Unisa gʼn ‘kwalifikasiefabriek’ – studenteraad

Die Unisa-kampus in Pretoria. (Foto: Gauteng-toerisme)

Unisa se nasionale studenteraad sê hy neem met “afsku” kennis van berigte wat die integriteit van dié universiteit se kwalifikasies diskrediteer en die harde werk van die universiteit se studente tot niks reduseer nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn verslag deur ʼn ministeriële taakspan wat die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, aangestel het om ʼn onafhanklike hersiening van Unisa te doen, het verdoemende bevindings oor die stand van sake by die universiteit gedoen.

Luidens die verslag is daar ʼn netwerk van korrupsie wat gelei het tot institusionele kaping.

Die taakspan het onder meer ook aanbeveel dat Nzimande ʼn administrateur vir ʼn tydperk van twee jaar aanstel en dat die universiteitsraad ontbind word.

Die studenteraad het teruggekap en sê hy verwerp die “ongegronde bewerings en is bekommerd oor die georganiseerde, doelbewuste aanval op die standaard van kwalifikasies by die universiteit”.

Die studenteraad sê die berigte is daarop gemik om die universiteit te ondermyn en Unisa uit te beeld as ʼn “rigtinglose onderrigruimte” wat ineengestort het.

Volgens die studenteraad is Unisa besig met die bou van ʼn nuwe sakemodel wat beleggers en skenkers gaan lok en wat die universiteit in staat sal stel om studente finansieel te ondersteun, veral dié wat uit armer huishoudings kom.

“Unisa-studente is van die hardwerkendste en hulle werk deurlopend hard om hul kwalifikasies te behaal. Die mediaberigte wat die universiteit afmaak as ʼn kwalifikasiefabriek minag die harde werk van Unisa-studente.

“Die media is besig met ʼn direkte veldtog om die kwalifikasies van die universiteit te diskrediteer, Unisa-gegradueerdes tot ʼn standaard van niks te reduseer nie en die transformasiewerk van die universiteit af te maak.”

Hulle sê voorts gegradueerdes van alle universiteite sukkel om werk te vind en dat die probleem veel wyer as net Unisa is.

Kwalifikasies word deur die Raad op Hoër Onderwys geakkrediteer en alle kwalifikasies word by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (SAQA) geregistreer. Die studenteraad sê Unisa lewer die grootste getal gegradueerdes en meer as 30% van onderwysers bekwaam hulle daar. Unisa is volgens hulle die universiteit met die laagste studiegeld en die studenteraad waarsku teen die sogenaamde pogings om die universiteit in ʼn slegte lig te stel.

“Ons sien die seksistiese, rassistiese en klassistiese aanvalle as doelbewuste pogings om die kwalifikasies van Unisa te diskrediteer.”

Die studenteraad sê hy beywer hom ook om te verseker dat geregistreerde studente maandelikse data ontvang om te studeer, dat fisieke gradueringseremonies weer ingestel word en dat alle Unisa-kampusse ten volle funksioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

45 Kommentare

pestilensie ·

Skrif was aan die muur toe Malema sy graad daar verwerf

minnie muis ·

die joker het nie eers matriek nie… hoe kon hy graad kry

Jan Seerot ·

Moenie sy kornuit vergeet wat sommer doktor geword het nie.

Chris dupreez ·

Om n graad in politieke wetenskap aan Unisa te kry ,lyk vir my makliker as om st 7 houtwerk te slaag.

Jaada ·

Interresant dat die rasse kaart gespeel word sodra hulle vasgevat word vir “poor performance” By my werk het ‘n swart bestuuderes by my gekla dat hulle se sy is ‘n rassis omdat sy een aangespreek het vir sy swak werk.

Nie Verbaas ·

Onthou, hulle demand en jy durf hulle nie aanspreek as hulle totaal en al hopeloos is nie.

marius ·

Ook geen korrupte staats amptenarre of kaders in die hool nie . Alles is piekfyn .

Hennie ·

Studente raad? Kan mens die goed studente noem? Wat ‘n spektakel maak die goed nie van hulself nie. Destyds toe liewe heksie nog “in” was, het ek nie gedink gifappeltjies is so skadelik nie, maar nou weet ek! Gelukkig studeer ek nie by UNISA nie! Ek sou myself dood skaam!

ES ·

Hennie, ek is ‘n trotse Unisa student en ek het my werk vergelyk met ‘n vriend wat ‘n Tukkies student is, wat dieselfde graad studeer as ek en ons werk (finale jaar studente) se kwaliteit is 95% dieselfde.

quartus ·

Die nuwe UNISA is lankal nie meer vergelykbaar met die ou UNISA nie.

Miskruier ·

Ja, toe het studente van oor die wereld hul grade hier verwerf,toe dit nog iets werd was.

Nie Verbaas ·

Hulle sal dit nie erken nie, dit is mos hoe dit is en weereens is dit weerspieëling van standaard. Soos ek al gesê het. As jy nie weet dat jy nie weet nie, is daar nie veel salf aan te smeer nie.

Misky ·

Wonder wie is die lede van daai studenteraad. Hulle kriteria van wat ‘n goeie standaard is en meeste van ons, verskil hemelsbreed!!!

Saartjievandiebosveld ·

Unisa is soos die Engels sou sê …USELESS.. My seun het in 1996 deur hulle sy studies gedoen…toe was hulle puik. Al die studie materiaal was betyds.ens. bietjie meer as 20jaar later het my neef se dogter deur Unisa probeer studeer. ..gesukkel om in te skryf…kry die studie materiaal ‘n week voor die eksamen of gladnie. Sy het by Afriform se aanlyn Universiteit in geskryf. ..en.. alles verloop seep glad. Die enigste probleem is Eskom se krag onderbrekings wanneer sy aanlyn eksamen skryf….maar sy het ook ‘n plan om dit te oorbrug.

Harley Davidson ·

Sa se hele onderwys stelsel van primêr tot sekondêr het so agteruit gegaan dat dit in baie eerste wêreld lande nie meer aanvaar word nie ,Zimbabwe wat die Cambridge stelsel behou het se onderwys is beter as Suid-Afrika sin.

Kokerboom ·

Twak studenterad. Ek neem met “afsku” kennis van jul oningeligte opinie asook totale gebrek aan realisme!!

Wielspore ·

All in all you are just Another Brick in the Wall, die studente raad se reaksie is in lyn met die standaarde van UNISA.

Kokerboom ·

ALLES wat funksionerend was en wat ANC kaders die afgelope 27 jaar hul “denke” en kloue opgelê het is gereduseer tot as! Miskien is dit van toepassing dat UNISA aan ANC kaders ‘n graad in destruktiewe ekonomie toeken.

Jan Seerot ·

Ek voel my genoop daartoe om ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi.

UNISA het nog altyd ‘n hoë druipsyfer gehad. Nie net dit nie, maar ‘n hoë opskopkoers ook. Kyk, ek weet nie wat die geval nou is nie, maar 35 jaar gelede het ek harde bene gekou by UNISA. R.H. Stockhoff was die registrateur, die akademici was streng en die eksamens was moeilik.

Registrasie was eenvoudig en vinnig. Jy daag op, registreer, betaal en vanaand kan die lampie maar brand. Oktober, die mooiste, mooiste maand, was ‘n nagmerrie doerie tyd. Eksamentyd.

Ek kyk terug met trots, vreugde en danksegging na UNISA.

Nou wat maak julle nou met die eens trotse akademiese instelling? Moet julle manne werklik alles breek?

Leon ·

Vroeër die grootste(?) afstandonderig universiteit in die WÊRELD met n reputasie wat enige plek in die wereld gerespekteer is . In die grond gery deur regstellende aanstellings, kaders en die ANC in die algemeen soos soveel ander instansies in SA. DENEL, ESKOM, weermag, spoorweg, ens

piet ·

Stem. UNISA se standaard was hoog toe ek 30 jaar plus terug daar gestudeer het. Ek het nogal my eerste eksamen tydens grensdiens op Katima Mulilo geskryf. Deeltyds studeer is nie maklik as jy werk ook nie, dit wil gedoen wees.

Shakespeare ·

Unisa uitvoerende komitee = 99% BEE. Ineenstorting onvermydelik. EFF sterk verteenwoordig op die Studente Raad is ‘n VET minus en ‘n resep vir enige onbevoegde jan rap om n graad te kry. Malema as voorbeeld.

piet ·

Jy kan baie dinge van Malema se maar hy is nie dom nie, definitief nie.

Jdb ·

Hierdie sogenaamde studenteraad is ‘n grap. Niks meer nie as ‘n politieke organisasie wat hom beywer vir gratis studies, gratis kos, gratis kwalifikasies en ‘gratis sakgeld’. Hul nuwe hoofdoelwit? Gratis data.
Dit spreek dus boekdele dat so baie onlangs gekwalifiseerde (sogenaamde) onderwysers hul kwalifikasie by Unisa ‘verwerf’ het. Kyk maar na die skokkende swak standaard van onderwysers in die platteladse streke van die Ooskaap, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes.

lodewyk ·

Nou is dit weer rassisties??-Waar n rookie trek is daar n vuurtjie,jy as student gaan mos Unisa goed praat as jy jou kwalifikasies op n skinkbord kry?? -Ek wat moderasie doen vir verskillende opleidings besighede het opgelet met wat se GR12 sertifikate van die studente toelating kryby Unisa -al die simbole is F (33-40%),snaaks dat ons nou kan agter kom hoekom SA se staats instellings se bestuurders en ander hoe poste nie bevoeg is om hulle werk te doen nie,die standaard op skool vlak is klaar verlaag,nou volg die universiteite???

Samuel ·

‘n UNISA kwalifikasie was lank gelede ‘n gesogte een. Is die standaard wat destyds, twintig jaar gelede gegeld het, steeds dieselfde?? Al wat agtergeblewene is, loop deesdae met ‘n graad te koop.

Martie Smartie ·

Hoeveel van julle wat so lustig en listig kommentaar lewer, weet nou eintlik wat die standaard v Unisa se kwalifikasies is vergeleke met ander universiteite? Dis nou weer ‘n monduitspoel oefening hierdie van ‘n klomp oningeligtes. Daar is steeds baie puik akademici werksaam by Unisa. ‘n Swak bestuursraad beteken nie noodwendig swak kwalifikasies nie. Blade Nzimande teiken blykbaar Unisa se bestuur. Elke universiteit het probleme. As jy feite het oor swak standaare by Unisa, laat ons gerus hoor. Mens wil graag feite hoor.

Michael ·

My dogter het pas in Julie haar BSc.IT by Unisa voltooi. Die gedagte dat die standaard swak is, is BOG. Wat wel waar is, is dat die administratiewe proses baie swak is en dat daar hier en daar ‘n dosent is wat maar traag is om te reageer. Sy het baie maklik werk gekry, trouens sy het begin werk die 1e dag na haar laaste eksamenvraestel geskryf is en deel van die onderhoudproses was ‘n praktiese toets wat sy gemaklik geslaag het. Mense moet maar eers bietjie feite kry voordat hulle uitsprake oor standaarde maak

piet ·

Stem Martie ek het ook onderandere ‘n kwalifikasie by UNISA. Ook by UCT en Kovsies kwalifikasies behaal. Daar was definitief nie ‘n probleem met UNISA se standaard toe ek daar gestudeer het nie.

Ian ·

Lee blikke maak altyd die meeste geraas. Die waarheid is nou op swart en wit en bewys maar net weer die etiese gedrag van transformasie en mense wat korrupte prosesse wil beskerm. Kap so veel julle wil en skram weg en raas en skel dit ganie help nie UNISA is nou ook bevlek met die ANC se kanker dade.

Miskruier ·

Die studente werk, weet egter nie of die bestuur werk nie.

Wakkerslaper ·

….eens opgebou deur die Europese nasate tot ‘n wêrelderkende universiteit. Afgebreek tot ‘n hool van sub-standaarde en korrupsie deur die Afrikaan…

Ian ·

Verstaan dit heeltemal. In 1996 my MBL verwerf daar en 2020 my LLB. Nou nog nie lg sertifikaat ontvang nie en jy kan maar netsowel jou navrae in die toilet gooi – geen response. In 2009 is my MBL nog in Qatar erken. In 2017 geen Unisa kwalifikasies nie. Ek kan aangaan…

Johan ·

Akademia is puik. Minder as ‘n week gevat om in te skryf by hulle. Unisa het my 6 maande later laat weet hulle het nie plek vir my nie. Dit was in Maart toe het alle inskrywings reeds gesluit by ander universiteite

Sarel ·

Vraag is wat is deesdae die dorl vzn die Studenteraad
Anders as politiek .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.