Universiteit gee toe aan studente se eise

Betoging by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit op 11 Julie 2016 (Foto: @sim_185, Twitter)

Betoging by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit op 11 Julie 2016 (Foto: @sim_185, Twitter)

Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) het sommige van die onmiddellike eise van studente, wat Maandag op verskillende kampusse betoog het, toegestaan.

Die universiteit is Maandag tot ʼn stilstand gedwing toe die ANC-studentegroep Sasco by verskeie ingange van die Summerstrand en Missionvale-kampusse betoog het.

Die betoging hou verband met verskeie kwessies waaronder studentegelde, skuldverligting, studente-uitsettings, personeel wat uitgekontrakteer is en algehele transformasie van die universiteit.

Die onverwagse betoging het daartoe gelei dat die NMMU se opening ná die wintervakansie ontwrig is en volg ná verlede jaar se #FeesMustFall-betogings universiteite landswyd lamgelê het.

Die universiteit het Dinsdag in ʼn verklaring gesê eksamenuitslae sal aan alle studente beskikbaar gemaak word, ongeag of studentegelde agterstallig is. Verdienstelike studente wie se families nie ʼn bydrae kan maak vir tersiêre opleiding nie, sal ook toegelaat word om vir die tweede semester te registreer.

Die universiteit het gesê hy sal verdere kwessies ook aanroer. “Die universiteit is vol vertroue dat die verskeie studentekwessies opgelos kan word en gesprekke duur voort. Die grootste beswaar hou tans verband met ʼn onbeskermde staking, aangesien die veiligheid van personeel en studente baie hoog geag word.”

Die NMMU is tans in gesprek met vakbonde en verteenwoordigers om dié kwessies op te los.

“Die raad van die NMMU het in November 2015 onderneem om sy uitgekontrakteerde werkers weer te integreer. Ons het te goeder trou opgetree om seker te maak dat nuwe werknemers beter daaraan toe is as voor hulle by ons aangesluit het,” lui die verklaring.

Die universiteit het gesê hy is nie ten gunste daarvan om weer die eksamens uit te stel nie en ongeveer 4 200 studente sal Dinsdag- en Woensdagmiddag met eksamen begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Lance ·

Gee in vir alles…so kom mense weg met die belaglike ….tog so bang vir standpunt inneem

anne ·

Dis pateties om die minste te se. Hulle eis net dan kry hulle en as dit nie toegestaan word nie brand die universiteite en skole. Oor ‘n jaar of wat moet hulle in diens geneem word. Red ‘n land met so ‘n nasie

Bravo16 ·

Ek wonder net hoe lyk die punte van die ontevrede studente? Hulle IK’s moet baie hoog wees, want om die heel tyd te betoog en nie te leer nie’ wil gedoen wees Ek moes my alie af geswot het .

humor ·

US, U Bloemfontein UP hier kom ons. Onder die huidige bestel met sy gebrek aan dissipline, gesag en orde gaan betogings in reelmaat plaasvind.

Etienne ·

So “voed” ons “leiers ” op om te verseker SA is nog ‘n mislukte Afrika staat. Blameer dan gerieflikheidshalwe apartheid en die wit minderheid vir die F ….

snoefie ·

tersiere opleiding nes bakste
en huise, lopende water en elektriseteit is luukses nie geboorte reg nie.

Veritas ·

Ek verstaan nie al die bohaai nie. Daar is ‘n eenvoudige oplossing vir al die universiteitsprobleme. Aan die begin van elke jaar moet voornemende studente R20 betaal by registrasie. Twee weke later kan die grade toegeken word tydens ‘n massa-gradeplegtigheid en almal is tevrede. Sodanige kwalifikasies sal internasionaal erken word en ook SA se wankelende ekonomie ‘n hupstoot gee. Inteendeel, die graad is ook nie juis nodig nie soos wat aanstellings by die SAUK duidelik wys.

Johann van Cullinan ·

Ek wil ook verder swot, maar kan die gelde net afbetaal. Kan ek ook, maar gratis swot. Ek wonder net, as almal base wil wees, wie gaan die krywa dan stoot. Kan ek sommer maar my belasting geld terugkry, wat ek al vir 20 jaar betaal, dan het ek mos geld om my vakke te betaal, want die korrupte regering, nie myne nie mors net die belasting geld.

Rapes ·

Johann jy is wit verstaan jy dan nie. Ek moes eers my kinders se studiegelde betaal het voordat hulle toegelaat is. Volgens my is die hele sisteem B.S.

Theresa B ·

So kry hulle, hulle sin en more staak hulle weer oor iets anders want hulle op en af spring en vernietiging van ander se goed, werk. Ook maar ruggraadloos!!

Theresa ·

Behoede die samelewing van toeskomstige professionele mense wat so aangaan as hul nie hul sin kry nie! Gaan dan seker die lessenaar aan die brand steek? As mens net so na die foto kyk, sou mens nooit in jou lewe kon raai dis mense wat probeer iewers kom nie. Pateties is ‘n pragwoord vir hierdie gedrag. Altyd ‘n ou vuurtjie. Altyd kringend, skoppend, skreeuend. Sies man.

gatiep ·

Betaal die studente om te leer,al oplossing wat ek vir julle sien om te doen. En gee groot bonusse aan die wat dop.

Rina Pretorius ·

en so gaan een na die ander universiteite hulle deure toemaak, gaan soek maar solank ‘n oorsese universiteit waar julle kan gaan studeer, SA is n doodloopstraat, met al die geweldenaars op universiteit sal ek nie graag my kind soontoe wil stuur nie

jaco ·

die universiteit behoort aan die staat, wat deur die ANC beheer word, maar SASCO wat by die ANC geaffilieer is, betoog teen die universiteit. iets maak nie sin nie…

Anne ·

Is dit nie eerder “toegelaat word om vir die tweede semester te registreer” nie? Die tweede kwartaal was van April – Junie?

Landi Slatter ·

Dagsê Anne

Ons vra om verskoning vir die verwarring. Dit moet inderdaad “semester” wees, ons wysig die berig. Dankie dat jy ons daarop gewys het!

Groetnis
Landi
nms Maroela Media

Jan maak n plan ·

Aikona mense julle slaan die bal mis. Onthou dis Nelson Mandela Baai en die ANC is groot aan die verloor kant daar – so gee die studente hulle sin en kry in ruil daarvoor n klomp stemme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.