UK gekap oor verwydering van kunswerke

Historiese kunswerke wat deur betogers gebrand is. Foto: Verskaf

Die Universiteit van Kaapstad (UK) loop erg onder kritiek deur en word van sensuur beskuldig weens die verwydering van verskeie kunswerke.

Belinda Bozzoli, die DA se skaduminister van hoër onderwys, het gesê die DA het dr. Max Price, visekanselier, en dr. Sipho Pityana, voorsitter van die universiteit se raad, skriftelik versoek om die verbod op nagenoeg 75 kunswerke onmiddellik op te hef.

Die universiteit het in September 2015 ʼn sogenaamde kunswerktaakspan aangestel nadat die beeld van Cecil John Rhodes maande vantevore verwyder is. Volgens die universiteit is die doel van die taakspan om ʼn oudit te doen van standbeelde en ander kunswerke op die kampus wat “koloniale onderdrukkers” erken of vier of wat aanstootlik of omstrede is. Volgens die taakspan het talle studente aangedui dat ʼn aantal kunswerke by die universiteit aanstootlik is weens die manier waarop dit swart mense uitbeeld.

Tydens die #FeesMustFall-betoging is talle kunswerke deur die betogers verwyder en aan die brand gesteek. Bozzoli het Price en Pityana versoek om bekend te maak watter 23 kunswerke deur betogende studente vernietig is en ook om ʼn lys beskikbaar te stel van die kunswerke wat tans nie meer uitgestal word nie.

Die kunswerke van verskeie toonaangewende kunstenaars is glo op die lys van items wat verwyder is, onder andere Breyten Breytenbach, Christo Coetzee, Steven Cohen, Mia Couvaras, Pieter Hugo, Vusi Khumalo, Lucky Sibiya, Pippa Skotnes, Irma Stern en Sue Williamson.

Breytenbach het reeds uitgevaar teen die universiteit en hul besluit om die kunswerke te verwyder as “fascisme” bestempel.

Volgens Bozzoli is die verbod op kunswerke dieselfde as om ʼn boek uit ʼn biblioteek te vat en dit te verbrand. “Die tipe optrede verhoed studente om krities met kuns en literatuur om te gaan.”

Bozzoli het die universiteit versoek om die kunswerke onmiddellik weer op hul “regmatige plekke” aan te bring.
Price het egter teruggekap en gesê beskuldigings dat die universiteit sensuur toepas en ingee tot die eise van ʼn klein radikale groep studente wys op ʼn gebrek aan begrip van die universiteit se transformasieproses.

Volgens Price is die verwydering van die kunswerke net tydelik. “Ons glo dat die kunswerke uiteindelik weer vertoon sal word sodra ʼn kuratoriese beleid ontwikkel is.”

Price het gesê van die kwessies rakende die kunswerke is die manier waarop swart mense uitgebeeld word, in kontras met die gebrek aan enigiets soortgelyks rakende die uitbeelding van wit mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Magda ·

Wat hierdie studente vergeet… is dat die universiteit nie daar sou wees vir hulle om te studeer vandag nie. Die gelde was deur rhides verskaf om geleerdheud te skep. As ons van ander mense afhanklik sou wees was daar nue vandag huerdue instituut nie. Aanvaar dit sê dankue en beweeg aan.

Vic ·

Ai Breyten. Ek weet nou nie eens wat om te se nie. Is hierdie dan nie jou mense nie? Wat presies het jy gedink gaan gebeur, al daai jare toe jy so tevelde getrek het?

Fascistiese pampoen? ·

Gaan google Breyten se “kunswerke”, veral “Holy Scarefish”. Die feit dat sulke “kunswerke” op die ashoop lê besorg my nou nie slapelose nagte nie, inteendeel.

Vic ·

Ja Pampoen, is nou nie eintlik n liefhebber nie – dis net die stiksienigheid wat my so verwar

Oom Klasie ·

Ja ou Breyten meng jou met die semels… Jy het mos die ANC so aangehang.Hoe voel jy nou oor hulle? Die ANC wat alles tot in die grond gedryf het.Hulle is jou maatjies.Ek sien op Media 24 het jy hulle sterk aangespreek maar dis te laat ou Brytie.Jy was totaal blind oor waartoe hulle in staat is en woep daar byt hulle jou in die hakskeen.En wie kies jy nou of is jy maar n draadsitter?

Melkbosser ·

Ek loof Breyten vir sy bydrae tot die geveg vir regverdigheid en gelykheid. In my opinie verdien hy meer respek as baie ander wit mense wat hulle blind gehou het en hul bevoorregte posisies geniet het, sonder om ander in ag te neem of apartheid te kritiseer. Gelykheid vir alle rassegroepe is reg. Hy het vir n goeie doel baklei. Wat ons nuwe leiers doen met die mag wat hulle nou gegee is, na gelykheid, het niks met Breyten uit te waai nie. Hy het die regte ding gedoen, die ANC-leiers van vandag doen nie. Die 2 is totaal onverwand. En ek respekteer hom selfs meer omdat dat hy, eerder as die huidige situasie as rooskleurig bestempel omdat dit die resultaat is van waarvoor hy eens geveg het, dit veroordeel. Dit is n aanduiding dat hy objektief is. Kommentaar soos joune laat wonder my of daar regtig mense is wat kan dink diskriminasie teen die meerderheid was ‘n beter, regverdige, goddelike stelsel.

Justice ·

Breytenbach hierdie is die babatjie wat jy help grootmaak het – ek het absoluut geen simpatie met jou nie. Ek kan nie glo dat jy die broer van die hoog aangeskrewe Kol. Breytenbach is nie.

Gerhardt O ·

Punt 1: Hulle kan maar die Irma Stern vir my gee om “op te pas”. Ek seker ons sal ‘n goeie huis kry vir die “lastige” prent.

Punt 2: Geen mens is so belangrik dat sy foto in ‘n rooi jassie in ‘n openbare plek uitgestal hoef te word nie. Selfde geld vir staatsdepartemente , straatname en gebou name. Suid-Afrika het nog altyd die menslike verheerliking ding totaal oordoen. Al verskil is dat Jan Smuts nou OR Thambo is. Heeltemal verkeerd. As die studente dus wit gesigte met swart wil vervang ipv die beginsel toepas, dan is hulle maar net so vlak.

Leendert ·

Tydelik permanent, dis hoe mens dit moet lees. Tydelik, totdat almal daaraan gewoond is, dan maak hulle dit permanent.

M'Lady ·

Terwyl julle besig is, verwyder sommer die universiteit ook vir goed.

Niklaas ·

Arme ou Breytenbach sit sonder n land.Hy het destyds SA verlaat vir Nederland sodat hy die ANC kan bevorder en ons slegmaak.Nou is hy kwaad vir die ANC se kinders en ons wil hom nie he nienehalwe nou die libs. So hy sal nooit n Vaderland he nie. Hy het dit verruil vir die ANC wat dit vernietig.

Fanie ·

Ek beoordeel mense nie volgens wat hulle in 1978 gedoen het nie, maar wat hulle in 2017 doen. Breyten gebruik sy internasionale statuur om die huidige Faciste te beveg soos Max Price, die #Fall-beweging en die Skelmboschse Engelse Taalbulle. Ek geniet net sekere van sy werke, maar het respek vir al sy kuns. Soos ander volke Afrikaners is ‘n volk met talle menings- nie net ‘n faksie nie.

Adam ·

Fanie lekker om te sien daar is nog mense met insig. Breyten het nooit ooit geargumenteer dat SA se geskiedenis uitgewis moes word nie. Dit is deur ‘n klomp politieke maplotters post-1994 gepromoveer.

Ouma ·

Ag wat! Dit sal tog nie baat om beskuldigings rond te gooi nie! Die koel is deur kerk! Aanvaar maar die situasie waarin ons ons nou begewe en maak maar die beste van ‘n saak! Onthou net: gedanesake het geen keer! Vader het dit dalk alles so beplan dat meer outjies se ogies oopgaan!

Hardus ·

Party mense se ogies het te laat oopgegaan en ander sukkel nog om oop te gaan en vir hulle is dit helaas te laat.

John ·

Die kunswerke wat glo so ‘pla’ gaan teen rekordpryse nuwe base kry of in sekere mense se kluise rus vind. Glo iemand regtig dat die universiteit nie die waarde van die ou kunsskatte besef nie. Ha… ha… En so reis ons kuns ook per rubberboot, mooi toegedraai, na die vreemde…

E.K. ·

Ek sal met graagte die kunswerke vat! Ek weet wat ‘n Irma Stern en Cecil Skotnes kan haal op veilings so as julle dit nie wil hê nie, laat weet en ek kom haal dit, julle klomp dommies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.