Unisa-werkers staak weer

Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Kontrakwerkers van Unisa in Pretoria het Dinsdag opnuut begin staak oor ʼn loondispuut en die uitkontraktering van dienste.

Die werkers het gesê hulle eis dat die universiteitsbestuur “hou by hul ooreenkoms” dat hulle ʼn “redelike” loon betaal word en dat die instansie hulle voltyds in diens neem eerder as op kontrakbasis.

Die staking kom ná twee maande se betogings deur werkers by verskeie van Pretoria se hoëronderwysinstansies.

Ntando Sindane, voorsitter van Unisa se studenteraad (SR), het gesê meer as 2 000 werkers neem deel aan die betoging op die Sunnyside-kampus.

Volgens Neo Hlabirwa, voorsitter van die Unisa EFF-studentekommando, het die staking omstreeks 07:00 voor die OR Tambo-gebou op die kampus begin. “Die Unisa-bestuur het nie al die eise van die werkers nagekom nie,” het Hlabirwa gesê. “Hulle het nie tydens verlede maand se onderhandelings die R8 000 [per maand] loon wat die werkers geëis het, teengestaan nie. Hulle het egter besluit om nie onmiddellik hierdie bedrag te betaal nie.”

Hlabirwa het glo Maandag aan Mandla Makhanya, die vise-kanselier, ʼn e-pos gestuur waarin hy hom gewaarsku het dat die werkers weer sal staak as daar nie aan hul eise voldoen word nie.

Martin Ramotshela, woordvoerder van Unisa, het Dinsdag gesê hy is bewus van die staking. “Ek is bewus van wat gebeur, maar ek kan niks meer sê nie, want ek gaan nou in ʼn vergadering in,” het hy gesê.

Intussen het Sindane beweer dat lesings en eksamens gestaak moes word weens die betoging en studente is glo uit die geboue begelei. “Ons is ten gunste van vrede en regverdige onderhandelinge, maar ons kan nie net aanvaar waardeur die werkers moet gaan nie. Werkers is steeds nie in die stelsel opgeneem soos ooreengekom is nie,” het hy gesê. “Ander instansies is Unisa ver vooruit wat betref inkontraktering. Ons verneem daar is lede van die Unisa-bestuur wat onregmatig voordeel trek uit die uitbuiting van die werkers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wat-ek-lees ·

Dit lyk so al asof dinge weer normaal is by UNISA. Abnormaal is mos wanneer niks verkeerd gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.