Unisa-eksamenskelm dalk gou vas

Unisa (Foto: Gauteng-toerisme)

Unisa is warm op die spoor van die persoon wat die universiteit se eksamenvraestelle te koop aanbied aan studente vóór hulle die eksamen aflê.

Die universiteit het Maandag gesê hulle is op die punt om ʼn deurbraak te maak in die ondersoek na die lek van vraestelle. “Die universiteit is bewus van verskeie mediaberigte en kommentaar wat te doen het met die lek van sommige van die eksamenvraestelle vir die November‑eksamen. Die universiteit werk sedert die Junie-eksamen saam met die polisie in dié verband en het reeds die hoofverdagte in die saak geïdentifiseer,” sê Thomas Huma, Unisa se woordvoerder.

Maroela het die afgelope weke berig dat verskeie vraestelle wat studente gedurende vanjaar se eindeksamen geskryf het of nog moet skryf, in ʼn boodskap aan studente as te koop aangebied word. Studente kan tussen R1 200 en R1 500 betaal en ontvang dan foto’s van die vraestel met antwoorde per SMS of WhatsApp-boodskap. Dieselfde het tydens vanjaar se Junie-eksamen gebeur.

Huma sê die universiteit neem kennis dat studente en dosente gefrustreerd is met die stadige vordering wat met die saak gemaak is. “Ons neem hierdie saak baie ernstig op en die polisie is op die verdagte se spoor. Enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van hierdie persoon sal hoog op prys gestel word.”

Studente kla ook dat hulle gekontak word deur individue wat nié aan die universiteit verbonde is nie wat hul dienste as tutors aanbied. “Die universiteit is besig met ʼn forensiese oudit om te bepaal hoe private individue studente se inligting in die hande gekry het,” verseker Huma.

Hy sê die universiteit het ook strenger maatreëls getref wat betref die opstel en verspreiding van eksamenvraestelle. Dit sluit in ʼn verandering in die metode en tyd wat vraestelle by die onderskeie eksamenlokale afgelewer word. Volgens Huma het slegs universiteitsbeamptes toegang tot dié inligting. Reëlings vir die ontvangs en oopmaak van die vraestelle by eksamenlokale is ook opgeskerp.

“Die universiteit veroordeel hierdie kriminele aktiwiteite ten sterkste en enige student of dosent wat die universiteit se dissiplinêre kode oortree, sal vervolg word.

Enigiemand wat inligting rakende die verkoop van vraestelle het, kan 0860 00 5050 bel of ʼn e‑pos stuur aan [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kas ·

Mnr.Huma,die verdagte is ge-identifiseer en die polisie is warm op sy spoor.As die publiek nie weet wie hy is nie hoe gaan ons vir julle inligting gee sodat hy gearresteer kan word.

Jerry B ·

Hierdie persoon moet genomineer word vir Sakeman van die jaar. Nee wat geen hoop vir SA, korrupsie n vereiste vir Afrika vasteland. Dis hoekom Trump nie eers moeite doen om hierna te kom nie.

Gert van Wierdapark ·

Klink vir my na n “inside job”, want hoe de hel word reggekry om die vraestelle in die hande te kry? Warm op die spoor klink ook vir my soos n “spin-storie”!? Unisa moet maar hoop die skelm het sy vlug-kaartjie op SAL bespreek, anders gaan hy/sy/hulle nie gevang word nie!!!

Janna ·

Ek glo die storie gebeur al lankal by die skole tydens eindeksamens ook.

Student ·

Hoekom kry ek dan nogsteeds smse, al twee ontvang vir dieselfde vak wat ek more (19de November) skryf, ekt vanoggend n sms ontvang en vrydag middag ..

Ahuma huma huma ... ·

Mnr Huma, julle is WARM op die spoor vd hoofverdagte maar vra die publiek se hulp? of verstaan ek dit verkeerd?

Wonder maar net ·

Hoe weet die student wat die vreastel koop dat dit werklik die vraestel is wat geskryf gaan word. Hulle gaan tog eers betaal en dan na die tyd sien dit was n scam. En hulle kan nie eers gaan kla nie want hulle het onwettig gehandel!

Sê net ·

Hoop hulle kyk wyer as die studente. Moenie vergeet om by hulle drukkers te gaan kyk na wat in die snippermandjie beland nie.

Andrea van Vuren ·

Word wakker Unisa. Wat moet die akademiese buiteland van julle dink? Julle wil mos die ‘Fees must fall’ beleid ondersteun. Julle gaan baie lank sukkel om van hierdie siek besluit ontslae te raak!
Staan op!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.