UKZN toets eie vuurpylenjin

Die Howard-kollege van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). (Foto: UKZN)

Die Universiteit van KwaZulu-Natal se navorsingsgroep oor lugvaartstelsels, genaamd ASReG, het sy eie kragtige vuurpylenjin, wat op vloeibare dryfmiddels werk, suksesvol getoets. Dit is die eerste stap in die rigting van die ontwikkeling van ’n lanseervoertuig om satelliete in ’n wentelbaan om die aarde te plaas.

Luidens ʼn verklaring deur die universiteit uitgereik, het die toets van die vuurpylenjin oor ’n tydperk van drie weke by Denel se Overberg-toetsbaan in die Wes-Kaap plaasgevind.

“Tien meganiese ingenieurstudente het die vuurpylenjin op ’n toetsstaander gesit om sy werkverrigting te meet. Die enjin gebruik vloeibare suurstof en stralerbrandstof om stootkrag  van net minder as twee ton te produseer. Dit is soortgelyk aan enjins wat die nuutste klein satellietlanseringsvoertuie aandryf,” lui die verklaring.

“Vir die toets van die enjin het studente ook ’n moderne toetsfasiliteit ontwerp, wat bestaan uit opgaartenks vir dryfmiddels, ’n outomatiese enjinbeheerstelsel en ’n stootstaander om die enjin regdeur sy werking te beperk.”

Die ASReG-groep ontwikkel ontwerpe vir ’n kommersiële lanseervoertuig wat in staat is om satelliete wat tot 200 kg weeg in ’n wentelbaan te plaas vir kommunikasie, omgewingsmonitering, landbou en aardwaarnemingsdoeleindes. Die suksesvolle werking van die enjin sal die groep in staat stel om te begin werk aan ’n vluggewig-enjin om die voorgestelde vuurpyl aan te dryf.

“Met die ontwikkeling van hierdie vuurpylenjin het UKZN sy posisie as ’n Suid-Afrikaanse sentrum van uitnemendheid in lugvaart-aandrywingsingenieurswese verder versterk. “

Die einste navorsingsgroep het in Maart vanjaar Afrika se hibriedvuurpyl-hoogterekord gebreek toe dit ’n Phoenix-vuurpyl suksesvol tot 18 km gelanseer het. Die ASReG-groep se nuutste ontwerp is egter ’n ander soort enjin wat op vloeibare dryfmiddels werk eerder as die vastestof en vloeibare kombinasie van die Phoenix-vuurpyl.

“Die bemeestering van vloeibare vuurpylenjintegnologie plaas die universiteit en sy navorsingsgroep in ’n sterk posisie om die ontwikkeling van ’n kommersiële lanseervoertuig te versnel. Die uiteindelike doelwitte is om ’n satellietlanseringsvermoë vir Afrika te skep, Suid-Afrika se inheemse satelliet- en ruimtedatabedrywe te ondersteun en te verseker die land is gereed vir die Vierde Industriële Revolusie.”

Die ASReG-groep se navorsing word ondersteun deur die departement van wetenskap en innovasie, wat die navorsing oor vloeibare vuurpylontwikkeling, sowel as die betrokke studente, ten volle befonds. Die groep bestaan uit meester- en doktorale ingenieurstudente.

“Die departement is uiters trots om deel van hierdie baanbrekende inisiatief te wees,” het Humbulani Mudau, hoofdirekteur van die departement se afdeling van ruimtewetenskap en ‑tegnologie, gesê.

“Die projek demonstreer die kaliber van jong ingenieurs wat ons in hierdie land het. Nie net in die studie wat ons suksesvol afgelê het nie, maar ook in die voorbeeldige werksetiek, toewyding en dryfkrag wat die span openbaar.”

Dr. Jean Pitot, die enjinprogrambestuurder by die universiteit, het gesê die oorweldigende sukses van die toets van die vuurpylenjin getuig van die vermoë van jong Suid-Afrikaanse ingenieurs om wêreldwyd mededingende oplossings vir vandag se groot ingenieursuitdagings te vind.

“Die vinnige tempo waarteen die samelewing se interaksie met die ruimte oor die afgelope dekade ontwikkel het, was verstommend. Dit sal waarskynlik versnel namate die dienste wat deur ontluikende ruimtegebaseerde ondernemings aangebied word, ’n integrale deel van ons daaglikse lewens word,” het Pitot gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ᛄᚪᚾ ·

Opvallend dat geen melding gemaak word van die Suid Afrikaanse ruimteprogram in die 80’s nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.