Ultimatum aan MRK weens traagheid om teen Zuma se seun op te tree

Edward Zuma (Skermgreep uit YouTube-video)

Die VF Plus het vandag ʼn ultimatum aan die Menseregtekommissie (MRK) gestel om teen komende Vrydag teen Edward Zuma op te tree en hom na die gelykheidshof te neem.

Indien dit nie gebeur nie, sal die VF Plus die MRK aangee by die openbare beskermer (OB) weens die wanbestuur van fondse deur sake selektief te ondersoek en sodoende belastinggeld te misbruik, het Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, in ʼn verklaring gesê.

Die VF Plus sal ook ʼn klag teen die MRK indien by die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir Menseregte ingevolge die Parys-beginsels wat deur Suid-Afrika ondersteun word en wat die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie rig.

Alberts sê dit is nou duidelik dat die internasionale beginsels verbreek word wat vereis dat alle menseregte beskerm en bevorder moet word.

“Daar is geen twyfel nie dat Edward Zuma se uitsprake haatspraak daarstel en deur hom nie te vervolg nie, is die MRK besig om die mense van Suid-Afrika in die steek te laat. Dit kan nie langer geduld word nie.

“Die skokkende rassistiese uitlatings van Edward Zuma, pres. Jacob Zuma se seun, en die MRK se ewe skokkende besluit om hom grasie te gee om ‘verskoning’ daarvoor te vra, kan geen twyfel meer laat nie dat die MRK self op rasgegronde wyse selektief optree na voorvalle van rassisme.

“Hierdie versuim van die MRK om ewewigtig op te tree is nie net oneties en onaanvaarbaar nie, maar dit dra grootliks by tot ʼn kultuur van onverdraagsaamheid en rasverdelende uitsprake teen wittes in die algemeen aangesien die oortreders duidelik van mening is dat hul uitsprake straffeloos sal bly.”

Edward Zuma het oud-minister Derek Hanekom verlede week in ʼn ope brief ʼn “walglike wit hond” genoem wat “opgelei is om swart mense te verskeur”.

“In plaas daarvan om onmiddellik stappe te doen, is hy verlede week 48 uur kans gegun om jammer te sê. Vergelyk dit met die snelle optrede teen wit mense soos Penny Sparrow en Sunette Bridges. Teen vandag (Dinsdag, 1 Augustus) om twee-uur, nadat die 48-uur spertyd verstryk het, was daar geen verskoning nie en is daar nog net stilte van die MRK oor die voorval.

“Dit blyk dat die MRK nie die wil het om hoëprofiel-persone te vervolg nie. Een van die frustrerende gevalle was die klag wat die VF Plus teen Brian Molefe ingedien het toe hy na bewering as destydse uitvoerende hoof van Transnet die Transnet-pensioenarisse belaster en hulle gedreig het indien hulle optogte sou hou. Die saak was bloot op tegniese punte afgewys.

“Die VF Plus voer ʼn jarelange stryd met die MRK om dié liggaam te oorreed om sonder voorbehoud op te tree in gevalle van erge rassistiese uitsprake, haatspraak en opsweping tot geweld wat duidelik deur die wet verbied word.

“Verskeie klagte is oor die jare ingedien teen onder andere pres. Jacob Zuma, Julius Malema en van sy ondersteuners wat gruwelike uitlatings op sosiale media gemaak het teenoor wittes. Ook daarvan het absoluut niks gekom nie. Die VF Plus het selfs gevind dit is moeilik om antwoorde te kry oor die vordering, indien enige, met hierdie klagtes.

“Teen hierdie agtergrond van hierdie onwilligheid om op te tree, het die VF Plus reeds in 2015 ingevolge die Paia-wet inligting van die MRK gevra oor sy ondersoeke en optrede in ʼn poging om rasse-bevoordeling uit te wys.

“Die MRK se antwoord was dat hy nie inligting oor die rasseprofiele van klaers en/of oortreders byhou nie. Dit VF Plus vind dit onverstaanbaar aangesien dit die MRK juis van kritiek-belangrike data kan voorsien oor die voorkoms van rassisme in Suid-Afrika.

“Die VF Plus het met die MRK oor die persepsie van onpartydigheid in gesprek getree, en die MRK het in skrywes onderneem om wel ewewigtig op te tree. Dit raak nou egter duidelik dat dit nie gedoen word nie en bloot lippetaal is.

“Dit laat die VF Plus met geen ander keuse nie as om die MRK nou self verantwoordbaar te hou vir die verbreking van sy eie grondwetlike en internasionaal-regtelike mandate,” het Alberts gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johann ·

Onaantasbare ANC hanpoppe! Rule en regulate en ruin ZUPTOPIA gewetenloos! En word betaal met ons belasting geld om dit te doen!!!! ANC LEGACY van anargie!

Kaspaas ·

Ek sal al lankal die MRK is net nog n arm van die ANC wat ten doel het om rasse haat aan te blaas en nie rasse verhouding te bevorder nie. Wittes word genadeloos vervolg maar rasdisme teen wittes word daar weg gekyk.

DS ·

Dankie VF Plus julle probeer darem iets doen waar is Afriforum en Solidariteit hoekom steun julle nie die aksie nie. DA is ook tjoepstil – sit in hoekie en wegkruip maar Zille se aanmerkings was onmiddelik gekritiseer en aangeval en gestraf o ja hoe kan ek vergeet WIT is die probleem nie rassisme nie.

Daan Erasmus ·

DS. Kan ons die DA vra om asb AMPTELIK te antwoord. Die DA is doodstil. Blanke stemme is gebruik en nou tel blanke stemme nie

GES ·

Ek dink nie SA was al ooit in so ʼn patetiese situasie soos nou nie. Ons is totaal in die greep van ʼn massa wat met hulle emosie sonder enige integriteit regeer. Die wigte en teenwigte soos belowe is werk duidelik nie meer nie en hierdie mooi land verkeer op die rand van anargie en ekonomiese ineenstorting. So wat bly oor … waar heen nou??

FM ·

Mooi VF Plus. Moet nie tou opgooi nie. Hou aan met druk toepas en hou rekord van alles.Solidariteit en Afriforum sal julle ondersteun. Hoop ook die DA en ander. Ons moet mekaar nou ondersteun! Sterkte! Hou aan om aan te hou!!!!

DS ·

Presies Daan miskien moet die DA leier se wit vrou vir haar manlief vra wanneer gaan gaan hy bietjie vir die wit stemme opstaan of nee wag net-nou word sy ook van haar “amp” onthef

piper ·

in die volgende verkiesing moet ons laat waai en vir VF PLUS stem. ek hou van wat hulle doen.

Mielie ·

Kan die MRK nie vervolg word omdat hulle hul pligte versuim nie?

Pietie ·

Die hele lot, MRK, OB ens. is almal handpoppe van die ANC en verdedig selfs hul dubbele standaarde. Lees bv wat Gail Smith van die MRK hieroor kwytraak. Al wat oorbly is miskien die howe en buitelandse druk.

Santie ·

Ek dink hy was net kwaad en het te veel gepraat toe hy agterkom die krane begin nou toegaan.

Ronell ·

Die VF+ sal hul knieë deurskuur soos hul pleit om regverdigheid te laat geskied, maar ongelukkig dink ek dit sal op dowe ore val. ‘n Groot jammerte vir Suid Afrika

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.