UKZN verskerp veiligheid ná rooftogte

Die Howard-kollege van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). (Foto: UKZN)

Die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) gaan veiligheid op sy kampusse en universiteitskoshuise opskerp ná twee rooftogte die afgelope maand. Die voorvalle het binne ’n week van mekaar gebeur en dít kort nadat 10 personeellede in die pad gesteek is.

Die universiteit ondersoek nou die omstandighede rakende die voorvalle, waaronder bewerings dat personeellede moontlik daarby betrokke was.

Normah Zondo, woordvoerder van die universiteit, sê 10 personeellede van die universiteit se risikobestuursdienste-afdeling is vroeër vandeesmaand geskors. Dit is onduidelik waarom dit gedoen is.

Drie onbekende mans het wel kort daarna in die vroeë oggendure van 14 April by die EG Malherbe- hoofbiblioteek op die Howard College-kampus ingestap en vyf studente beroof. Drie skootrekenaars en vyf selfone is onder meer geroof.

’n Rooftog is ook ’n week vantevore by ’n koshuis van die UKZN aangemeld. Twee verdagtes is sedertdien in hegtenis geneem en sou verlede week in die hof verskyn.

Zondo sê die universiteit is bewus van pogings om lesings en ander aktiwiteite te ontwrig en daar is ook sprake dat klasse dalk vandeesweek ontwrig gaan word.

Die universiteit het dit egter duidelik gestel dat geen klasse tot dusver opgeskort is nie.

Die universiteit verskerp wel veiligheidsmaatreëls en het met die studenteraad oor die kwessie vergader, sê Zondo.

Bykomende veiligheidsmaatreëls sluit in die ontleding van die gebruik van biblioteke en ander studentefasiliteite wat ná ure oop is en die verskerping van dié fasiliteite se sekerheid.

Die moontlikheid van ’n tolvrye nommer, waar voorvalle aangemeld kan word, word ook tans ondersoek.

Die universiteit stel ook 20 nuwe personeellede vir sy risikobestuursdienste-afdeling aan en beplan om nóg 20 personeellede in die komende maande te werf in ’n poging om sekerheid op te skerp.

Zondo sê dit is verstaanbaar dat die onlangse voovalle kommer en angs by personeel en studente van die UKZN veroorsaak het. Sy gee wel die versekering dat die universiteit die saak baie ernstig opneem.

“Ons wil beklemtoon dat ons kampusse voortgaan om soos gewoonlik te funksioneer, en die universiteit is daartoe verbind om die veiligheid en sekerheid van alle studente, personeel, gaste en eiendom te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Anargie staat waar wettelose oortreders wat uitgevang word als om hulle verwoes.

Watsenaam ·

Hier is n onverwante ding wat sopas in Richards Baai KZN plaas gevind het. n Lid van my familie bel my met die volgende:
Ek stap by die plaaslike lisensie kantore in om my nuwe voertuig waarvan die tyelike lisensie in n dag of twee verval te registreer. Baie bly dat die altyd besige kantoor omtrent geen klient in het nie stap ek tot by die toonbank, Ek vertel die dame agter die toonbank wat ek wil doen. Haar reaksie……”sorry si,r we have run out of registration numbers”. Sy wys my na die nota op die kantoor afskorting dit sê “we have run out of motor registration numbers.” wat nou, Dis omtrent die toppunt van onbevoegdheid. ‘n Knaende siekte in Suid Afrika. hoe nou gemaak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.