Akademia het positief gereageer op die Konstitusionele Hof se uitspraak op 22 September wat ten gunste is dat Afrikaans steeds deel van die onderrigtaalbeleid van Unisa behoort te wees. Vir Akademia is hierdie uitspraak nog ʼn pen in die grond wat die stryd vir Afrikaanse onderrig behels.
Ligpunte in die uitspraak is die regter se klem op die feit dat Afrikaans deur ʼn groot hoeveelheid mense vanuit verskeie taal- en kultuurgemeenskappe gepraat word en dat Unisa daarom toegang in Afrikaans behoort te gee. Verder het die hof bevind dat die vraag na Afrikaanse onderrig nie dalend is nie en noemenswaardig in omvang is.
“Alhoewel Unisa ʼn openbare universiteit is (ʼn staatsorgaan, aldus die regter), beklemtoon die uitspraak die beginsel van toegang tot onderrig in die taal van jou keuse waar doenlik en moontlik,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia. “Wanneer hierdie uitspraak in samehang met die ‘Gelyke Kanse’-uitspraak beoordeel word, skep hierdie regspraak baie ruimte vir Afrikaans as onderrigtaal en soveel te meer vir privaat instellings, soos Akademia.”
Die kwessie wat deur hierdie saak belig is, is dat openbare universiteite (veral Unisa) nie daarin slaag om toegang te skep vir minderheidstaalgroepe nie. Visser reken dat die ideaal sou wees dat daar moontlikhede van hoë gehalte is vir byvoorbeeld die Venda-, Ndebele- en Afrikaanse student tot dieselfde mate as die Engelse student.
“Openbare universiteite argumenteer dat dit nie prakties uitvoerbaar is nie en dat die oplossing is om ʼn eentaalbenadering te volg,” voeg Visser by. “Hierdie toedrag van sake lei daartoe dat taalgemeenskappe op hulself aangewese is en dat die staat slegs ʼn Engelse alternatief bied. Laasgenoemde is as’t ware deur hoofregter Mogoeng bekragtig toe hy die opmerking gemaak het tydens die Gelyke Kanse-uitspraak, dat die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal in die hande van die taalgemeenskap (lees privaat) lê.”
Vir Akademia is hierdie uitspraak positief. “Ons hoop dat Unisa daadwerklik planne sal maak om weer programme in Afrikaans aan te bied. Intussen spoor die uitspraak ons aan om vinniger en harder te werk om self toegang tot Afrikaanse hoër onderwys te skep en uit te bou.” Akademia se wense is dat daar ander minderheidstaalgemeenskappe is wat ook die selfdoenpad wil loop. “Ons is gereed om ʼn hand van vriendskap en hulp uit te reik.”
Dit maak nie regtig saak nie. Hierdie organisasie is verby useless en hulle kwalifikasies word nie erken in bv die Midde Ooste nie. My MBL in 1996 verwerf. Toe kon jy nog reaksie uit hulle kry. My LLB einde 2020 voltooi. Tot vandag toe nie ‘n woord oor my sertifikaat nie, maak nie saak by wie ek dit aanroer nie.
Afrikaans en sy kultuur word orals uitgeboender en ons moet maar net ja en amen sê anders word ons ook nog daaroor uitgekryt as rassis. Daar is ‘n magdom van universiteite wat in Engels klasgee, maar die klein handjievol universiteite wat in Afrikaans klasgee word aangeval. Kan mense nie sien wat hier aan die gebeur is nie? Nou word daar ‘ruimte’ geskep vir Afrikaans. Ons moet ook orals ‘ruimte’ skep vir almal. Dis tyd dat ons maar koebaai sê vir ons kultuur want dit word in elk geval al lankal ‘ge-expropriate’.
ruimte vir 10 minute
Totaal en al n klug ,die werkers by unisa is meestal Engels magtig so die kommunikasie sal net in Engels plaasvind so ook die merk en opstel van take.Wat moet gebeur is die onderhandelinge moet begin word vir ‘n onafhanklike tuisstaat waar ‘n unisa gebou kan word vir Afrikaans sprekende mense ,soos die instituut wat in Lesotho is vir Sotho sprekende mense.
Dis net ‘n klein groepie wit mense wat kla oor alles verengels. Ek sien en hoor nooit Afrikaanssprekende kleurlinge kla nie. Swart sprekers van Xhosa, Tswana ens kla ook nie. Is al die gekla nou ook regtig nodig?
1. Almal verstaan tog Engels. Dis dan al uit die ou SA se tyd ‘n verpligte vak op skool.
2. Wees bly julle wat so kla woon nie in Indië nie. Daar is Hindi, wat net deur 2 derdes van die bevolking gepraat word, die amptelike taal saam met Engels. Miljoene Indiërs wat nie Hindi praat of verstaan nie, nie ly daaronder.
3. Lag eerder vir die ANC se taalbeleid, want hulle vervang ‘n klein wit taal van onderdrukking net met ‘n baie groot wit taal van onderdrukking. Ja, Engels is ‘n wit taal uit ‘n landjie Engeland in Europa. En dié wit Engelse onderdruk al vir eeue in die Engelse taal. Eers in Wallis, Skotland en Ierland; later dwarsoor die British Empire (1 derde van die wêreld in 1921).
UNISA is seker al 99% vol regstellende aksie en BEE. Dit behoort ook aan die Staat, wat deur die regstelselende aksie behepte ANC beheer word. Ek wil egter graag die volgende oor Akademia weet: hoe kom hulle by regstellende aksie en BEE verby? Dis wette wat vir privaat besighede ook geld. Wanneer ‘n privaat besigheid se aantal personeel ‘n sekere getal oorskry en/of as die besigheid se finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry, MOET regstellende aksie toegepas word. Daars ook inspekteurs van die dept van arbeid wat besighede monitor vir regstellende aksie. So hoe kom Akademia verby regstellende aksie? Wats die kanse dat dit oor 10-15 jaar nog steeds Afrikaans gaan wees?
Ek is tans ‘n Unisa student. Geen vakke wat ek die afgelope jare gedoen het, is aangebied in Afrikaans nie. My mede-studente, wat ook nie Engels as eerste taal het nie, kan skaars hul werkstukke baasraak, want hul verstaan nie die konsepte wat nie in hul moedertaal onderrig word nie. Ek begryp dat die kommunistiese stelsel wat deut die ANC bedryf word, vereis dat alle kulturele bedrywighede beperk moet word en dat sommiges die uitsluiting van Afrikaans as deel daarvan beskou, maar in ‘n wêreld arena maak dit meer sin om akademies bekwaam te word in Engels. Dit skep ruimte vir ontwikkeling buite ons landsgrense. Hou jou taal lewendig deur dit te praat in jou omgewing, maar leef meer universeel.
“Eendrag maak mag” kry hier nuwe betekenis. Met hierdie tipe oorwinnings is dit nie meer net n lee politieke retoriek nie. As dit oor n regverdigheidsbeginsel gaan, waarom nie? Wag laat die belasting kwessie ook eers in die nuus kom, dan sal ons die monde hoor. “Hou Koers”