Brown se ultimatum aan Eskom

Argieffoto: GCIS

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Vrydag ʼn finale ultimatum aan Eskom gerig om teen Dinsdag duidelikheid te gee oor die kragvoorsiener se verhouding met Trillian, ʼn Gupta-maatskappy.

Brown het Vrydag met Johnny Dladla, waarnemende uitvoerende groepshoof van Eskom, en Zethemba Khoza, waarnemende voorsitter van Eskom, vergader en het die kragvoorsiener se “toewyding om vinnig bewerings van wanadministrasie en korrupsie aan te spreek”, bevraagteken, het haar departement gesê.

“Die minister het veral haar teleurstelling uitgespreek oor Eskom se onbehoorlike en trae reaksie op vrae wat sy gevra het oor die kragvoorsiener se sakeverhouding met Trillian,” het die departement gesê. Volgens die verklaring het Brown op 1 September ʼn verslag van Eskom ontvang wat deur Khoza onderteken is.

“Daar is gapings in die verslag en die minister het verdere inligting versoek. Dit het onlangs aan die lig gekom dat die inligting wat Eskom aan die minister verskaf het oor sy samewerking met Trillian, foutief was,” het die departement gesê.

Die Eskom-raad vergader Maandag en Brown wil Dinsdag terugvoer ontvang oor die resolusies wat Eskom gemaak het wat betref dissiplinêre prosesse; ondersoeke oor twyfelagtige kontrakte; stabiliteit in die maatskappy en veral die uitvoerende span; waarom dit Eskom se regsdepartement vyf dae geneem het om haar bykomende vrae aan die raad te stuur; en wat tussen die eerste en tweede persverklarings gebeur het wat Eskom in Junie oor Trillian uitgereik het.

“Die inligting moet spesifiek besonderhede bevat oor ondersoekende en dissiplinêre prosesse teen die voormalige uitvoerende groepshoof Matshela Koko en hoof finansiële beampte Anoj Singh – en beslissende antwoorde op die Trillian-vrae. Die minister verwag van die raad om ʼn padkaart aan haar te bied met spesifieke tydlyne om al die kwessies te finaliseer.

“Sy het aan die Eskom-hoofde gesê vertroulike inligting wat voortdurend uitlek, help nie die kragvoorsiener se openbare beeld nie en dit is onbehoorlike dat die aandeelhouer se verteenwoordiger deur die media te hore kom van Eskom se interne sake.”

Die departement het gesê volgens Brown sal die verslag, wat sy Dinsdag verwag, haar help om die omvang en aard van die beslissende optrede, wat nodig is om Eskom se geloofwaardigheid te herstel, te bepaal.

Brown se kantoor het op 8 September gesê sy het die verslag bestudeer wat Eskom aan haar verskaf het oor sy verhouding met Trillian, maar sy benodig nog inligting van die kragvoorsiener.

Eskom het vroeër erken dat hy gejok het oor betalings van meer as R1,5 miljard aan Trillian Capital Holdings. Die kragvoorsiener het vroeër aangevoer die betalings was regmatig ná ʼn verdoemende verslag oor Trillian deur adv. Geoff Budlender. Eskom het gesê die internasionale bestuursmaatskappy, Oliver Wyman, het bevind die betalings was “gebaseer op omsigtige kostes wat aangegaan is en waarde wat geskep is”. Eskom moes egter later bely dat Wyman die betalings bevraagteken het en ʼn regshersiening van die transaksies aanbeveel het.

Budlender is deur die voormalige voorsitter van Trillian, Tokyo Sexwale, aangestel om die maatskappy se rol in staatskaping te ondersoek. In die verslag, wat in Junie vrygestel is, het hy bevind dat Eskom in 2016 altesaam R266 miljoen aan Trillian oorbetaal het vir dienste sonder kontrakte.

Trillian is ʼn finansiëledienstemaatskappy. Salim Essa, ʼn naby sakevennoot van die Guptas, het in Junie sy besturende aandeel in die maatskappy verkoop toe druk oor bewerings van staatskaping in die maatskappy toegeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

snoepie ·

Hulle is self korrup; maar nou wil hulle ons dorp se krag afsit met tye omdat daar geld geskuld word. Hoe maak ñ mens die som? Dubble standaarde

Al ·

Moet die publiek en drukgroepe altyd die werk van die ministers doen? Indien die Gupta goed nie aan die groot klok gehang nie

Toppie ·

Die krag verbruiker ( as jy dit nie gratis kry nie) en belastingbetaler, betaal vir al die korrupsie en bedrog deur Eskom en ander staatsdepartemente.

John ·

Blykbaar is die minister tevrede solank vertroulike inligting tog net nie uitlek nie. Die vrou moet afgedank word en die hele topbestuur van Eskom. Die land kan die patetiese spul nie meer bekostig nie. Ons sit reeds gereeld in die donker en die koue op die rommelhoop.

jaco ·

Lynne Brown is lid van die ANC en ESKOM is n semi-staatsinstansie waarin die staat, wat deur die ANC beheer word, ‘n beherende aandeel het. so eintlik gee die ANC ‘n ultimatum aan di ANC. Iewers maak iets nie sin nie. hulle kan hulle verskille mos sommer informeel met mekaar uitstryk.
Ek sal so ‘n ultimatum net verstaan indien ESKOM ten volle privaat was en dalk aan een of ander “wit monopolie-kapitaal” besigheid behoort het, maar tans “behoort” ESKOM vir alle praktiese doeleindes aan die ANC

jaco ·

Sulke ultimatums het nooit in die ou SA gebeur nie. NP regering en broederbond en NP gesinde base van semi staatsinstansies soos die SAUK en Spoornet het bankvas saamgewerk.

Basjan ·

Die Gupta verrotting duur voort. Gaan ons ooit die volle omvang daarvan uitvind?

snoefie ·

hoe lees jy Jaco? die minister van openbare ondernemings het eskom n ultimatum gestel. as n onderwyser aangejaag het en die skoolraad stel n ultimatum aan die onderwyser beteken dit mos nie die skool het n ultimatum aan die skool gestel nie. Dis dan mos n saak tussen die skoolraad en die onderwyser. nes dit hier duidelik n saak tussen die department van openbare ondernemings en die bestuur van eskom is.

snoefie ·

aangesien die minister ultimatums stel, wat van een kilowatt, een prys of jy nou R10 se krag koop in diepkloof of R10 000 se krag koop in Clifton?

WW ·

Nou verstaan ek nie mooi nie. Sou ‘n “ultimatum” nie impliseer dat daar ‘n gevolg gaan wees as die Eskom trawante steeds nie maak soos hulle gesê word nie?? “Julle gee vir my wat ek soek of ek…..”?
So kom ons raai gou-gou wie gaan NIE Dinsdag ‘n volledige verslag in haar hande hê nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.