Unisa ‘ver van ineenstorting’, sê raad

(Foto: Jacques Naude/ANA)

Unisa se universiteitsraad hou vol dat dié instelling “ver van ineenstorting” is of ʼn universiteit wat in “chaos verval het” – al staar ernstige bestuurs- en operasionele uitdagings dit in die gesig.

“Die beginsels wat die universiteit saamstel en dryf, bly ongeskonde,” het die raad bevestig.

“Verder bly die universiteit se finansiële lewensvatbaarheid goed en sy gehalteversekeringstelsels is streng soos bevestig deur plaaslike en internasionale gehalteversekeringsowerhede in die openbare sektor en bedryf.”

Unisa het onlangs in die spervuur beland nadat ʼn verdoemende verslag die probleme by dié universiteit openbaar gemaak het.

Die universiteitsraad sê hy het kennis geneem van die verslag en sal eersdaags ʼn omvattende antwoord op die verslag lewer.

“Ons wil egter belanghebbendes verseker dat die bewerings teen van die amptenare van die universiteit deur relevante interne prosesse of deur die regstelsels van ons land getoets sal word.”

Die verslag het onder meer onthul dat duisende rande bestee is aan opknappings aan die visekanselier, prof. Puleng LenkaBula, se ampswoning. Buitensporige bedrae geld is byvoorbeeld aan gordyne bestee (R285 000) en R8 000 is betaal om iemand te leer om ʼn stofsuier te gebruik.

Verdere gevalle van wangedrag en korrupsie is ook blootgelê.

Ondanks dié bewerings hou die raad vol dat Unisa die afgelope vyf jaar “groei en sukses in ʼn reeks van sleutelaanwysers” ervaar het.

Data wat tot die raad se beskikking is, en deel vorm van sy evalueringstelsels en -standaarde, wys dat Unisa ʼn derde van alle openbare inskrywings vir hoër onderwys in Suid-Afrika het. Unisa lewer ook gemiddeld meer as 20% van die hoëronderwyssektor se gegradueerdes.

Die raad voer aan dat The Times Higher Impact Ranking van verlede jaar boonop Unisa in die tophelfte van 1 406 universiteite in die wêreld geplaas het.

Unisa het ook verlede jaar uit meer as 90 nominasies die Zairi- internasionale toekenning vir navorsingsimpak gewen.

Die toekenning is ʼn formele internasionale erkenning van uitstaande prestasie vir hoëronderwysinstellings wêreldwyd op spesifieke gebiede wat betrekking het op navorsing, digitale transformasie en gemeenskapsbetrokkenheid, asook aan diegene wat wêreldwye opvoedkundige uitdagings suksesvol aangepak het.

Wat die universiteit se finansiële gesondheid betref, voer die raad aan dat die instelling ondanks die sukkelende ekonomie floreer.

Vir die 2022-’23- finansiële jaar, wat nog aan ʼn oudit onderhewig is, het die universiteit ʼn geraamde inkomste van R11,2 miljard met uitgawes wat op minder as R8,8 miljard neerkom.

“Dit weerspieël ʼn geraamde surplus van R2,3 miljard,” sê die raad.

“Die raad is oortuig dat hierdie belangrike Afrika-bate steeds ʼn akademiese instelling is wat aan nasionale en globale gehalteversekeringstandaarde voldoen, terwyl dit administratief en operasioneel lewensvatbaar is.”

Die raad sal na verwagting in die volgende paar dae sy volledige reaksie op die onafhanklike assessor, prof. Themba Mosia, se verslag bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.