Unisa sê oor kwessies met akademiese kalender

Unisa se Sunnyside-kampus. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het gesê hy neem kennis van kwessies wat studente op mediaplatforms aangeroer het oor die aanvang van die 2021- akademiese jaar en akademiese ondersteuning vir studente.

“Die bestuur is bewus van dié kwessies en poog om dit te takel deur die betrokke bestuur-, konsultatiewe en besluitnemingstrukture binne en buite die universiteit,” het Tommy Huma, woordvoerder van Unisa, gesê. “Deel van die prosesse is ook gesprekke met die nasionale studenteverteenwoordigingsraad (NSVR) (wat ʼn gesprek met die departement van hoër onderrig en opleiding insluit) oor die veranderinge aan die akademiese kalender vir 2021.”

Unisa het ook direk kontak gemaak met rekeningkundige studente oor die Sertifikaat in die Teorie van Rekeningkunde (STR).

Huma sê dit was noodsaaklik om veranderinge aan die akademiese kalender aan te bring, nie net om matrikulante te akkommodeer wie se uitslae eers op 22 Februarie 2021 beskikbaar sal wees nie, maar om ook NSFAS-studente te ondersteun wie se finansiering eers in April 2021 vrygestel word. “Dit het ten doel om minstens 250 000 studente te akkommodeer wat steeds eksamen of aanvullingseksamens skryf (en wie se vraestelle nog gemerk moet word),” het hy gesê. “Dit was ook belangrik om die akademiese kalender te laat klop met die ministeriële opdrag dat alle universiteite eers in Maart 2021 met hul akademiese programme begin.”

Huma voeg by dit is belangrik om kennis te neem dat die uitdaging nie tot Unisa beperk is nie – of ʼn besluit wat deur Unisa se bestuur geneem is nie, maar ʼn kwessie wat eerder ontstaan het uit die behoefte om die onderrig- en leerruimte behoorlik te bestuur in die lig van die Covid-19-pandemie.

Studente moet teen 12 Maart 2021 vir hul eerste en tweede semestermodules registreer. “Die besluit om die registrasie te kombineer het ten doel om tyd te spaar wat gewoonlik gebruik word vir semesterregistrasies tydens Julie en bied die geleentheid dat die twee semesters verleng kan word om verlengde onderrigtyd te verskaf.”

Studente wat na verwagting hul kwalifikasie in die eerste semester sal afhandel, word nie negatief hierdeur geraak nie. “Hulle sal geïdentifiseer en geakkommodeer word deur ingryping op kollegevlak, insluitend F1-konsessies om seker te maak dat hulle wel hul kwalifikasies in die eerste semester kan afhandel.”

Studente word ook nie negatief geraak deur die betaling van fooie nie, omdat dit versprei kan word en teen dieselfde pas betaal kan word as wat dit gewoonlik plaasvind. Alhoewel studente reeds teen 12 Maart 2021 vir die eerste en tweede semester moet registreer, hoef hulle eers hulle studentegeld te betaal teen die datum wanneer dit gewoonlik vir elke semester betaalbaar is, ondanks die feit dat hulle gesamentlik vir albei semesters registreer.

Die veranderinge aan die akademiese kalender raak nie nagraadse studente, opleidingskollege of STR-studente nie.

Die studentekommunikasiedienssentrum is Maandae tot Vrydae, 08:00 – 19:00 en Saterdae 08:00 – 14:00 beskikbaar by 0800 00 1870.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Toe ek deur Unisa gestudeer het,was daar nie semestermodules en eksamens nie. Eksamens was aan die einde van die jaar afgelê.

Michael ·

Ek verstaan nie hoe studente wat in die 1e semester hul kwalifikasie sou voltooi nie negatief geraak word nie-UNISA LIEG. My dogter sou nou haar graad voltooi in 1e semester, maar nou moet van haar werkopdragte eers in Julie ingehandig word en die eksamendatums strek van Sep tot Des. Dis een groot GEMORS. Verder moet studente nou vir 2e semester registreer vir vakke wat hul nog eers in 1e semester module moet slaag-hoe maak dit sin? Wie ookal hierdie besluite geneem het verstaan duidelik nie hoe die semestersisteem werk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.