Unisa sê hy is besig met uitbetaling van NSFAS-toelaes

Unisa-kampus. Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Unisa het Donderdag bevestig dat hy sowat R247 miljoen van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) ontvang het en dat die instansie reeds begin het met die uitbetaling van toelaes aan kwalifiserende studente.

Dít volg kort nadat NSFAS sy kommer uitgespreek het oor mediaberigte wat beweer Unisa het nog nie enige toelaes aan hul NSFAS-studente uitbetaal soos ooreengekom nie.

“NSFAS wil dit boekstaaf dat studente van [Unisa] reeds hul toelaes moes ontvang het, aangesien ʼn bedrag van R247 078 688,97 op 6 Februarie aan die instelling oorbetaal is,” het die studentefonds Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens NSFAS het Unisa en 25 ander universiteite ingestem om toelaes direk aan studente oor te betaal nadat hulle voldoen het aan die voorwaardes vervat in ʼn memorandum van verstandhouding. NSFAS sê R3 miljard is reeds aan die 26 instansies oorbetaal.

“Die eerste betalings is gedoen om te verseker dat studente wat vir die eerste keer inskryf asook senior studente wat deur NSFAS goedgekeur is, hul toelaes kan ontvang om met akademiese bedrywighede te begin,” lui die verklaring.

NSFAS sê dat daar van die universiteite verwag word om die fondse direk aan studente oor te betaal om te verseker dat hulle geld vir kos, akkommodasie, boeke, leermateriaal, vervoer asook ander lewenskostes het. Daar word ook verwag dat NSFAS genoeg fondse beskikbaar stel om die eerste paaiement van klasgelde te betaal.

Unisa het gesê dié instansie het Woensdag SMS’e aan kwalifiserende studente gestuur om te versoek dat hulle hul Intellimali-kaarte by die Unisa-streekskantoor gaan afhaal. Intellimali het ook bevestig dat dié diensteverskaffer studente se PIN-kodes Donderdag aan hulle sou stuur sodat hulle toegang tot hul toelaes kan kry.

Intellimali is die diensverskaffer wat die administrasie van fondse namens NSFAS by die tersiêre instansies bestuur.

Volgens Unisa kan studente hul kaarte aktiveer deur die IntelliMali-program af te laai en die instruksies op die kaart te volg. Die kaart kan ook op die webblad of by enige handelaar soos boekwinkels, Checkers, USave of Shoprite geaktiveer word. Studente kan dan hul Intellimali-kaarte by gekose verskaffers gebruik net soos ʼn bankdebietkaart gebruik sou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

D B ·

Nou gaan universiteite landwyd afgebrand word, want hoekom het net UNISA en ‘n paar ander geld gekry…

Chris du preez ·

Hoekom word die geld mie deur NSFAS self uitbetaal nie. Hoekom moet universiteite en kolleges dit doen. Sodra daar probleme is met die geld dan word daar by die instansies betoog en gebrand. As dit deur NSFAS uitbetaal word kan daar by hulle kantore betoog word en die polisie kan dit monitor terwyl die ander studente kan aangaan met hulle kursus by die universiteit of kollege. Ek sien geen doel daarin hoekom hierdie instansies met NSFAS probleme moet opgesaal sit nie.

bren ·

NSFAS moes NOOIT ooit al die geld direk in hul rekenings betaal het nie; die studente koop nie hul boeke soos in verlede nie! Hoe gouer hul teruggaan na die ou proses hoe beter!

Alida ·

Oeps watch the space. Een van die dae hoor ons hoe die geld verdwyn het. Korrupsie sal voortduur tot in ewigheid.

Elana ·

ons ondervind baie probleme met unisa. ons wag baie lank al vir geld wat terug betaal moet word en agv dit kan ek nie my kind se studies betaal by ‘n ander instansie nie
dit is hopeloos om te probeer kommunikeer met unisa geen eposse word beantwoord nie
geen telefoondiens word verskaf nie ek weet nie meer wat om te doen nie ons is al amper in middel Maart en ons wag nog steeds dit is vir my baie swak dat ‘n instansie van unisa se grootte se kommunikasie so pateties is. volgense my staan hulle vir ‘n beter toekoms en wat doen hulle nou net die teenoorgestelde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.