Unisa-appèlhofbeslissing ‘reuse-oorwinning vir Afrikaans’

Unisa se Sunnyside-kampus. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Die appèlhof se onlangse beslissing om Unisa se beleid oor Afrikaans as ongrondwetlik te verklaar, word bestempel as ʼn reuse-oorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en taalregte in die land.

Só het die burgerregteorganisasie AfriForum Woensdag gesê nadat die hof die universiteit se taalbeleid wat Afrikaans in wese afgeskaf het, ongrondwetlik en onregmatig verklaar het.

Maroela Media het vroeër berig die taalbeleid is ter syde gestel wat beteken dat Unisa Afrikaans as onderrigtaal moet herinstel.

Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, is die uitspraak ná ’n stryd van bykans vyf jaar van reusebelang vir alle Afrikaanse studente in die land, maar ook vir die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal.

“Die feit dat die hoogste hof van appèl hierdie uitspraak gelewer het, is van groot belang. Dit is die hoogste hof wat nóg ten gunste van Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak uitspraak gelewer het,” het Bailey daarop gewys.

Die DA het ook op sy beurt die uitspraak verwelkom.

“Die DA was nog altyd ’n voorstander van moedertaalonderrig en sal nooit afstand doen van die grondwetlike beginsel dat elke Suid-Afrikaner die reg het om onderrig te ontvang, waar moontlik, in die amptelike taal van hul keuse nie,” het prof. Belinda Bozzoli, LP en die DA se skaduminister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, in ’n verklaring gesê.

Volgens Bozzoli gaan die opposisieparty nou ’n indieptestudie oor die appèlhofbeslissing doen aangesien dit ’n belangrike presedent vir die beskerming van taalregte, moedertaalonderrig en die ontwikkeling van inheemse tale in Suid-Afrika kan stel.

Bailey meen die uitspraak beklemtoon dat Afrikaans ook ’n plek op staatsondersteunde kampusse het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Renee ·

Dankie appelhof dat jy nie soos ander kyk dat ons taal verwoes word nie.

Vonkprop ·

Die DA irriteer die lewende waks uit my uit. Hulle kyk net waar hulle kan gratis lugtyd kry. Hulle gebruik ander mense en partye om hulleself goed te laat lyk en pas hulle kommentaar aan volgens uitsprake. Hulle kon nog niks op hulle eie regkry nie. Het die hof teen Afrikaans besluit sou die DA weer ewe vinnig sê dit stel ‘n duidelike boodskap dat ons moet aanbeweeg en nie in die verlede moet leef nie. Ek wed julle daar is altyd ten minste twee toesprake per saak op hulle tafel. Een vir die uitspraak en een teen die uitspraak, en afhangende hoe die wind daardie dag waai besluit hulle watter toespraak hulle die wêreld instuur. Van wanneer af baklei die DA vir Afrikaans en nog meer vir Afrikaners? Doen iets self DA of verdwyn.

Stephan ·

Ek stem saam. Die DA opponeer die ANC verkeerd. Hulle probeer te veel stemme oor die breë spektrum van kiesers kry, in die proses het hulle identiteit verloor en eintlik ‘n ANC Lite geword. Ek wens meer opponerende politieke partye in Suid-Afrika steun die idee van ‘n onafhanklike Kaap, die dreigement daarvan is vir my omtrent die enigste effektiewe politieke motivering om die ANC twee keer te laat dink.

Charmain ·

Ag siestog en nou keff die DA saam…hoekom het hulle dan nie die hofaansoek gebring nie? Well done Afriforum

Janc ·

Elke Afrikaanssprekende persoon behoort ‘n lid van Afriforum te raak as mens kyk hoe hierdie mense dag en nag deursit en baklei vir ons regte! Hierdie is fantastiese nuus. Ek ondersteun hulle, want wie anders gaan opstaan vir ons regte?

Banie ·

Dankie tog, Appelhof. Nou kan ek weer erken dat ek my graad deur Unisa verwerf het.

Stephan ·

Na alles wat op die oomblik verkeerd loop in Suid-Afrika, hierdie hoogtepunt! Ek het so lekker gekry toe ek dit lees. Afriforum, julle het my steun. Na die vorige beslissings het dit my ‘n sprankie van vertroue in ons regstelsel gegee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.