Unisa bereik ooreenkoms met stakers

Unisa (Foto: Gauteng-toerisme)

Net ʼn dag nadat Unisa ʼn interdik bekom het om stakers te verhoed om die universiteit se bedrywighede met hul protesoptrede te ontwrig, het Unisa vandag ʼn ooreenkoms met sy studenteraad bereik en onderteken.

Die universiteit sê in ʼn verklaring die staking is dus met onmiddellike inwerkingtreding opgehef en bedrywighede by die universiteit sal vanaf Maandag normaalweg voortgaan.

Luidens die verklaring is die ooreenkoms bereik ná onderhandelinge tussen die onderskeie partye en beraadslaging met die departement van hoër onderwys en opleiding. Konsultasies met die departement het veral gefokus op die registrasie-uitdagings by die universiteit.

Enkele aspekte waarop die universiteit en die studenteraad ooreengekom het, sluit in:

  • Stakers het geëis dat alle studente wat hul matriekeksamen geslaag het en aan die nodige vereistes voldoen deur die universiteit aanvaar moet word. Die universiteit het hierop geantwoord dat hy slegs plek het vir 380 000 studente van wie 54 434 eerstejaarstudente is. Die universiteit is dus nie in ʼn posisie om alle voornemende studente met universiteitsvrystelling in te neem nie. Die universiteit het egter ingestem om ʼn bykomende 10 887 eerstejaarstudente te aanvaar. Unisa onderneem ook om binne ʼn bepaalde tydsraamwerk terugvoer aan studente te gee oor hul aansoeke.
  • Stakers het geëis dat geen fooiverhogings in 2019 ingestel word nie. Unisa het hierop gesê die universiteit het ʼn geïntegreerde beplanningsproses wat die voorbereiding van ʼn driejaarbegroting insluit. Volgens die universiteit is ʼn jaarlikse fooiverhoging by die instansie noodsaaklik vir finansiële volhoubaarheid. Oor hierdie aspek het die Nasionale Studenteverteenwoordigingsraad (NSRC) gesê hy stem nie saam met enige fooiverhogings nie en behou sy reg voor om voort te gaan met veldtogte ter ondersteuning van gratis onderrig.
  • Studente het daarop aangedring om van skootrekenaars én handboeke voorsien te word. Unisa sê daar is reeds voorsiening gemaak vir geld om aan studente die keuse van óf ʼn skootrekenaar óf handboeke te bied. Unisa het ingestem om ʼn verdere R5 miljoen beskikbaar te stel om bykomende handboeke aan te koop wat by sy biblioteke beskikbaar sal wees aan alle geregistreerde Unisa-studente. Die NSRC dring op sy beurt aan dat dié proses eers gestaak moet word totdat ʼn aanvaarbare oplossing bereik kan word.
  • Die NSRC eis dat ʼn Unisa-inbelsentrum onmiddellik op die been gebring moet word. Unisa se antwoord op hierdie eis is dat die raad reeds goedkeuring gegee het vir ʼn sentrale struktuur om studentenavrae te hanteer, genaamd die Studentekommunikasie-dienssentrum. Die eerste fase van hierdie sentrum is reeds in werking. Unisa het onderneem om die bestaan en beskikbaarheid van die Studentekommunikasie-dienssentrum meer sigbaar te maak, asook om sy personeel by die sentrum te vermeerder sodat daar meer kapasiteit is om studente se navrae te hanteer.
  • Die NSRC dring daarop aan dat ʼn busdiens op die been gebring word om voornemende en nuwe studente vanaf Gandhi Square in Johannesburg na die Florida-kampus aan te ry terwyl Gandhi Square gesluit is vir opknappingswerk. Unisa het onderneem om onmiddellik ʼn taakspan op die been te bring om dié versoek te hanteer. Die taakspan sal 80 munisipale buskaartjies elke dag aan studente uitreik om tussen Gandhi Square en Florida te pendel vir registrasiedoeleindes tot 25 Januarie 2019.
  • Die NSRC eis dat die sperdatum vir registrasie verleng word tot die laaste dag van Januarie 2019. Unisa het onderneem om alles in sy vermoë te doen om te verseker dat alle registrasies betyds afgehandel word.

Prof. Mandla Makhanya, prinsipaal en visekanselier van Unisa, het die ooreenkoms verwelkom en gesê hy is bly dat bedrywighede by die instansie nou weer na normaal kan terugkeer. “Ondanks hierdie ooreenkoms doen ons steeds ʼn beroep op studente om aanlyn te registreer, behalwe as dit absoluut nodig is om die Unisa-dienssentrum te besoek,” het Makhanya gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Chantel Hayes ·

Alles kan NIE verniet wees nie? Dit is mense wat inkomste nodig het om te lewe? Niemand sal werk verniet nie. Dit is ‘n groot voorreg om aanvaar te word vir enige universiteit, jy werk jou hele skool loopbaan daarvoor. As dit verniet is, dra dit geen meer krag nie. Die standaarde gaan so laag val, dat enige graad niks beteken nie.

Semaarnet ·

Chantel, daar is talle vooruitstrewende lande waar beurse deur die staat vir studie toegeken word. Al ooit van ‘n plek met die naam ‘Duitsland’ gehoor?

Jordaan ·

Die verskil in Duitsland is dat studies wel op staatskoste is, maar studente word nie sommer voor die voet aanvaar vir akademiese studierigtings nie. Om die waarheid te se, skoliere kies eintlik al om ‘n tegniese of akademiese roete te volg hier teen Gr 10 rond. Die resultaat is baie beter vaardighede oor die spektrum heen, ipv die situasie hier waar akademiese toelating afgewater word om die laagste gemene deler te pas.

Sanet ·

Aaag…siestog…en sooo kry onse baba vloermoere weereens,húl sin…ama halla passêlla,wat driekwart gaan druip

Koos de Meyer. ·

Dit is nou maar eenmaal so. Ons wil alles verniet hê. Want ons is niks gewoond nie. Geld val mos uit die lug.

Tanya ·

Jip smeek hulle dit is hoekom vandag se kinders so is.Jy het gehoorsame kinders gekry.Vandag kry jy gehoorsame ouers.Skors hulle almal sit in tronk as hulle goed brand of vernietig.Gee pak en ordenlike pak as hulle dit kort

Vonkprop ·

Nee dis reg studentjie. Kry alles verniet en as jy by my werk soek dan moet jy verniet ook werk. Hoekom moet ek jou betaal vir iets wat jy verniet gekry het? The circle of life my vriend.

PJC ·

Die arrogansie is genoeg om van naar te word. Die eise raak al hoe meer buitensporig en ń mens wonder waar gaan dit alles eindig.

Cobus ·

And I demand a motor car to fetch my free laptop and I am not going to apologise for that

Piet ·

Iets is verniet as dit by iemand wat daarvoor gewerk het gevat word en weg gegee word aan iemand wat nie daarvoor gewerk het nie.

Jerry ·

Sosialisme in wording! Die ooreenkoms is bereik deur doodeenvoudig toe te gee aan sosialistiese eise. Die aandadigheid van die ANC kommunistiese/sosialistiesestaat in soverre die EFF, studente en die massas se sosialistiese eise strek, staan uit soos n puisie op n vark se boud! Wanneer die massas dmv studente, beheer oor akademiese instellings verkry, grens dit aan nasionalisering omrede dit inderwaarheid die ANC staat is wat sosialistiese verandering orkestreer en beheer van die instelling oorneem. Dit is hoe die staat sy sosialistiese magsbasis uitbrei asook hoe verandering teweeg gebring word! Die feit dat die staat versuim om daadwerklik op te tree en toelaat dat orde slegs herstel word deur toegewings te maak, dui op aandadigheid en dit geld ook by munisipaliteite en staatsbeheerde ondernemings wat nou meer as ooit voorheen, deur die staat beheer word! Die ANC skep deur misleiding en wanorde, wat die Zuma era insluit, die klimaat vir sosialistiese verandering. CR se era is alles deel van ANC strategie om die klimaat wat geskep was vir sosialistiese verandering, te implementeer!

Callie ·

As jy dan wil onderhandel, dink tog net ook. Stel ook jou eise, n goeie een, soos dat alle eerstejaars wat n vak dop op eerste termyn uitgeskop word. Dan bly daar darem net n paar oor wat nie baie kos nie

Pieter ·

Waar die somme nou nie sin maak vir my nie is:
Hoe kan jy meer mense eis om al jou behoeftes te bevredig, meer voordele soos busdienste, gratis boeke en rekenaars, maar jy weier om enigsens meer te betaal, inteendeel, jy wil NIKS betaal.
Dis soos om meer voordele en ‘n groter salaris by jou werk te eis, maar jy gaan minder ure werk en minder werk doen.
BELAGLIK sonder enige vermoë om logies te dink

Adam ·

Nog ‘n skikking wat deur ruggraatlose bestuuurslede aangegaan is. Die mees logiese Afrika opsie is om die universiteit te sluit tot tyd en wyl die voornemende en huidige studente leer wat dit beteken om ordelik volgens reels te lewe en dat jy nie vooraf beloon kan word vir moontlike toekomstige prestasie nie . Daar is in elk geval geen kans dat 80% van die voornemende studente ooit ‘n graad sal verwerf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.