Unie dreig met hofstappe as weermag nie studente heraanstel

Foto ter illustrasie. (Foto: Potchefstroom Armed Forces Day, Facebook)

Die SA Nasionale Weermagunie (Sanwu) het die weermag tot Maandag gegee om ʼn groep studente wat hy ontslaan het, weer aan te stel, of Sanwu gaan hom tot die hof wend.

Die weermag het die 35 lede die afgelope week ingevolge ʼn administratiewe proses afgedank. Hulle was sedert verlede jaar mediese studente in Kuba, maar die weermag voer aan hulle was dáár vir langer as 30 dae afwesig en het dus die verdedigingswet en militêre dissiplinêre kode oortree.

Volgens die weermag gaan hy geen swak dissipline in sy geledere duld nie en sal hy ingrypende stappe doen teen enige lid wat die weermag se aansien in oneer bring.

“Om dié doel te bereik, word die weermag bestuur deur beginsels in die verdedigingswet en die dissiplinêre kode waaraan elke lid moet voldoen, óf die gevolge dra,” het die weermag in ʼn verklaring gesê.

Pikkie Greeff, Sanwu se nasionale sekretaris, het gesê indien die weermag die lede afgedank het omdat hulle glo sonder verlof afwesig was, maak dieselfde wetgewing wat gebruik is om dít te doen, ook daarvoor voorsiening dat die hoof van die weermag vertoë teen die besluit moet oorweeg.

Sanwu het genl. Solly Shoke, weermaghoof, 48 uur gegee om op sy versoek te reageer. Indien hy dit nie doen nie, gaan Sanwu waarskynlik ʼn dringende aansoek oor die kwessie by die hooggeregshof indien.

Greeff het gesê die weermaglede is na Kuba gestuur om daar medies te studeer. Hulle is egter ná ʼn semester uit die universiteit gehaal en beveel om by die infanterieskool waar hulle gewoon het, klas te draf. Die instelling is nié ʼn geakkrediteerde mediese skool nie en die kursus wat hulle volg, word nie deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid‑Afrika erken nie. Alle mediese personeel én studente moet by die RGBSA registreer.

Greeff het gesê toe die studente begin kapsie maak omdat die instelling nie geakkrediteer is nie, het hulle onder meer ʼn brief gekry waarin hulle van muitery beskuldig is. Volgens hom is die studente gedreig en selfs individueel ondervra.

“Die weermag het hulle in diens geneem om dokters te word. Hoekom hulle uit die universiteit gehaal is, weet ons nou nog nie. Dis bisar en maak geen sin nie,” het Greeff gesê.

Die groep het verlede naweek na Suid-Afrika teruggekeer.

In sy verklaring sê die weermag hy het op verskeie maniere probeer om die lede se besware te besleg, maar dat hy uiteindelik geen ander keuse gehad het as om hulle te ontslaan nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

ne ·

Ek hoop ek word NOOIT deur die “dokters” behandel nie. 3 maande en jy is ‘n dokter??? Dan is jy nog vir ‘n maand afwesig?

Lientjie ·

Lees weer die berig. Hulle word nie ‘n Dr binne 3 maande nie.

Buite Stander ·

Die weermaglede sou medies studeer, toe word hulle deur die Kubane na ‘n plek gestuur om iets anders te doen, teen hul wil. Hulle het seker die reg om hul vakbond te nader. Trouens, Solidariteit behoort te help.

Jack Sadie ·

Iets het iemand êrens verkeerd met die inligting of die weermag is deurmekaar. Het ook nie geweet die weermag het ‘n basis in Kuba nie. Dis uiters kommerwekkend………

Don ·

dank die weermag af want die hele klomp het green dissipline of geen morale standarde of engine oortuigings wie hul is nie…die hele klomp is lui will nie werk is korrup en breek als…..geen vaardigheid of engine werk etiek somer net useless!!

Veritas ·

Die spannetjie dink verskonings omdat hulle ‘n wettige bevel nie uitgevoer het nie. Die Kubane het hulle seker verkla omdat hulle ongedisiplineerd opgetree het. Blaas die hele spul.

ZAR ·

Ek kry die idee dat hierdie weermaglede verwyder word as gevolg van hul wit vel.

Basjan ·

Gaan jy gelukkig wees indien ‘n buitelander jou vertel om jou mediese te staak en eerder ‘n medic te word? Duidelik word die SANDF deur Kubane voorgeskryf.

andre ·

Daai jongmense het ‘n GELEENTHEID deur hulle vingers laat glip wat hulle nooit weer gaan kry nie.

Dank hulle af! Hulle is arrogant en ondankbaar!

Toffieappel ·

Wat se geleentheid? Hulle is lede van die SANDF wat medies wil studeer in Kuba. Hoe kan die Kubane hulle nou laat aantree vir diens by ‘n infanterieskool? Klink verdag.

jaco ·

In ander afrikalande voer die weermag n staatsgreep uit en neem die regering oor wanneer dinge nie na hulle sin gaan nie. In SA dreig die weermag met regstappe…

fred ·

het ons rêrig nog so n groot weermag nodig? wat maak hulle die ganse tyd?daar is in elk geval geen geld vir onderhoud of brandstof vir die voertuie,skepe,duikbote,vliegtuie en ander nice to have toys

Hanna Hoekom ·

Die Kubane het seker agtergekom dat hierdie studente niks werd is nie. Dalk sou hierdie studente n klad op die universiteit se naam gewees het? Wie weet? Dalk het die studente weer ge-“demand” soos hulle gewoond is om te doen… Hoe dit ook al sy, hulle het hul kanse lelik verspeel. Nou is Sassa-rye seker hul voorland. Hoeveel voornemende studente sou nie hul voortande gee om te kan gaan medies studeer nie.

Stripes ·

Daar word nie genoem hoekom hulle van die universiteit na die infanterieskool geskuif is nie. Was dit weens wangedrag of wat was die rede? Het ons weermag betaal vir die opleiding wat in elkgeval in SA gedoen kon gewees het? Klink meer vir my of daar ander opleiding gedoen was vir die een of ander duistere rede. Kuba en Rusland was nog altyd dik vriende gewees.

Boesman ·

Dit is onwettig vir SANDF lede om in ander lande se gewapende magte te dien. Indien daar disiplinêre probleme was moes hulle onmiddelik Kuba verlaat het.

Sê maar net ·

Kom ons begin by aansien. Watter aansien, ry net ‘n draai deur Voortrekkerhoogte dan praat ons weer van aansien… Daar is niks wat heel is nie en as jou kind vir jou vra of ons army net 20 sterk is dan het aansien sy gat ook maar gesien. Dokters word in Kuba, ook seker net om 1 Mil se aansien in sy glorie is… Daar is geen AANSIEN meer in die SANDF nie. Aansien het al die afgelope 20 jaar by die basis uit geloop… Sê maar net.

Theoman ·

Dankie tog Voortrekkerhoogte se naams verandering deur Mbeki na Thaba Tswahne of so iets is meer van pas, seker beteken die naam “val uit mekaar” want retig as oud troep wat op Voortekkerhoogte diesplig gedoen het is ek so teleurgesteld oor die agteruitgang van die eens pragtige militere kamp.

Attie. ·

Die regering van ons is in die wied geleê om net verkeerde besluite te kan maak. ANC, ons sou lekker kon lag vir julle maar ongelukkig is dit so tragies dat ons maar net huil. Die vakbonde regeer die land. As dinge so aangaan gaan die land die pad loop van die res van Afrika. Al wat ons as toeskouers kan doen is om vandag te begin bid dat ons lewende God ons moet red en die Heilige Gees ons moet leer wat reg is. Hy wil maar ons wil nie luister nie. Die land se toekoms sal nie beslis word deur die loop van ‘n geweer nie en ook nie by die stembus nie maar slegs op ons kniee.

Weskusklong ·

Die land is klaar soos die res van Afrika, hier en daar slegter as Afrika af. Dit is hopeloos te laat om nou te bid.

Weskusklong ·

Hang af waar jy bly. In Afrika is dit te laat. Jy kan bid tot jy blou word, niks gaan Afrika beter maak nie.

Zirk ·

My gedagte is;
Om in Kuba te studeer, moet jy Spaans magtig wees. Sover my kennis strek, doen alle mediese studente eers ‘n taalkursus vir 6 tot 12 maande. Dan begin hul studies eers. M.a.w. hulle het hul taalkurus en/of hul mediese kursus nie geslaag nie. Toe begin hulle met plan B. Dit sou ‘n mediese kursus asook ( moontlik) ‘n militêre kursus behels. Die studente weet sekerlik dat hulle nooit in SA sal kwalifiseer as mediese dokters as hulle by ‘n ongeakkrediteerde instansie studeer nie. Daarom die ontevredenheid. Die ANC was baie gou om diesulkes te beskuldig van ” afwesig van diens”, want hulle’s in die verleentheid by die SA publiek. Vanwee hierdie redes asook baie ander. Ek sê maar net.!

Boesman ·

Indien jy reg is moes die studente terugkom om hier weermag opleiding te doen, nie in Kuba nie. Sou jy tevrede wees om in die Kubaanse weermag opleiding te doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.