Universiteit van Kaapstad verhoog studentegeld vir 2018

Die Universiteit van Kaapstad. Foto: https://www.news.uct.ac.za

Die Universiteit van Kaapstad het Vrydag aangekondig dat sy studentegeld in 2018 met 8% sal verhoog. Koshuisfooie sal met 10% verhoog en koshuisetes met 12%.

Dr. Max Price, visekanselier van die universiteit, het gesê hy het die aankondiging uitgestel, omdat daar nog “groot onsekerheid was hoe en of die beleid, wat deur pres. Jacob Zuma aangekondig is, ingestel sou word”.

Hy verwys na Zuma se aankondiging verlede week dat eerstejaarstudente van volgende jaar af gratis sal kan studeer.

“Die besluit om die klas- en koshuisgelde by die Universiteit van Kaapstad te verhoog, is nie ligtelik geneem nie, veral in die huidige atmosfeer op universiteitskampusse oor Suid-Afrika heen,” het Price gesê.

Hy het gesê die besluit is geneem nadat daar vergader is met lede van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) en met die ondersteuning van die finansieskomitee van die universiteit.

“UK se fooie blyk hoog te wees relatief tot die ander universiteite in die land, maar as mens ʼn vergelyking moet tref, moet mens bewus wees dat, anders as meeste ander universiteite, is UK se studentegelde alles-inklusief. Ons vra nie bykomende geld vir dienste soos toegang tot die internet, WiFi, biblioteke, rekenaarsentra, Jammie Shuttle, laboratoriummateriaal, fasiliteite vir studente met gestremdhede en ander fasiliteite nie. UK verskaf ook gratis skootrekenaars aan eerstejaarstudente wat gefinansier word deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).”

Price het bygevoeg enigiemand wat in aanmerking kom en voldoen aan die kriteria, sal vir NSFAS kwalifiseer, en UK sal van hulp wees indien die bedrag nie voldoende is om alle gelde te dek nie.

“UK sal bykomende finansiële hulp beskikbaar maak, hoofsaaklik in die vorm van lenings, vir studente uit huishoudings wat jaarliks minder as R600 000 per jaar verdien,” het hy verduidelik.

Price het gesê die verhoging het ten doel om die universiteit se bestaande uitgawes te dek, en die koshuisfooie is hoër om die kapasiteit van die koshuise te vergroot. Etegeld is ook verhoog as gevolg van spyseniering in die koshuise wat nou intern hanteer word, en dus die koste van arbeid verhoog het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adam ·

Die styging is waarskynlik ingebring om voorsiening te maak vir wegneem-etes tydens stakings.

Anoniem ·

Maak maar reg kry die brandweer daar om reg te staan hier kom n ding.

zoom zoom ·

Ja nou sal ons sien hoe die instansies afgebrand gaan wors ter era aan Zuma wat praat voor hy dink.

Coenie ·

Dit is miskien n goeie ding die Rhodes standbeeld is verwyder anders was hy ook beskadig in die brand wat gaan volg

Andre ·

Is dit om te kompenseer vir die wat nie hoef te betaal nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.