Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) gaan die hof op ʼn dringende basis nader om die besluit om hom onder administrasie te plaas, te betwis.
Die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, het Unisa amptelik onder administrasie geplaas. Die aankondiging is Vrydag amptelik in die Staatskoerant bekend gemaak. Daarvolgens word prof. Ihron Rensburg vanaf 27 Oktober vir twee jaar as administrateur aangestel.
Unisa is egter van mening dat die minister se aankondiging voortydig en in minagting is van die hofbevel van 6 Oktober wat hom verbied het om die universiteit onder administrasie te plaas. Volgens die hof se uitspraak is Nzimande se kennisgewing ook strydig met ’n vorige hofuitspraak wat op 24 Augustus deur dieselfde hof gelewer is. Na aanleiding van dié uitspraak mag daar nie ’n besluit rakende die administrasie van die universiteit geneem word nie hangende die finalisering van Unisa se interdikaansoek om die onafhanklike assessor se verslag te hersien en tersyde te stel.
Unisa meen verder die minister se aankondiging kom op ʼn slegte tyd en is onsensitief aangesien studente besig is met eksamens.
Nzimande het egter gesê sy besluit om Unisa se raad te ontbind en ʼn administrateur aan te stel kom na deeglike oorweging van die bevindinge en aanbevelings van die onafhanklike verslag deur prof. Themba Mosia en die regering se verantwoordelikhede in die beskerming van openbare belange in die bestuur van Unisa. Volgens Nzimande is bevind Unisa gaan gebuk onder chroniese bestuursmislukkings en dat die raad die hoofoorsaak van die probleme by die universiteit is.
Nzimande het Rensburg as administrateur aangestel. Hy het voorheen as die visekanselier en rektor van die Universiteit van Johannesburg gedien en het ook in 2021 as die administrateur van die Vaal‑Universiteit vir Tegnologie gedien.
Rensburg se aanstelling is vanaf 27 Oktober vir ’n tydperk van 24 maande. Volgens Nzimande sal Rensburg op ’n tweejaarlikse basis aan hom verslag doen en by die voltooiing van sy aanstellingstydperk word daar van hom verwag om binne 30 dae ’n skriftelike verslag aan die minister voor te lê.
Nzimande het gesê Rensburg se rol sal onder meer wees om die rol, bevoegdhede, funksies en pligte van die raad vir die twee jaar oor te neem. Daar sal van Rensburg verwag word om prosesse en inisiatiewe te identifiseer en te inisieer wat behoorlike bestuur by die universiteit sal herstel, asook om ʼn omkeerplan te ontwikkel en met die implementering daarvan te begin.
Rensburg sal verder ’n onafhanklike eksterne ondersoek (’n forensiese oudit) inisieer na die reeks finansiële onreëlmatighede wat in die verslag geïdentifiseer is en volledige regsprosesse volg waar kriminele aktiwiteite duidelik is.
Bestaande beleide en institusionele reëls wat verouderd is, moet ook hersien word. Rensburg moet ook verseker dat ’n nuwe raad so gou as moontlik en in ooreenstemming met die institusionele statuut saamgestel word. Lede van die universiteit se uitvoerende bestuur sal toegelaat word om hul huidige termyne uit te dien en Rensburg sal op grond van prestasiebeoordeling bepaal of hul termyne verleng moet word of nie.
Ek verstaan nie, of daar is ‘n foutjie erens. Rensburg is aangestel vir 24 maande maar moet 2-jaarliks verslag doen. Beteken dit dat sy aanstelling verby is voor hy verslag hoef te doen?