oor dié voorvalle wat die ronde doen op sosiale media.

“In dié verband het UJ net ʼn rekord van ʼn enkele voorval betreffende die dood van een van ons studente. Ons betuig ons medelye met die familie, vriende en medestudente van Keleletso Mohlala, ʼn student aan die departement van joernalistiek, film en televisie. Sy is op 23 Augustus oorlede,” het Maepa gesê.

Hy het bygevoeg die ongegronde bespiegeling rondom Mohlala se dood veroorsaak pyn vir haar familie.

Maepa het gesê UJ is ten sterkste bewus van die feit dat hul studente onder druk verkeer, hetsy dit finansieel, akademies of in terme van hul verhoudings is. “Met tye kan die probleme so oorweldigend raak dat studente en selfs personeellede desperate aksies kan oorweeg,” het Maepa gesê.

Die universiteit het talle ondersteuningsmeganismes in plek vir studente en personeellede wat desperaat voel. Die universiteit se sentrum vir sielkundige dienste en beroepsontwikkeling bied ondersteuning aan studente en personeel. “Dit sluit in konsultasies sonder die vereistes van afsprake op al die verskillende kampusse, individuele konsultasies asook ʼn 24 uur per dag beradingsnommer (082 054 1137). Daar is ook ʼn werknemerswelstandsprogram in plek.”

Die universiteit bied ook selfmoord-bewusmakingsveldtogte en selfs hospitalisasie in ernstige gevalle.

“Elke geval word op individuele meriete geassesseer en afhangend van die erns van die probleem word verskeie mense by die bystand en bestuur van die student betrek.”

Maepa het gesê dié dienste word gereeld en duidelik aan die studente en personeel geadverteer.

Mohlala se laaste Facebook-boodskap op 20 Augustus het gelees: “You have complete power over how you react to any situation good or bad. If you keep that in mind in dark times you’ll be a stronger person.”

ʼn Gedenkdiens is Donderdag om 12:00 by die Afslaan-sportkoshuis se saal vir Mohlala gehou.

“Me. Mohlala het op die huiskomitee van Lebone-vrouekoshuis as sekretaris gedien. Sy sal vir altyd onthou word vir haar veerkragtigheid en dapperheid. Mag haar siel in vrede rus,” het Kingsway-kampus se studenteraad op Twitter laat hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.