Unisa ondersoek fopnuus-werknemer

William Mahaltse Ramatseba het glo 15 webwerwe met fopnuus geskep. Foto: Facebook

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) sê hy stel ondersoek in na bewerings dat ʼn werknemer webwerwe en Facebook-blaaie geskep het om fopnuus te versprei.

News24 het in ʼn ondersoek na fopnuus onthul William Mahaltse Ramatseba, ʼn kantooradministrateur op Unisa se kampus in Sunnyside, Pretoria, is na bewering die meesterbrein agter minstens 15 fopnuuswebwerwe.

Die webwerwe wat Ramatseba en sy suster na bewering bedryf het, het valse gerugte versprei, onder meer dat die Dros-verkragter swart is en die slagoffer wit, terwyl die teenoorgestelde die geval is. Die doel van dié fopnuus was glo om rassehaat aan te blaas.

Op die webwerwe, waaronder dailyreport.co.za, mzansistories.com, mzansinewsonline.com en allnews1.com, is ook ongegronde sensasionele berigte oor bekendes en politici gepubliseer, byvoorbeeld dat Malusi Gigaba, wat pas as minister van binnelandse bedank het, sy uitgelekte seksvideo vir sy minderjarige meisie gemaak het.

Die tuisblad van die een van die 15 webwerwe met fopnuus wat William Mahaltse Ramatseba glo geskep het.

Martin Ramotshela, Unisa-woordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hul ondersoek na die aantygings teen hul werknemer is nog in die beginstadium. “In die eerste fase van ons ondersoek sal ons die waarheid van die News24-berig probeer vasstel. Dis waarmee ons nou besig is.”

Hy sê die universiteit kan hom nie op nuusberigte verlaat wanneer hy moet besluit of teen werknemers opgetree sal word al dan nie.

As Unisa se ondersoekers in die eerste fase van die ondersoek vasstel dat hul werknemer wel die fopnuuswebwerwe geskep en bedryf het, sal hy geskors word.

Unisa beskou die aantygings in ʼn baie ernstige lig. Ons kan dit nie sommer afmaak as onbenullig nie.

“In die tweede fase van ons ondersoek sal ons kyk of hy ons geriewe misbruik het ten einde die webwerwe te bedryf en of hy ons gedragskode oortree het deur die universiteit in diskrediet te bring.” Dan kan verder teen hom opgetree word.

Hy sê Unisa beskou die aantygings “in ʼn baie ernstige lig. Ons kan dit nie sommer afmaak as onbenullig nie. Maar ons moet die regte van die werknemer met dié van die universiteit balanseer.”

Ramotshela sê omdat die aantygings eers laat verlede week gemaak is, het Unisa se ondersoekers nog nie kans gehad om dit bewys of weerlê nie. “Hulle sal wel voor die einde van die week heelwat van hul ondersoek afhandel en ons help besluit hoe ons verder sal optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

skerpioen ·

Mense val so maklik vas in HAAT. As jou hart vol haat is, word dit soos kanker wat jou hele wese opvreet. Mense versprei maklike haat as liefde. Maar liefde oorwin alles.

Hoe nou....... ·

Kom ons sien hoe goed julle is om die mense te vervolg.

Karolis ·

Pasop tog net om nie te tegnies te raak nie en sodoende skuiwergate oop te los nie. Kry hom skuldig en straf hom of los hom.

Antoinette ·

Plaas dat hy sy werk doen waarvoor hy betaal word dan sal daar duisende ander mense makliker iets uitgerig kry met Unisa want hulle is maar pateties verby!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.