Unisa-studente ‘radeloos’ oor swak kommunikasie, admin

Die beweerde kommunikasie- en administrasieprobleme by Unisa is oënskynlik niks nuut nie. (Foto: Gauteng-toerisme)

Talle Unisa-studente wat vroeër vanjaar gegradueer het, sit met die hande in die hare omdat hulle steeds wag vir hul sertifikate om hulle te bereik.

Ten spyte daarvan dat hulle hul kwalifikasies voltooi het, kan dié studente nie aansoek doen vir werk of selfs verdere studie voordat hulle die dokument ontvang het nie.

“Ek is radeloos. Daar is geen kommunikasie nie. As iemand net die foon antwoord en vir my sê ‘meneer, jy gaan jou sertifikaat eers in 2087 ontvang’, dan weet ek minstens. Jy kry nooit ʼn antwoord nie en die fone by Unisa hou net aan lui,” het ʼn student aan Maroela Media gesê.

Weens vrees dat sy sertifikaat selfs verder vertraag gaan word, het hy op voorwaarde van anonimiteit gepraat.

Omdat fisieke gradeplegtighede weens Covid-19 opgeskort is, word die sertifikate na studente gekoerier.

“Dit is óf uiters oneerbiedig teenoor studente om hulle so te behandel, of Unisa is bloot onbevoeg. Ek weet nie meer watter een nie.”

Die student, wat Engels en Taalkunde studeer het, wil so gou moontlik Engels as vak in die buiteland begin aanbied. Daarvoor het hy ʼn sertifikaat van sy kwalifikasie nodig. Die kwalifikasie moet dan boonop aan die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid voorgelê word sodat dié kan bevestig dat dit eg is, sê hy. Daarna moet die departement van internasionale betrekkinge en samewerking ʼn brief verskaf wat sê die kwalifikasie is geverifieer, waarna hy vir ʼn visum kan aansoek doen.

Sommige van die boodskappe wat Unisa-studente met mekaar deel.

Maar ten spyte van sy harde werk en hoop op ʼn nuwe loopbaan, het die hele proses reeds by die uitreiking van die sertifikaat ontspoor.

“Ek is nie ʼn onredelike mens nie, maar ek kan nie onbepaald wag nie. Ek wil net ʼn manier hê om met Unisa te kommunikeer.”

Die beweerde kommunikasie- en administrasieprobleme by Unisa is oënskynlik niks nuut nie. Nog ʼn student sê sy het verlede jaar ook maande gewag om haar sertifikaat te ontvang.  Nadat sy einde ten laaste die sertifikaat ontvang het, kon sy inskryf vir nagraadse studie.

Die student sê sy het in Oktober verlede jaar haar laaste vak vir hierdie rigting in ʼn ses uur lange eksamen voltooi en ʼn boodskap gekry dat die vraestel suksesvol ingedien is. Kort daarna het dit egter aan die lig gekom dat talle studente wat die vak geskryf het se vraestelle gekorrupteer is. Sy moes die eksamen dus weer aflê.

Dít het in Januarie gebeur. Op die dag van die eksamen het die skakel om die vraestel te kry egter nie gewerk nie. Dit is sowat ʼn uur later reggestel en die ses uur lange vraestel is summier tot vyf ure verkort. Studente moet boonop sowat 15 minute voor die spertyd verstryk hul vraestelle elektronies indien – vir ingeval daar verdere probleme opduik.

Op haar eksamenuitslae wys dit nou sy het die vak geslaag, maar die myUnisa-portaal wys steeds nie dat haar kwalifikasie voltooi is nie.

Op sosialemediaportale het Unisa-studente onder mekaar laat weet dat dit wel moontlik is om ʼn sertifikaat by die kampus te gaan afhaal.

Die student met wie Maroela Media gesels het, het later laat weet dat hy só sy sertifikaat kan gaan haal.

“Studente is nou op hulself aangewese om antwoorde te kry. Dit is jammer dat studentegroepe op sosiale media nou ʼn plaasvervanger geword het vir ʼn plek om inligting te kry.”

Vir talle studente wat Unisa se afstandonderrig juis gebruik omdat hulle nie naby die kampus woon nie, is dit egter nie moontlik om hul sertifikate self te gaan afhaal nie.

Tommy Huma, woordvoerder van Unisa, het in reaksie op Maroela Media se navrae gesê die universiteit sal later kommentaar lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nuustak

Almal wat my ken weet hoe groot hoofpyn UNISA vir my is. My drie jaar graad het onverwags in vyf jaar verander as gevolg van swak administrasie en geen kommunikasie. Ek moet sommige “verpligte” vakke oordoen wat ek nie nodig gehad het om te doen in my eerste en tweede jaar nie. Die ergste is hoe sommige belangrike grade wat deur UNISA aangebied is nou uitgefaseer begin word.

Yvonne

Nog n fantastiese plek wat verniel is…tragies

JohanR

Werk NIKS in die ANC land nie?

quartus

die probleem by UNISA het n naam : regstellende aksie.