UK sif deur puin ná verwoestende vlamme

Daar is vandeesweek deur die puin gesif. (Foto: Lerato Maduna/www.news.uct.ac.za)

Die brand wat verlede naweek aan die voet van Tafelberg uitgebreek en na die Universiteit van Kaapstad (UK) versprei het, het skade van amper onskatbare waarde aangerig. Historiese artefakte en jare se navorsing is daarmee heen en werkers moet nou begin planne maak om te herbou.

Prof. Timm Hoffman was een van talle werkers by die UK wat die afgelope week toegelaat is om ná die verwoestende brand op die kampus na sy kantoor terug te keer en deur die as te sif om te probeer red wat hy kan.

Hy het met niks weggestap nie, sê Hoffman, direkteur van die UK se Plantbewaringseenheid.

Talle ander mense het nes Hoffman in afgryse toegekyk hoe die verterende brand wat aan die voet van Tafelberg uitgebreek het, deur die Rondebosch-omgewing – en toe selfs verder – versprei het.

Dit was egter toe die vlamme die UK-kampus bereik en verskeie geboue in ligte laaie begin opgaan het, dat die verwoesting ook tot ʼn gevoel van absolute verslaentheid gelei het.

Opruimingswerk en ʼn omvattende skadebepaling is nog nie afgehandel nie, maar al hoe meer is bekend van die onvervangbare en onskatbare erfenis wat in vlamme opgegaan het. Prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die UK, het Sondag as ʼn “hartseer dag” vir die universiteit bestempel en sê die verlies gaan diep in die gemeenskap gevoel word.

Omvang van skade

Een van die geboue wat in die slag gebly het, was die Jagger-biblioteek – tuiste van die merkwaardige Afrikastudies-versameling wat reeds in 1954 begin is. Die versameling van nagenoeg 70 000 gepubliseerde monografieë dek Afrika suid van die Sahara en sluit in nasionale afdrukke van die hele vasteland, asook werk wat in Europa en Noord-Amerika gepubliseer is.

Onmeetbare skade is aan die Jagger-biblioteek aangerig. (Foto: Lerato Maduna/www.uct.news.ac.za)

Die versameling het veral werk oor gender- en mediastudies bevat, asook materiaal oor MIV/vigs en debatte oor die aard van Afrikastudies as vakrigting.

Daar was ook ʼn belangrike versameling oor Suid-Afrikaanse tale wat in die 1950’s aan die universiteit geskenk is. Die versameling het geloof- en skoolhandboeke, woordeboeke en grammatikaboeke bevat. Sommige van die werke in die versameling is in die 19de en vroeë 20ste eeu gepubliseer en was uitsonderlik skaars.

Dit is in puin gelê.

Die brand het die Jagger-biblioteek se dak laat ineenstort en die galerye, aangrensende store en kantore verwoes.

“Die span by UK-biblioteke kan bevestig dat die argief- en gepubliseerde drukversamelings in die leeskamer deur die vlamme verteer is,” sê Phakeng.

Brandbestryders veg verbete om een van die geboue op die kampus te red. (Foto: Rodger Bosch/www.uct.news.ac.za/AFP)

Dit sluit in die meeste van die sowat 70 000 items in die drukversameling, die hele Afrikastudies-filmversameling op DVD – sowat 3 500 items – al die UK-universiteitskalenders, sommige staatspublikasies van Suid-Afrika en die res van die vasteland, manuskripte en argiewe wat in die biblioteek vir verwerking of digitalisering gehou is.

ʼn Besondere verlies vir die UK self is die verwoesting van die oorspronklik kaartkatalogusse vir die manuskrip- en argiefbewaarplekke, die geskiedenis van UK-biblioteke, en die spesiale versameling argiefkantoor- en administrasierekords.

ʼn Lys van alle items wat beskadig is, sal beskikbaar gemaak word sodra die opname afgehandel en alle donateurs en eienaars van die verskillende versamelings op die hoogte van die situasie gebring is.

Michal Singer, hoofargivaris, het die afgelope week gesê die universiteit soek reeds na oplossings om te begin herbou en maniere om enige toekomstige skade te verhoed.

Enorme verlies

Prof. Timm Hoffman, direkteur van die UK se Plantbewaringseenheid, kon niks uit sy kantoor red nie. (Foto: UK)

Hoewel heelwat aandag gevestig is op die groot skade aan die Jagger-biblioteek, was dit nie die enigste gebou op die kampus waar onmeetbare skade aangerig is nie. Ook die HW Pearson-gebou, tuiste van die departement van biologiese wetenskap, is erg beskadig.

Hoffman sê hy het die afgelope week teruggekeer na wat vantevore sy kantoor op die vyfde verdieping in die noordelike vleuel van die gebou was. Daar was niks wat hy kon red nie. “Dit is heeltemal verteer. Daar is geen dak, dokumente of meubels nie. Daar is niks nie. Alles het verkool,” sê hy.

In die suidelike vleuel, waar die Instituut vir Gemeenskappe en Wildlewe in Afrika (iCWild) geleë is, was die skade ook enorm, hoewel nie naastenby so groot nie, en talle items daar kon wel gered word.

Die wêreldberoemde Bolus Herbarium, wat reeds in 1865 begin is en uit nagenoeg 350 000 plantspesies bestaan, is bykans ongeskonde. Dit is in dieselfde gebou geleë, maar ʼn verdieping laer.

“Dit is absoluut onvervangbaar en asof deur ʼn wonderwerk is dit bykans ongeskonde,” sê Hoffman.

Die biblioteek van die Bolus Herbarium voor die brand. (Foto: UK)

Die Bolus-biblioteek is vermoedelik heeltemal verwoes.

“Al my rekords, my foto’s… alles is verwoes. Ek het net weggestap. Daar was niks oor nie. Ek het voor die tyd foto’s van die brand gesien en myself begin voorberei, maar ek het gehoop daar is iets. Nie eens my kameras het dit gemaak nie. Rekenaars, mikroskope, stoele, tafels … alles is weg.”

Hoffman sê hy was besig om talle van sy foto’s – in ʼn versameling waaraan hy reeds 25 jaar lank werk – te digitaliseer. Dit is nou permanent verlore.

Hy sê hoewel van die duurder toerusting en die geboue tot ʼn mate deur die universiteit verseker is, is daar ʼn massa geskiedkundige argiefmateriaal wat net nooit vervang sal kan word nie.

“Dit was ʼn verskriklike tragiese en katastrofiese gebeurtenis, maar die mens se gees is veerkragtig. Jy probeer om betekenis in alles te vind. Dit voel soos ʼn aanslag op jou wese. Soveel van jou identiteit word met jou werk verbind, dat ʼn mens jouself afvra: ‘Wie is ek nou?’”

Verskeie items kon wel uit die Jagger-biblioteek gered word. (Foto: Lerato Maduna/www.uct.news.ac.za)

Hoffman sê danksy die ongelooflike steun van nie net die universiteitsbestuur nie, maar ook mense wêreldwyd – studente, oudstudente, kollegas, vriende – kom daar egter ook ʼn besef dat die werk wat reeds gedoen is en die uitwerking wat dit op soveel mense se lewe gehad het, nooit uitgewis kan word. En dit sal weer voortgaan.

“Die geskiedenis is nie uitgewis nie; jou bydrae het nie verlore gegaan nie.

“Ja, dit is absoluut tragies en verskriklik, maar dit dwing jou ook om aan geleenthede te dink.”

Hoffman sê hy hoop die gebeure is ook ʼn wekroep vir diegene – veral studente – dat die doelbewuste plundering van onderwysinstellings nooit ʼn opsie mag wees nie.

“Dit is so kosbaar. As ek die doelbewuste skade aan ander kampusse sien, sink my hart.”

Pad vorentoe

Alternatiewe blyplek word gevind vir studente wat nog nie na hul koshuise kan terugkeer nie. (Foto: Facebook)

Daar is vandeesweek steeds deur die puin gesif. Soms was daar goeie nuus. In sommige gevalle was die skade minder erg as wat aanvanklik vermoed is en verskeie items in onder meer die Jagger-biblioteek kon gered word. Heelwat daarvan het egter waterskade opgedoen toe die vlamme geblus is.

Phakeng sê die onderskeie dekane werk nou saam met departementshoofde en beroepsveiligheidsbeamptes om alle geboue te inspekteer. Soos wat dit veilig verklaar word, sal dit vir gebruik oopgestel word.

“Waar daar beduidende skade aangerig is, sal die proses uit die aard van die saak langer duur. Die spesiale versamelings, die biologiese wetenskap-fasiliteite wat in die Pearson-gebou gehuisves is en die boonste kampuskoshuise, is ʼn spesifieke bron van kommer.

“Ons kyk egter na maniere om die uitwerking van die verliese op akademiese werksaamhede te verminder,” sê sy.

Studente sou die afgelope week weer na koshuise begin terugkeer, behalwe in gevalle waar die geboue steeds onveilig is. Alle akademiese bedrywighede is ook voorlopig tot Vrydag afgelas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Edward Donald ·

Hartseer verby en die brandstigter kry gratis verblyf & maaltye.

Edward Donald ·

Een verdagte is reeds gearresteer. Daar word vermoed dat die oorsaak brand stigting was. Die saak word nog ondersoek.

SomeOne ·

die verdagte was ‘n verkeerde wese wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek gekry is

Snowball ·

‘n Buitelander (Tanzaniër) wat ter plaatse kom plak het was een van die brandstigters. Van SA sal uiteindelik net ‘n puinhoop of ‘n mishoop oorbly, danksy geen grensbeheer en ‘n instroming van al wat haweloos, ongeletterd, besnotterd en betraand is; natuurlik met ope arms verwelkom deur die useless ANC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.