Ultimatum aan Zulu oor Sassa-kantore

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu (4 Maart 2020) (Foto: Armand Hough/African News Agency/ANA)

Die Demokratiese Alliansie het Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, tot Maandagmiddag om 17:00 gegee om die kantore van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) oop te maak, anders sal sy moontlik regstappe in die gesig staar.

Bridget Masango, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, het gesê daar is ʼn duidelike behoefte om Sassa-kantore landswyd oop te maak om die oorvloed aansoeke vir maatskaplike toelaes en welsynsverligting tydens die Covid-19-afsonderingsperiode te hanteer.

“Ons het minister Zulu tot vandag om 17:00 geleentheid gegee om op ons redelike versoek te reageer. Die DA se prokureurs is opdrag gegee om ʼn hofaansoek in te dien om die regering te dwing om Sassa se kantore oop te maak as die minister versuim om ag te slaan op ons versoek.”

Masango het gesê die DA het herhaaldelik versoek dat Sassa se kantore oopgemaak moet word, met die nodige veiligheidsmaatreëls, om kwesbare persone by te staan sedert die afsonderingsperiode op 26 Maart ingestel is.

“Die minister het keer op keer die pleidooi geïgnoreer en dit wil voorkom of noodkrete van desperate persone ook op dowe ore val.”

Masango het gesê die realiteit is dat talle persone, wat voordeel kan trek uit die welsynsverligtingstoelaag van R350 nie die logistiek het om deur die toegewyde kanale aansoek te doen en ʼn e-pos, SMS of WhatsApp-boodskap te stuur nie.

“Dit is onverklaarbaar dat die departement, in ʼn poging om dié tegnologiese uitdagings aan te spreek, eerder die geld wil aanwend om vrywilligers op te lei en vir hulle toerusting te koop om behoeftiges te help, terwyl die Sassa-kantore gesluit bly en opgeleide en betaalde werknemers by die huis sit. Die geld kan tog beslis beter aangewend word deur kospakkies aan die kwesbare gesinne te gee.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Die DA verwag nou van die minister om te dink aan oplossings wat nie die toe-eiening van staatsgeld vir eie gewin behels nie. Dit is tog nie moontlik nie! Hoe durf hulle?

Willem ·

Al wat zulu regtig goed doen is om snaaks aantetrek en dan snaaks te lyk.

Peetjie ·

Zulu het nie rede om honger te ly nie, sy word elke maand n hoop geld betaal… Dit is mense wat nie veel het nie, wat sukkel…..en sy gooi n blinde oog en n dowe oor…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.