Die Universiteit van Kaapstad (UK) het Dinsdag aangekondig hy het wel besluit om sy klasgelde vir 2017 te verhoog.
“Die raad het die implementering van ʼn 8% algemene verhoging in klasgelde en ʼn 10% verhoging in akkommodasiefooie vir studente, met ʼn huishoudelike inkomste van meer as R600 000, goedgekeur,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê. “Die raad wys daarop dat, aangesien daar geen fooiverhoging in 2016 was nie, dit neerkom op ʼn jaarlikse verhoging van 4% in klasgelde en 5% vir akkommodasie en etes.”
Volgens die UK sal studente uit huishoudings, wat minder as R600 000 per jaar verdien, geen klasgeldverhogings betaal nie. “Die raad sal voortgaan met die UK se unieke finansiële hulpskema om studente van die sogenaamde ‘missing middle’ te ondersteun. Geen studente wat in hierdie groep val en wat op grond van akademiese prestasie aanvaar is, sal verhoed word om by die UK te studeer om finansiële redes nie.”
Die UK het verder genoem eerstejaarstudente, wat deur die nasionale finansiëlehulp-skema vir studente (NSFAS) befonds word, sal vir die eerste keer in 2017 ook gratis skootrekenaars van die universiteit ontvang.
Die departement van hoër onderwys en onderrig het vroeër onderneem om ʼn toelaag aan elke student wat wel daarvoor in aanmerking kom te gee om die 8% verhoging in klasgelde te dek. Die UK het onderneem om die addisionele 2% verhoging in akkommodasiekoste te dek vir sy studente wat daarvoor in aanmerking kom.
Die UK het gesê verskeie faktore, soos onder meer inflasie, salarisverhogings, tariefverhogings en wisselkoers-devaluasie, wat die instansies se biblioteke en laboratoriums beïnvloed, maak dit noodsaaklik vir die UK om verhogings in fooie te implementeer. Sipho Pityana, die voorsitter van die raad, het gesê die universiteit wil nie graag fooiverhogings instel nie, maar dit is onvermydelik.
“As ons nie die fooie verhoog nie, sal ons doodgewoon nie dienste op dieselfde vlak kan lewer nie. Ons is dankbaar daarvoor dat ons wel die arm en ‘missing middle’-studente van verhogings kan beskerm,” het hy gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
4 Kommentare
die instansie maak my naar met julle onderdanige [email protected]
Wat van huishoudings wat 550000 perjaar verdien.Is daar ń glyskaal. En hoe kontroleer mens dit .Ekstra admin. En wie lieg dalk oor sy inkomste????vra maar net.
JP, diegene wat nou die afgelope jaar, sê R550,000 verdien het, die het nou sekerlik ‘n verhoging gekry, so hulle sal dan nou seker komende jaar dalk meer as R600,000 verdien, en die volgende jaar nog meer, ensovoorts. So ek neem dan aan hulle betaal dan weer die verhoogde gelde.