Toe Chris Pappas jare gelede as tjokkertjie met sy fiets deur die strate van Howick gejaag het, het hy waarskynlik nie vir ʼn oomblik gedink hy sal eendag aan stuur van die dorp se sake wees nie.
Die 30-jarige Pappas is ná die onlangse verkiesing aangewys as die burgemeester van uMngeni, die enigste plaaslike owerheid in KwaZulu-Natal waar die DA ʼn volstrekte meerderheid behaal het en nou regeer. Die uMngeni-munisipaliteit is in Howick geleë en bedien onder meer dié dorp, asook Hilton en Nottingham Road.
“Spanwerk en ʼn begrip dat dít ʼn plááslike verkiesing is,” verduidelik Pappas die DA se suksesvolle verkiesingstelsel in die streek.
“Ons het weggebly van die geraas en op plaaslike kwessies gekonsentreer. Hoe gaan mense brood op die tafel sit? Kan my kinders in die parkie speel? Werk die straatligte? Dit was vir ons belangrik om eerlik te wees en mense nie die hemel en aarde te beloof nie.”
Pappas was verlede week een van nuwe burgemeesters wat die DA by ʼn mediageleentheid bekend gestel het. “Ek kom uit ʼn provinsie van waar die ANC se stigterspresident afkomstig is. Ons het opstande, politieke moorde en ʼn brandpoel.
“Dit gaan nie maklik wees nie,” sê Pappas oor die taak wat voorlê.
Vyf jaar is nie ʼn lang tyd om te regeer nie en dié jong burgemeester wil vir seker elke oomblik en elke sent tel.
Hy sê die eerste week in die amp het hy met ʼn skok besef in watter toestand die owerheid is. Die verbinding tussen party en staat is uiters vertroebel en sommige amptenare is te bang om bloot hul werk te doen. Daar is geen behoorlike aanduiding van hoeveel poste vakant is of hoeveel sogenaamde spookwerkers op die owerheid se boeke is nie.
Boonop is daar weinig geld beskikbaar.
Maar hulle het ʼn droom en ʼn visie om sake om te keer. Dit sluit in werkskepping en die groei van die plaaslike ekonomie, ʼn fokus op afvalbestuur en die omgewing, die skep van veiliger gemeenskappe en ʼn deursigtige en reagerende regering wat verantwoordbaar aan alle inwoners is.
Pappas sê daar word in hierdie stadium daarop gekonsentreer om weg te doen met “lekker om te hê”-dinge en aan mense se basiese behoeftes te voldoen. Die munisipaliteit se begroting is nagenoeg R470 miljoen en elke sent moet gerek word. “Ons kan nie geld bestee aan dinge wat nie waarde toevoeg nie. Ons moet goed bou wat mense nodig het. Paaie, behuising – maar jy moet ook eerlik wees oor wat jy kan doen.”
In die aanloop tot die verkiesing het Pappas en sy span verseker hulle is deel van die gemeenskap en bou vertroue in die DA. “Jy moet verhoudings bou en ons het die skaal in ons guns geswaai.”
Pappas het grootgeword in dié geweste – op ʼn plaas in die Giant’s Castle-gebied waar sy ouers boer.
Boonop praat hy vlot Zoeloe, ʼn vaardigheid wat waarskynlik heelwat in sy guns tel. Op die plaas waar hy grootgeword het, het die maats Zoeloe of Engels gepraat, sê Pappas. Daar was boonop geen afsondering tussen die swart en wit mense nie en Pappas sê hy is die produk van ʼn geïntegreerde skoolstelsel.
“Agter ʼn taal is daar ook kultuur en emosie – dit is meer as woorde. Ek dink dit het gehelp om stereotipes af te breek.”
Sandile Mnikathi is aangewys as die adjunkburgemeester van uMngeni.
“Sandile praat die koningin se Engels en ek praat die koning se Zoeloe,” skerts Pappas. En saam vorm hulle ʼn gedugte span.
“If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. If you talk to him in his own language, that goes to his heart.” – Nelson Mandela.
DA's incoming Mayor of uMngeni Municipality, Christopher Pappas. pic.twitter.com/7pApkTmqUQ
— Sphelele (@SpheDludla) November 2, 2021
O Okay !!
Sterkte hoop regtig jy slaag in Jo doel.
Jy is ‘n dinamiese, intelligente, sterk jong man en jy weet die ANC/EFF is gif. Moenie dat hulle jou ideale vernietig nie. Sterkte. Ek staan bankvas agter jou en onthou….die Here self veg vir jou.
Alles van die beste !!!!!!!!!!!!!!!!1
Hierdie jong man is ‘n ligpunt in ‘n donker politieke tonnel. Baie sterkte. Wys hul wat gedoen kan word
Sterkte Boeta Groot taak vir jou
Mens kan hom en sy span net sterkte toewens. Hy is jonk en vol vuur. Dalk is hy die oplossing vir daardie gebied.
Sterkte ek hoop julle kry dit reg sodat die wat vir die ANC gestem het sodat hulle oë kan oop gaan.
Baie sterkte, dit is ‘n steil opdraend wat voorlê
Wil nie jou werk he nie regtig sterkte