Sedert die Covid-19-regulasies verslap is en toeskouers weer toegelaat word by sportbyeenkomste, keer rugbyondersteuners terug na die pawiljoene. Rugbyunies verwelkom dié verwikkelinge en sê die spelers baat ook by die skare se geesdrif.
Marnus en Hanlie Putter is vurige Bulls-ondersteuners en het al ’n hele paar wedstryde op Loftus Versfeld bygewoon.
Hulle was daar toe die Bulls in ’n naelbytstryd met Munster afgereken het, toe Marcell Coetzee-hulle vir Scarlets oorrompel het en toe die Pretorianers verlede naweek vir Ulster ’n ding of twee gewys het.
So van daardie Ulster-wedstryd gepraat: Amper 20 000 (19 436 om presies te wees) entoesiastiese ondersteuners het lekker saamgesels toe die Bulls die sterk Ierse klub met 34 – 16 geklop het.
“Dit is so lekker om weer op Loftus te wees. Die eerste twee wedstryde wat ons bygewoon het was stillerig, maar verlede week se kragmeting het ’n mens weer aan die dae vóór Covid-19 laat dink: Jy het gesukkel om parkering te kry, mense het op die sypaadjies gebraai en spontane Mexikaanse golwe het weer begin momentum kry in die stadion,” het die Putters gesê.
In ’n slim skuif het die Bulls-base kaartjies vir slegs R25 beskikbaar gestel; alles in ’n suksesvolle poging om toeskouers na ’n regstreekse wedstryd te lok en om die Verenigde Rugbykampioenskap-bywoningsrekord te verbeter.
Ja, ondersteuners gaan nou nie weekliks ’n soortgelyke kaartjieverrassing kry nie, maar in die professionele era is rugby ’n sakeonderneming en volgens Willem Strauss (president van die Blou Bulle Rugby-unie) is daar altyd ’n moontlikheid vir ’n “special” of twee.
“Dit is verskriklik lekker om weer ondersteuners in die stadion te hê en die spelers ervaar die skare se geesdrif as aansteeklik. Rugby is immers ’n toeskouersport,” het Strauss gesê.
In die Kaap was daar amper 14 000 toeskouers op die pawiljoensitplekke toe die Stormers vir die Ospreys met 29 – 13 geklop het.
Hansie Linde is ’n kranige sportfotograaf wat getrou die Stormers en Westelike Provinsie se wedstryde bywoon en hy het Strauss se woorde beaam – die spelers geniet dit om voor toeskouers te speel.
“Toeskouerbywoning maak inderdaad ’n groot verskil. Dit lyk of die spelers met groter ywer speel en die spel meer geniet,” het Linde gesê.
Volgens die jongste regulasies moet toeskouers ’n bewys van inenting of ’n negatiewe Covid-19-toets (nie ouer as 72 uur nie) toon om toegang by die stadionhekke te verkry; faktore wat beslis ’n invloed op bywoningsyfers het.
Tog verander die regulasies voortdurend en Marius van Rensburg (uitvoerende hoof van die Mpumalanga Rugby-unie) hoop dat Mbombela-stadion volgepak sal wees wanneer die Springbokke op 6 Augustus teen die All Blacks in Nelspruit speel.
“Die kaartjieverkope het sommer uit die staanspoor gevlieg. Mense is uitgehonger om regstreeks die aksie te sien, veral wanneer die Bokke teen die All Blacks speel. Hopelik kom ons by ’n punt waar dinge volkome na normaal sal terugkeer,” het Van Rensburg gesê.
Die Pumas het die afgelope Woensdag vir die Leeus met 45 – 10 verrinneweer en hoewel ’n weeksdagbepaling ook ’n definitiewe invloed op toeskouerbywoning het, is Van Rensburg tevrede.
“Daar was baie skoolkinders en die spelers het weer handtekeninge langs die veld uitgedeel. Dit is die hoofrede waarom ons speel; om mense en kinders by die stadion met topgehalte rugby te vermaak.”
Sal die Putters weer ’n rugbykaartjie of twee koop?
“Beslis! Dit is duidelik dat almal in die stadion lank reeds lus was om ’n wedstryd by te woon.”
- Hoe verlede week se toeskouer-bywoning gelyk het (VRK-wedstryde):
Sharks teen Dragons in Durban: 7 567
Stormers teen die Ospreys in Kaapstad: 13 364
Bulls teen Ulster in Pretoria: 19 436.
- Binne- en buitenshuise byeenkomste (wat dan stadions insluit) word tans tot 50% van die venuekapasiteit beperk.
Inentings sertifikate om te kwalifiseer as toeskouer vir ‘n buitelig aktiwiteit…. Dis nou die toppunt van onnoselgeiit. Hou maar jul rugby, krieket, atletiek, koop eerder ‘n lekker stuk vleis vir ‘n tuis braai.