UK-student verdwyn in see by Koffiebaai

Argieffoto: NSRI, Facebook

Argieffoto: NSRI, Facebook

ʼn Buitelandse student van die Universiteit van Kaapstad (UK) het Sondagaand vermoedelik in die see by Koffiebaai in die Oos-Kaap verdrink.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gesê die 19-jarige Amerikaanse student het die aand omstreeks 23:00 saam met vyf ander vriende gaan swem. Hulle het glo by ʼn oord net suid van Koffiebaai vakansie gehou en was deel van ʼn groep van 11 studente.

Die student het glo in die moeilikheid geraak terwyl hulle geswem het en het kort daarna in die golwe verdwyn.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê die student se vriende het hom probeer opspoor en personeel van die vakansieoord is geroep om met die soektog te help. Die polisie is later ook ingeroep, maar die soektog was tevergeefs.

ʼn Helikopter van die SA Lugmag en die NSRI se seereddingspan kon nie gestuur word om met die soektog te help nie weens gure weer. Die polisie se K9-soekeenheid en reddingspan, die polisieduikeenheid en die Oos-Kaapse rampbestuureenheid is uiteindelik ook ingeroep, maar die afgeleë gebied en moeilik toeganklike terrein het beteken dat die reddingspanne eers teen Maandag om 10:00 kon begin soek.

Volgens Lambinon het vyf helikopters heeloggend op bystand gebly indien die weerstoestande sou verbeter, maar die weer het eers in die middag begin opklaar. “Nadat ʼn uitgebreide soektog reeds uitgevoer is, is besluit om ʼn helikopter-soektog te laat vaar,” het Lambinon gesê.

Daar word aangeneem dat die jong student verdrink het. “Die familie van die vermiste student in die VSA word deurentyd op die hoogte gehou van die verwikkelinge en die VSA-konsulaat het ʼn span na die toneel gestuur om te help,” het hy gesê.

Die polisie gaan Dinsdag steeds met ʼn soektog voort en sal die voorval ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

Om bykans middernag in die see te wil gaan swem is moeilikheid soek, inteendeel in die donker in enige dam water. Mens kan seker dink maar nie sê . . .

Winston ·

Hier om ons kus is van die gevaarlikste plekke om te swem. In die nag swem jy nie in die see nie, tensy jy maak soos Peet dink……Haaie is nie geblikte leeus nie. Kon iemand nie die arme seun daarop gewys het nie?

MJL ·

Hoekom sou ‘n Amerikaner na ‘n Suid Afrikaanse Universiteit toe wil kom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.