UKZN se #FeesMustFall-leier weer in hof

Betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal (10 Oktober 2016)  Foto: @WitnessKZN, Twitter

Betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal (10 Oktober 2016) Foto: @WitnessKZN, Twitter

Die leier van die #FeesMustFall-veldtog by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) het Maandag vir die tweede keer in net meer as ʼn jaar in die Pinetown-landdroshof verskyn vir sy beweerde aandeel in die betogings.

Lukhanyo “Bhanda” Mtshingana het vlugtig in die hof verskyn op aanklagte dat hy aan ʼn onwettige betoging deelgeneem en sodoende ʼn hofinterdik verontagsaam het. Mtshingana is Donderdag in hegtenis geneem terwyl hy op pad was van Pietermaritzburg na Durban.

Die student se hofverskyning is net meer as ʼn jaar nadat hy in hegtenis geneem is op aanklagte van brandstigting, opsetlike saakbeskadiging, openbare geweld en oortreding van ʼn hofinterdik. Hy is in September verlede jaar in hegtenis geneem nadat UKZN se administrasiegebou aan die brand gesteek is, wat meer as R30 miljoen skade aan die gebou veroorsaak het.

Mtshingana is op 23 Oktober verlede jaar op borgtog vrygelaat nadat hy 31 dae agter tralies deurgebring het. Die saak is nooit vervolg nie en die aanklagte teen hom is later voorlopig teruggetrek. Die hof het Maandag die saak teen Mtshingana uitgestel tot 8 November sodat die saak na die plaaslike staatsaanklaer verwys kan word.

Terwyl Mtshingana in die hof verskyn het, is twee brande op die UKZN Pietermaritzburg-kampus begin. Lesiba Seshoka, die universiteit se woordvoerder, het gesê vyf studente is ook in hegtenis geneem nadat hulle geweier het om gehoor te gee aan die polisie se waarskuwing dat hulle ʼn hofinterdik oortree.

“Die groep het op die biblioteek se grasperke saamgedrom. Die SAPD het die groep gewaarsku dat hulle die interdik oortree, maar die betogers het die SAPD met klippe bestook,” het Seshoka gesê. ʼn Verbyganger is beseer en moes na ʼn hospitaal geneem word.

Seshoka het gesê twee personeellede is ook in hegtenis geneem, maar is later vrygelaat aangesien die hofinterdik nie van toepassing is op personeel nie.

“Ons het berigte ontvang van twee voorvalle van brandstigting op die Pietermaritzburg-kampus waartydens ʼn tafel in die studenteraadgebou en boeke in die biblioteek aan die brand gesteek is,” het hy gesê. Albei brande kon geblus word voordat dit versprei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Jinne, Lion vuurhoutjie verkope skiet seker die hoogtes in!

Jean ·

Pos hulle. As gewone SA burgers dit doen, word hulle in hegtenis geneem en toegesluit, hoekom moet die ‘studente’ met alles wegkom? Hanteer hulle soos volwassenes, ook in ‘n court of law.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.