Unisa gaan vir eers voort met nuwe taalbeleid

Unisa-kampus. Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Unisa-kampus. Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Die Pretoriase hooggeregshof het vandag beslis die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) kan vir nou voortgaan met die implementering van sy 2017-taalbeleid, hangende ʼn hofaansoek deur AfriForum om die beleid ongrondwetlik te laat verklaar.

Unisa se nuwe taalbeleid bepaal Engels sal van 2017 die enigste taal van onderrig aan dié instelling wees en dat Afrikaans, wat tans die medium van onderrig vir tussen 20 000 en 30 000 studente aan dié instelling is, voortaan nie meer gebruik gaan word nie.

AfriForum het die hof versoek om die universiteit deur middel van ʼn interdik te verplig om te wag met die implementering van die taalbeleid totdat die grondwetlikheid van die nuwe beleid in die hof getoets kan word. Die hof het egter bevind geen onomkeerbare skade kan aangerig word deur solank voort te gaan met die implementering van die taalbeleid nie en het daarom nie AfriForum se aansoek toegestaan nie.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het aan Maroela Media gesê Unisa het in hofstukke aangedui studente wat tans in Afrikaans studeer sal toegelaat word om hul studies in Afrikaans te voltooi en slegs nuwe studente sal nie toegelaat word om in Afrikaans te studeer nie. “Ek dink dit is op grond hiervan dat die hof besluit het dit is nie dringend dat die implementering van die taalbeleid dadelik gestuit moet word nie,” het Bailey gesê.

Sy het gesê AfriForum is steeds gereed om die universiteitsbestuur self in die hof te pak oor die beleid en het klaar die hofstukke daarvoor ingedien. “Ons wag nog op ʼn datum wanneer die saak aangehoor sal word, maar die hofrolle is so vol dat ons bekommerd is die saak sal dalk eers volgende jaar aangehoor word. Ons sal egter alles in ons vermoë doen om so gou as moontlik ʼn hofdatum te kry,” het sy gesê.

Bailey het Afrikaanse studente aangemoedig om in die lig van vandag se hofuitspraak hul behoefte aan Afrikaanse studie onder die universiteitsowerhede se aandag te bring. “Die howe kan die regte beskerm, maar die toekoms van die taal lê veral in Afrikaanssprekendes se hande. Dit is hul plig om dit op te eis en te gebruik. Hulle moet self ook hulle misnoeë met die nuwe beleid en implementering daarvan duidelik maak,” het Bailey gesê.

“AfriForum beskou die beskerming van studente se grondwetlike reg tot Afrikaanse onderrig as baie belangrik en is bereid om dit tot op die hoogste vlak met regsaksie te verdedig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andre ·

UNISA is vandag n skadu van wat dit was. Sal niemand aanraai om daar te studeer nie.

Anoniem ·

Vra maar net……Wonder wie hou ons Universiteite aan die gang!!!!!!!

JC ·

Wel, Afriforum gaan in elke geval die hersieningsaansoek WEN…SO…die saak MOET net so vinnig as moontlik op die hofrol kom om aangehoor te word!!

Emile ·

Afrikaanse studente kan dan mos net sowel in Engels deur beter ge-akkrediteerde buitelandse universiteite studeer deur afstandonderrig. Hulle het dan mos nie meer vir Unisa nodig nie.

Hoeveel geld staan Unisa te verloor indien hul 20 000 Afrikaanse studente skielik elders gaan studeer?

Victor ·

UNISA het dieselfde akkreditasie as ander Suid Afrikaanse universiteite. Ja, daar is beter afstandsonderrig oorsese universiteite, die koste is die een faktor wat jy nie in ag neem nie. Vergelyk ‘n UNISA graad se koste met ‘n soortgelyke graad van bv. die Open University in Groot Brittanje, UNISA is baie beskostigbaar

SZ ·

Ek is baie bly dat afriforum die geveg voortsit om Afrikaans in Universiteite te red, maar ek glo nie dat dit reg toe gepas word nie, moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is trots Afrikaans maar ek dink dat die hofsake baie uit die Universiteit se begroting vat. Dus dink ek dat eerder om sukses te behaal en Universiteite te bevorder moet ons weirder die geveg teen die Departement van Hoër Onderwys vat om dit teen die wet te maak om die taal beleid te verander. Die hofsake vat die begrotings swaer en dus plaas dit druk om die Fooie op te stoot. ek stem glad nie saam met die #FeesMustFall-Beweging nie want ek glo Universiteit is `n voorreg en nie `n reg of plig nie, maar ons moet dalk ook kyk om die instansie in daardie opsig te prober beskerm. As ons as mense Univeriteite Beskerm teen goed soos fooie wat opgaan dan sal belangrike goed soos `n biblioteek nie deur `n babaar afgebrand word nie, so ook as die student projekte loots om kampusse self te onderhou(wats fout daar mee om die student wat ekobewaring studeur of soorgelyke vorme van groen studie rigtings te se een van hul vorms van assesering is bewaring van die plant lewe op kampus) dus kan aangestelde werkers in plaas van om gras te sny en tuin te bou, geboue verf en so aan en nie `n kontrakteur benodig word nie.

Victorious ·

Bye bye Unisa!!!!!
kan die afrikaanse studente by ons eie afrikaanse universiteit langafstand onderrig ontvang?
kan iemand ons help met inligting by afriforum asseblief?
Baie dankie

JC ·

Middag Victorious, AKADEMIA is jou antwoord.
Hulle bied afstandonderrig UITSLUITLIK in AFRIKAANS, ingebou met interaktiewe multimedia sessies en/of kontaksessies tussen in. Dis die toekoms. Danksy AKADEMIA, hulle is befonk!! Sluit vandag as lid aan by Afriforum en help BOU aan AKADEMIA, ons eie privaat uitstekende Suid-Afrikaanse, Afrikaanse Universiteit!
AKADEMIA bied aan: BCOM ondernemingsbestuur, BCOM Bestuursrekeningkunde, BCOM Ekon & Regte en BCOM Finansiele beplanning, met verskeie uitbreidings op modules wat aangebied word in die komende jare. Jy kry ook ‘n gratis tablet as student.
Volgende jaar kom BCOM Rek en verpleegkunde by hoera!
VIVA AFRIKAANS!VIVA AKADEMIA!VIVA DIE SOLIDARITEIT GROEP!!

Victor ·

JC, ek het gedink Akademia bied lesings aan en dat dit nie afstandsonderrig is nie. Hoe werk dit, kry mens jou studiemateriaal elektronies, en waar skryf jy eksamen?

Wanneer gaan Akademia kyk na die BSc stroom?

Victor ·

Vat al die geld wat gebruik word vir al hierdie hofsake, en skep ‘n privaat universiteit wat in Afrikaans lesings aanbied. Druk die geld in Akademia in sodat hulle afstandsonderrig ook kan aanbied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.