UK-studente ‘gryp en hardloop’ toe koshuise brand

Die Smuts Hall-manskoshuis by die Universiteit van Kaapstad is deur die brand beskadig. (Foto: Facebook)

“My vriend het gegil dat die dak aan die brand is en ons het net ons goed gegryp en uitgehardloop. Ek kon rook en vlamme buite my kamervenster sien.”

Só het Thomas Stern, ’n derdejaarstudent in elektriese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad (UK) en inwoner van die Smuts Hall-manskoshuis, gesê. Dié koshuis is een van verskeie geboue op die UK-kampus wat beskadig is deur die brand wat Sondagoggend teen die hange van Tafelberg ontstaan het.

“Daar was oral rook. Ons was besig om te pak om te ontruim en kon skaars iets buite sien. Ons het nie besef dat die dak aan die brand is nie,” het Stern gesê.

Die boodskap het oor die koshuis se interkom gedreun en almal het na buite gehardloop. Alle studente is veilig uit die gebou verwyder.

“Ek was paniekbevange en wou net so gou as moontlik daar uitkom. Dit het regtig vinnig gebeur,” het Stern gesê.

Siphosihle Letsoso, ’n derdejaar musiekstudent en inwoner van die Fuller Hall-dameskoshuis, sê die gebeure het baie skielik ontvou.

“Een oomblik het ons nog die rook op die berg gesien en helikopters gehoor en die volgende oomblik moes ons ontruim. Buiten my foon het ek net my badsakkie, beursie en skootrekenaar gegryp en uitgehardloop,” het sy gesê.

Matthew Field, ’n lid van die UK-studenteraad (SR) en derdejaarstudent in ekonomie en regte, het gesê dat hy in Kirstenbosch was toe hy die brand gewaar het.

“Ek het net rook en rooi [gloed] gesien en my na kampus gehaas.” Field en sy mede-SR-lede was deel van kampusspanne wat moes help om studente veilig uit die geboue te kry.

“Ek is trots op die dapperheid wat die studente openbaar het,” het Field gesê.

Hy help tans om benodigdhede vir die meer as 4 000 studente wat dringend ontruim moes word in te samel, waaronder toiletware, kos en klere. Field kan by 082 467 3029 gekontak word vir meer inligting omtrent donasies.

Intussen het prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die UK, Dinsdag aangekondig dat die universiteit sy akademiese program tot Vrydag 23 April staak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.