Unisa-studente woedend oor wending ná vraestelle uitlek

‘n Skermskoot van die SMS-boodskap waarin ‘n eksamenvraestel te koop aangebied word. (Skermskoot: Verskaf)

Studente aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) is woedend nadat die instelling bevind het dat vyf uit die agt vraestelle wat gedurende die Mei-Junie-eksamen uitgelek het, aan die einde van die jaar oorgeskryf sal moet word.

Maroela Media verneem dat alle studente wat vir die modules FAC3701, MAC3701, ECS2602, ENG1501 en ENG1502 geregistreer is, die eksamen weer sal moet aflê ongeag of hul hulself skuldig gemaak het aan die koop van die uitgelekte vraestelle of nie.

Die universiteit se besluit het veral studente in hul finale jaar warm onder die kraag aangesien dit hulle akademies ses maande terugsit en sommiges dus nie nou betyds aan voorvereistes sal voldoen wat nodig is vir hul toekomsplanne nie.

ʼn Student wat by Unisa studeer wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, was veronderstel om twee modules die afgelope semester af te lê en dan vyf modules in die tweede semester om aan die einde van die jaar sy graad in rekeningkunde te verwerf. Hy sou dan kwalifiseer om aan die begin van volgende jaar vir die CTA-eksamen te registreer. Studente kan slegs aan die begin van die akademiese jaar vir dié eksamen registreer.

Die student moet egter FAC3701 en MAC3701 oorskryf. “Om nou sewe vakke volgende semester te skryf en deur te kom, is onmoontlik. As ek dit nie slaag nie, kan ek eers in 2021 vir die CTA registreer. Dit sit my ses maande terug,” vertel hy.

Die student verduidelik dat hy hoegenaamd nie ʼn probleem het om die vraestelle oor te skryf nie, maar hy wil dit wel vroeër skryf. Die student het saam met talle ander glo die versoek aan Unisa gerig, maar die versoek is nie aanvaar nie.

Die student vertel hy verneem dat daar nou sprake van betogings op die digitale boodskapplatform Telegram is.

ʼn Ander student, wat dieselfde vraestelle as die vorige student moet oorskryf, was veronderstel om in die tweede semester klaar te wees met haar studie. Sy studeer egter deeltyds en sal dus vier onbetaalde verlofdae moet neem om die ekstra twee vakke oor te skryf.

Unisa-kampus. Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Sy vermoed dat dit ʼn personeellid/lede moes wees wat die vraestelle uitgelek het. “Die vraestelle kom by die eksamenlokaal aan, jy voel vertroud met die proses en dan gebeur dít. Dit is nie my skuld nie. Ek was eerlik en nou word ek benadeel. Dit moes iemand gewees het wat direkte toegang tot die vraestelle gehad het.”

Sy is veral ontstoke aangesien daar ná die lek nog geen haan gekraai het oor wie verantwoordelik gehou word vir die situasie nie. Volgens haar staan die vraag soos ʼn paal bo water: “Wat gaan keer dat dit volgende semester weer gebeur?”

ʼn Derde student het op haar beurt aan Maroela Media gesê sy is ʼn ouditeursklerk en het slegs drie vakke gekort voordat sy haar graad kon verwerf. Sy was veronderstel om teen Oktober vanjaar graad te vang en haar raadseksamen in November te skryf. Met die oorskryf en oponthoud sal sy die eksamen nou eers in Mei volgende jaar kan aflê.

Sy vertel dat ʼn ouditeursklerk in dié stadium van sy of haar loopbaan maar min verdien en dat sy so gou moontlik die raadseksamen wou aflê om meer te verdien.

“Ek voel dit is bitter onregverdig van die universiteit om dit aan ons te doen. Dit was nie ons fout dat die vraestelle uitgelek het nie. Dit is die universiteit se verantwoordelik om ons as studente te beskerm en seker te maak dat sou [’n vraestel] lek, die persoon wat dit uitgelek en verkoop het, geïdentifiseer word. Ek is geweldig geskok met hoe Unisa die situasie hanteer,” vertel die student.

“Dit is my toekoms wat op die spel is. Dit is my brood en botter.”

Ná herhaalde pogings kon Unisa se woordvoerder nie vir kommentaar bereik nie. Dit is nie duidelik of iemand al in verband met die uitlek van vraestelle aangekeer is nie.

Lees alle vorige berigte rondom die onlangse ongerymdhede by Unisa hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marike ·

Waar ons altyd ons uitslae middel van Junie tot middel Julie gekry het omdat ons middel Junie eksamen geskryf het kry ons nou eers uitslae vanaf 16 Julie en studente het net tyd van 16 Julie tot 8 Aug om te registreer vir volgende semester modules.

student ·

Ek stem saam, die werkers by unisa is baie swak. Hulle is onbehulpsaam en onbekwaam. Die lektors is wel baie goed en dis jammer dat die universiteit deur sulke swak administrasie werkers afgetrek moet word.

Lizelle ·

Die lektore wat verantwoordelik is vir hierdie vraestelle moet aangekla word by SAICA (of by hulle betrokke professionele liggame) aangekla word. Dit is teen alles waarvoor hierdie professionele liggame staan en mense wat vraestelle uitlek moet nie deel van die professie wees nie.

Admin ·

Dit is nie die lektore nie. Dit is die patetiese admin staf wat net daar is om salaris te trek. Die akademiese staf is briljant, die administrasie staf gee nie ‘n veer om vir studente nie.

André Basson ·

Hierdie “Luciano Tutors” bestaan wel. Weet nie of hulle gekonekteer is soos uit skermskoot van sms. Wonder net.

Johan ·

Hulle wil mos verneuk….. Dis net jammer van die eerlike studente.

Antoinette ·

Dit is hoekom my dogter UNISA gelos het. Sy is vir 7 lange jare elke semester ingedoen met punte. Pateties. Voel al skaam om te se jy het by UNISA geswot. Maar hulle staan bakhandjies vir registrasiegeld!

Anoniem ·

Ek studeer nou al 5 jaar by Unisa en dit het elke jaar net verder en verder agteruit gegaan. Hierdie is nou die kersie op die koek.
Ek is self een van die studente wat nou n internasionale werksgeleentheid kwyt is oor ek nou moet wag tot Oktober om oor te skryf.
Pateties om die minste te sê.

Oud Rhodie ·

Nog `n eens trotse instelling verrot van binne. Dit is te tragies vir woorde.

Finale jaar unisa student... ·

In my matriek jaar het ek die keuse gehad om te gaan leer by Universiteit, of ek kan werk en studeer by UNISA. Ek het besluit om die werk en studeer opsie te kies aangesien ek praktiese ondervinding opdoen en nie my ouers/myself met studieskuld opsaal nie en hoe moeilik kan dit dan nou wees? Na 6 jaar se gesukkel met UNISA het ek uiteindelik Mei/Junie my laaste eksamen geskryf… of so het ek gedink. Ek droom al van die begin van die jaar af, hoe ek met September se gradeplegtigheid my graad gaan ontvang – die woede in my kan nie beskryf word nie.

Landie ·

Die oneerlikes wat nou speel met die eerlikes se toekoms. Ek voel baie jammer vd ouens wat hulle kant gebring het en besig was om hulle “nuwe” toekoms te beplan.

Frikkie ·

By die Eksamen sentrum in Nelspruit is vraestelle deur toesig personeel verkoop. Blykbaar vir etlike jare gebeur voordat hulle uit gevang is, en deur nuwe personeel vervang is.

Naj ·

Baie jammer vir almal wat weer moet skryf.
Dit sou seker nogal duur wees vir unisa, om al die venues vir net 5 vraestelle te huur. Maar hulle is ook hiervoor verantwoordelik.
Life’s not fair.. sterkte aan almal

Zombie ·

Google maar Unisa se “university ranking” en dit sal alles verduidelik. En die UFS vaar nie veel beter nie. Wat kan tog die gemene deler in die verval wees?

Piet Snot ·

Wat kan tog die gemene deler wees, inderdaad?
Waarom is dit net die afgelope paar jaar so?
Krap ek nou my kop!

GM ·

Sit almal maar eerder deur, dan sal geboue ten minste nie afgebrand word nie.

Jammer vir die eerlikes wat hard gewerk het. Gaan soek eerder jul heil in ‘n ander land. Hier maak dit nie saak hoe hard jy probeer werk nie.

Fran ·

Luciano Tutors doen dit al vir jare. Wat ek nooit kon verstaan nie is waar hulle elke jaar, jaar na jaar, my sel nommer gekry het. My sel nr was nooit op MyUnisa gepubliseer nie, en net Unisa het my nr gehad. Laat mens dink wie by Unisa in die admin gebou deel die inligting uit, en vir wie en watse modules die student mee besig was. Elke semester weet Luciano wie ek is en watse modules ek mee besig was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.