Ultimatum aan ANC-raadslid gestel om te bedank

Andile Lungisa. Foto: ANA.

Die ANC het ʼn ultimatum aan Andile Lungisa gestel om teen Woensdag as raadslid van die Nelson Mandelabaai-metro en partylid te bedank of andersins skorsing in die gesig te staar.

Die ANC se taakspan in die streek het dié ultimatum Sondag in ʼn brief aan Lungisa gerig. In die brief is Lungisa opdrag gegee om sy bedanking binne die volgende 72 uur in te dien. Die provinsiale uitvoerende komitee is ook versoek om Lungisa se lidmaatskap van die party onmiddellik op te skort.

Dit volg na die afgelope naweek se spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Lungisa is ʼn teenstander van pres. Cyril Ramaphosa en ʼn groot bondgenoot van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Hy het verlede week ʼn brief aan die ANC se topses-leiers gestuur waarin hy Ramaphosa daarvan beskuldig het dat hy in 2017 stemme gekoop het om die ANC-leierskap te wen.

Ramaphosa het die naweek op die bewerings gereageer deur te sê hy sal homself aan die ANC se integriteitskomitee onderwerp.

Maroela Media het vroeër berig Lungisa is in 2018 aan aanranding skuldig bevind. Hy is in die Port Elizabeth-landdroshof skuldig bevind nadat hy Rayno Kayser, DA-raadslid, met ʼn glasbeker oor die kop geslaan het.

Hy is tot twee jaar tronkstraf gevonnis, maar het in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) teen die vonnis geappelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Hoekom hom vra om te bedank? Fire die hele lot van julle man! Agter wie skuil jy Cyril? Kopdoek? Jy’s nie in staat om die hele lot te fire nie en versoek links en regs almal om terug te staan of die klomp bollie nou. Korrupsie en magsmisbruik, BLM, aanhitsing van rassisme, moord en roof, verkragting en die lys gaan aan laat jy alles toe. Dis hoekom die land in so ‘n gemors is. Dwing gesag af en slaan jou eie kitaar man en sit jou mense in oranje pakkies regtig

Moedeloos ·

Het die saak al ooit weer voorgekom nadat hy geappelleer het? Kom MM vertel vir ons hoever is die saak asb.

JohanR ·

‘n ANC self bedank! Al gebeur dit sal hy net weer die volgende week iewers anders aangestel word. And the cadre train goes round and round…..

Wielspore ·

Bedank, dan gee ons jou ‘n skoon rekord, jy ontvang ‘n bonus en kry ‘n pakket, ons verskuif jou na ‘n ander dorp sodat jy kan voortgaan om die gelkis te stroop.

Johann ·

Hyt seker n nuwe possi effe hoër op die payroll! Lekker nuwe pay plus bennifits en dan word hy suspend MET pay. Is mos deesdae die ANC se belonings praktyk.

Spook ·

Ace het nog groter probleme. Hy is oppad om sy joppie te verloor. Oral haal hulle sy sikofante uit die warm stoele. Ace gaan hom nie steur aan ‘n raadslidjie in PE nie, veral omdat die rakker ook hard stoei om uit die tronk te bly.

Johannes Andries ·

As hy geskors word moet dit permanent wees en sonder salaris.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.