Unisa hof toe oor stakers

Hoopvolle voornemende student wag buite die Unisa-kampus nadat die instansie gesluit is weens die dreigende staking (7 Januarie 2019). Foto: Brenda Masilela/ANA

Unisa het Vrydag ʼn interdik bekom teen studente wat al sedert Maandag by dié universiteit staak en bedrywighede op die kampus in Pretoria ontwrig.

Die universiteit sê in ʼn verklaring hy het die Gautengse hooggeregshof genader en versoek om ʼn interdik teen die stakers toe te staan aangesien stakers nie net bedrywighede op die kampus ontwrig nie, maar ook studente en personeel verhoed om die kampus binne te gaan.

Altesaam 14 respondente word in die interdik genoem, onder wie die studenteorganisasie Sasco, die ANC-Jeugliga, die EFF-studentekommando, die Nasionale Raad vir Studenteverteenwoordigers en die minister van polisie.

Luidens die interdik is die respondente en enige van hul direkte of indirekte ondersteuners of verwante groepe verbied om binne 50 m van enige ingang van die Unisa-kampus aan protesoptrede deel te neem. Die stakers mag ook aan geen protesoptrede deelneem wat bedrywighede op die kampus ontwrig of studente of personeel se regte skend nie.

Stakers mag ook nie ingange versper of enigiemand verhoed om die kampus binne te kom of te verlaat nie. Die interdik verbied stakers ook om enige gevaarlike wapens by hulle te hê naby die kampus.

Die hof het ook die SAPD opdrag gegee om te verseker dat alle redelike stappe gedoen word om te verhoed dat ingange en uitgange van die universiteitskampus versper word, verkeer op en rondom die kampus ontwrig, asook enige eiendom beskadig word.

Polisiebeamptes monitor die situasie buite die Unisa-kampus (7 Januarie 2019). Foto: Brenda Masilela/ANA

Die respondente het kans tot 28 Maart om vertoë aan die hof te rig oor hoekom die bevel nie finaal gemaak moet word nie.

Maroela Media het vroeër berig hoopvolle studente moes Maandag op die sypaadjies buite Unisa se kampus in Pretoria sit in die hoop dat die hekke oopgemaak sal word nadat die instansie gesluit is weens die staking. Sedertdien het die staking verskerp, ondanks die universiteit se pogings om met die stakers in gesprek te tree.

Martin Ramotshela, woordvoerder van die universiteit, het Maandag gesê die universiteit het op die eise van die studente gereageer. Sasco het ʼn lys van eise ingedien, waaronder dat studente van handboeke en skootrekenaars voorsien word.

Ramotshela sê sommige kwessies wat deur die studente geopper is, is opgelos en daar is ingestem dat die skootrekenaars aan hulle gelewer sal word voor die akademiese jaar begin. Hy sê egter van die studente se eise het intussen uitgebrei en nou soek hulle meer as wat hulle aanvanklik geëis het, byvoorbeeld dat handboeke ook aan hulle voorsien moet word. Die stakers eis ook dat alle registrasiefooie by die universiteit geskrap moet word en dat ʼn inbelsentrum op die been gebring word om studente met hul aansoeke te help.

Lundi Nhlenyama, voorsitter van Sasco, hou vol studente is nie onredelik nie aangesien handboeke en skootrekenaars noodsaaklike hulpbronne vir studiedoeleindes is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

student ·

So wie kry nou rekenaars en wie nie. Daar gaan net elke keer meer vereistes wees totdat alles uitmekaar gaan val.

Oom Willem ·

Lekker! Ons vra net en ons kry maar wie gaan betaal? Ek moes self registrasiefooi, klasgelde en losies betaal. Ek is sommer lus om weer te studeer maar soos die ou liedjie gaan: “Lighty, jou vel is te vaal”

brens ·

Ek wil net weet asb; wie betaal vir die gratis handboeke; universiteits fooie en rekenaars? NSFAS studente moes aansoek gedoen het al verlede jaar? Is hierdie studente wat nie aansoek gedoen het nie?

Gert ·

Is dit nie diskriminasie as studente gratis skootrekenaars kry en die res van ons kry niks? Wat maak hulle meer spesiaal as die wat direk na matriek produktiewe werk begin doen? En hou hulle die skootrekenaar as hulle na ‘n maand opskop?

ne ·

Die bakhand kultuur gaan maar net aan en aan en aan. Alles in die lewe is mos gratis!

zoom zoom ·

Hoekom is daar nie gratis onderwys vir kinders vanaf graaf 1 tot graaf 12 nie. Hoekom moet graad 12 leerlinge betaal om matriek eksamen te kan skryf. Die klomp wat daar rondlê het geen behoefte om te gaan studeer nie. Die gratis gelde wat sekere studente ontvang word geblaas op en alle ander dinge behalwe dit waar voor dit brdoel was. Want hullr weet hulle gaan nie daai geld terug betaal nie en miks gaan ook met hulle gebeur nie as hulle nie die geld terug betaal nie.
Lady Pandor moet wakker skrik. Sy en al die kaders lewe in ‘n traans.

George ·

Bestaan daar nie meer so iets soos lenings wat mens aanvra nie? Vir ‘n hele klompie jare is daar maandeliks van my salaris afgetrek totdat die hele lening afbetaal was. Moes ook my eie boeke ens self koop. Sou so’n gratis onderrig met gratis tablette ens nogal geniet het en dalk sommer dan BAIE doktorsgrade behaal het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.