UK-klasgelde verhoog in 2018

Die Universiteit van Kaapstad. Foto: https://www.news.uct.ac.za

Die raad van die Universiteit van Kaapstad (UK) het Vrydag aangekondig klasgelde sal vanaf volgende jaar met 8% verhoog, terwyl akkommodasiegelde met 10% sal verhoog vir studente wat in koshuise bly. Koshuismaaltydopsies styg met 12% persent.

Dr. Max Price, visekanselier van die UK, het in ʼn verklaring gesê die universiteit het eers gewag om ʼn aankondiging hieroor te maak omdat daar nog “aansienlike onsekerheid was oor hoe en wanneer die beleid wat deur die president aangekondig is, geïmplementeer sal word”.

Hy het verwys na pres. Jacob Zuma se aankondiging verlede week dat gratis tersiêre onderrig vir arm- en werkersklas-eerstejaarstudente vanaf volgende jaar geïmplementeer gaan word.

“Die besluit om klas- en koshuisgelde by die UK te verhoog, is nie ligtelik geneem nie – veral gegewe die huidige atmosfeer op universiteitskampusse regoor Suid-Afrika,” het Price gesê. Hy het gesê die besluit is geneem nadat daar met lede van die studenteraad gekonsulteer is en dat die besluit die goedkeuring van die universiteit se finansies-komitee wegdra.

“Die UK se gelde mag dalk blyk om hoog te wees in vergelyking met ander universiteite in die land. Maar wanneer daar vergelykings getref word, moet mens daarop let dat, in teenstelling met die meeste ander universiteite, die UK se klasgelde allesinsluitend is. Dit beteken dat, in teenstelling met die meeste ander universiteite, vra ons nie addisionele gelde vir dienste soos internet, WiFi, biblioteke, rekenaarsentrums, die Jammie-bussie, laboratoriummateriaal, fasiliteite vir studente met gestremdhede en ander fasiliteite nie,” het Price gesê.

“Die UK voorsien ook gratis skootrekenaars aan eerstejaarstudente wat deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) befonds word en nie hul eie rekenaars het nie.”

Price het ook genoem dat die UK bydra tot NSFAS-studente se onkoste as hul NSFAS-beurs nie voldoende is om al hul uitgawes te dek nie.

“Vir studente wat uit huishoudings kom wat bó die NSFAS-drempel val, maar wie se gesinne minder as R600 000 per jaar verdien, sal die UK voortgaan om, soos in die verlede, finansiële hulp beskikbaar te stel in die vorm van lenings,” het hy gesê.

Price het verduidelik die verhoging in klasgelde is ingestel om die universiteit se bestaande uitgawesbasis te dek, terwyl die verhoging in koshuisgelde die koste van die uitbreiding van koshuise se kapasiteit sal dek. Die verhoging in maaltyduitgawes word toegeskryf aan inkontraktering wat ʼn styging in arbeidskoste tot gevolg gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Wat my aanbetref as iemand R600000.00 n jaar verdien dan is hy beslis nie arm nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.