Unisa-uitspraak ‘plaas groter fokus op belang van moedertaalonderrig’

Lede van die DAK Netwerk, ʼn groep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, tydens ‘n vroeëre betoging in Stellenbosch. (Foto: Mia Slabbert)

Die Konstitusionele Hof se uitspraak in die Unisa-taalbeleidsaak plaas groter fokus op die belang van moedertaalonderrig en die reg van die individu om daarop aanspraak te maak.

Só het die DAK Netwerk gesê in reaksie op die uitspraak dat die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se besluit om weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal by die instelling ongrondwetlik is.

“Die DAK Netwerk is verheug oor en verwelkom die uitspraak van die Konstitusionele Hof,” het Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, gesê.

Die DAK Netwerk voer die afgelope drie jaar ʼn stryd teen die instelling van die huidige taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) vir die reg van Afrikaanse studente om in hul moedertaal onderrig te word. “Ons eise is in die versoekskrif aan die universiteit oorhandig tydens ʼn protesoptog waarin onder meer versoek is dat Afrikaans as inheemse taal en taal van onderrig erken moet word.”

Die Konstitusionele Hof se uitspraak het volgens Van Wyk bevestig dat Afrikaans nie as onderrigtaal aan die kant uitgerangeer kan word nie, maar as hoogs ontwikkelde akademiese taal sy volle, regmatige plek moet inneem en as sodanig erken word.

“Taal is ʼn bemagtigingsinstrument en dit word so in die uitspraak uiteengesit. Afrikaans as tersiêre onderrigtaal is opnuut erken en moet sy volle potensiaal bereik en toegepas word.

“Die DAK Netwerk het aangevoer in ons verset dat Afrikaans nie die taal van die Afrikaner alleen is nie, want die meerderheid van die sprekers van dié taal is bruin en swart, wat nou deur die Konstitusionele Hof erken word.”

Die DAK Netwerk beskou die uitspraak as ʼn oorwinning vir alle Afrikaanssprekendes. “Dit sal die lot van agtergestelde Afrikaanssprekendes in besonder verbeter en aan hulle, veral, die geleentheid gee om in hul moedertaal onderrig te word.”

Volgens Van Wyk het die DAK Netwerk onlangs die minister van hoër onderwys genader met die versoek vir ʼn gesprek oor die status van Afrikaans as inheemse taal. “Ons het ʼn versoekskrif aan hom voorgelê en wag op terugvoering.

“Hierdie uitspraak hou verreikende gevolge in vir residensiële universiteite wat hul algemene taalbeleid betref.”

Die DAK Netwerk het gevra dat daar opnuut gekyk word na die aanbevelings van die destydse Gerwel-kommissie van ondersoek na die posisie van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Die voorheen benadeeldes se Afrikaaps-woordeboek is na bewering ‘n groot trekpleister vi di terugtog van Afrikaders van bo in SA; die ware egte grondliggende en ingebedde taak van stoere Afrikaner in murg en bloed om hul se selv wee te ga vinne. ‘n Kroningsplegtigheid op die trappe van die parlement word glo volgens berigte beplan vir die bloubloedplanmaker-van-Kaapsformaat wat die wawiele weer aan die rol terug oor die Oranje uitgedink het. Pak my se omies, pak ie wa…

Belinda ·

Dankie dat julle ons taal ondersteun en bewys dat afrikaans nie net n wit-taal is of die taal van die opresser is nie.

Kobus ·

Dat dit ‘n voorlegging by die Konstisionele hof geverg het om hierdie uitspraak te bewerkstellig, is onbegryplik. Wat is die agenda van mense wat Afrikaans wil ondermyn…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.