Umalusi sê onderwysdepartement slaggereed vir matriekeksamen

matrieks-wiskunde-affies-seuns-2017-10-27-01

(Argieffoto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, sê alles is slaggereed vir die komende matriekeksamen.

Die raad het Woensdag die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys op hoogte gebring van die voorbereiding vir die eksamen en het LP’s verseker dat alles gereed is vir die 629 197 voltydse en 122 471 deeltydse kandidate om ʼn geloofwaardige eksamen af te lê.

Umalusi het tussen 11 September en 1 Oktober die gereedheid van die onderwysdepartement om die eksamen te hanteer, nagegaan. Die komitee het gehoor dat ʼn assessering van gehalteversekering gedoen word sodat die sertifikate wat ná die eksamen aan suksesvolle kandidate uitgereik word, aan die vereiste standaard voldoen, het hy in ʼn verklaring gesê.

Die assessering word onder meer gedoen deur die moderering van eksamenvraestelle, praktiese toetse en algemene assessering. Nasienwerk word ná die aflê van ʼn eksamen ook gemodereer.

Die eksamenuitslae word eers vrygestel nadat Umalusi bevind het daar was geen ongerymdhede wat die integriteit van die eksamen in die gedrang kan bring nie.

Umalusi het ook ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om nié leerders se toekoms op die spel te plaas deur diensleweringsbetogings tydens eksamentyd nie.

Die komitee het Umalusi geprys vir sy deeglike werk om die gereedheid van die departement van onderwys en provinsiale departemente na te gaan om 2019 se nasionale senior sertifikaateksamen te hanteer.

“Die geskiedenis het bewys die stelsel werk, omdat die departement van basiese onderwys in die verlede verseker het dat alle probleme wat Umalusi uitgewys het, al vóór die aanvang van die eksamen uitgestryk word,” het Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die komitee, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jakes ·

Die matriek eksamen is deesdae n plesier om te skryf aangesien jy slegs 30% moet behaal om te slaag.

Jaco ·

Ons kan die 30% sien by Eskom en ander regerings instansies.

Sterkte ·

Sterkte aan al die matriekulante, mag die wat hard gewerk het die vrugte pluk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.