Universiteite-alliansie wil hoogste hof toe oor entstofmandate

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Thomas Lohnes / AFP)

Die nuutgestigte Universities Alliance South Africa (Uasa) sê hy sal binnekort dokumente by die Konstitusionele Hof indien oor verskeie hoëronderwysinstellings se beleid wat studente en personeel verplig om teen Covid-19 ingeënt te word.

Dit kom nadat die nege universiteite wat Uasa genader het, nie gehoor gegee het aan die organisasie se versoek om teen Dinsdag hul entstofmandate te heroorweeg nie.

Talle universiteite landwyd het die afgelope ruk mandate ingestel wat studente en personeel dwing om teen die virus ingeënt te word as hulle onder meer toegang tot kampusse en selfs koshuise wil kry.

Uasa verteenwoordig die belange van universiteitstudente en -personeel wat teen dié mandate gekant is en sê sommige van die universiteite het nie eens op versoeke dat die beleid heroorweeg word, gereageer nie.

“Ons het min reaksie van die universiteite ontvang en dié wat wel geantwoord het, het hulle nie aan ons gesteur nie,” sê Stephen May, Uasa sê regsverteenwoordiger.

Die organisasie is nietemin gereed om hom tot die Konstitusionele Hof te wend.

Volgens May handel hulle nou die laaste dokumente af voordat die hofstukke na verwagting volgende week ingedien sal word.

Die organisasie hoop om ʼn behoorlike stel feite voor die hof te bring sodat ʼn “rasionele en regverdige” besluit geneem kan word.

“Die universiteite het ook nou bykomende tyd om met Uasa kontak te maak sodat ons ʼn hofgeding hopelik kan vermy,” sê May.

Dit is ongewoon vir ʼn organisasie om die Konstitusionele Hof op dié manier te nader, maar May meen weens die erns van die saak, is dit ook ʼn nodige stap.

“Hierdie is nie ʼn veldtog teen die entstowwe of die wetenskap daaragter nie – dit gaan daaroor dat individue ʼn keuse het en dat daardie individuele regte beskerm moet word.”

Uasa voer aan dat daar bloot nie genoeg data beskikbaar is om enige soort entstofmandaat te regverdig nie.

“Daar is eenvoudig net te veel onbekendes rondom die veiligheid van die entstof, en daar is nie genoeg data om die doeltreffendheid daarvan te staaf nie; veral omdat die Omikron-variant reeds so maklik versprei,” sê May.

“Dit gaan oor die reg op ʼn keuse. Daarom moet niemand verhinder word om ingeënt te word indien hulle glo dat dit in hul beste belang is om dit te doen nie.”

Die Universiteit van Pretoria (UP) het onlangs aangekondig dat hy nie inentings vir sy studente en personeel verpligtend gaan maak nie, maar studente met hulpbronne toerus sodat hulle self by dié besluit kan kom.

“Die UP is ten gunste van die entstof, maar hy wil eerder oorreed as dwing. Dit is die soort rasionele standpunt wat ons van ʼn hoëronderwysinstelling verwag,” sê May.

Die Konstitusionele Hof sal voordat enige saak aangehoor word, eers ʼn aansoek dat die hof regstreeks genader mag word, moet oorweeg.

“Daarna moet die dringendheid van die saak beoordeel word en al die betrokke partye sal dan hul kante van die saak moet stel.

“Presies wanneer hierdie saak aangehoor sal word, is baie moeilik om te bepaal, maar ons hoop dat die hof die erns van die saak insien,” sê May.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

krodedil ·

Dis die beste nuus OOIT. Ek sal finansieel bydra indien nodig om die entstof arrogansie te beveg.

Trotse Boervrou ·

Sterkte daarmee en dankie dat jul opstaan vir reg en geregtigheid. Glo daar staan baie mense agter julle. SKANDE dat hierdie eens trotse instellings menseregte so vertrap! Die spul wat die dryfveer agter dit is moet ook gedagvaar word.

Groen Ghoen ·

Sterkte, met jul aksie, UASA. Volgens die media het S.A. 40m Covid inspuitings in voorraad? Daar is blykbaar min aanvraag. Teen ongeveer R300,00 elk is dit dus R40miljard waarvan die regering wil ontslae raak. Sekerlik verduidelik dit die frenetiese bemarkingsveldtogte en mandate wat mense wil dwing om die inspuitings te neem?

Groen Ghoen ·

R12miljard (R300,00 X 40m) se inspuitings is in voorraad – verskoon asb. my fout! Met 33m inspuitings reeds toegedien, is die waarde daarvan ongeveer R10miljard. Indien daar 20miljoen Covid toetse teen R200,00 elk gedoen is, is die koste 4miljard. Binnekort gaan R30miljoen inspuitings vernietig word wat by die vervaldatum is. Rofweg bereken het S.A. dus ongeveer R26miljard aan Covid toetse en inspuitings bestee. Is daar iemand wat die werklike direkte Covid kostes bereken het?

Johan ·

Kla die persone verandwoordelik vir die onverantwoordelike bloodstelling van mense aan n gevaarlike middel persoonlik aan van alles waarvoor daar n wet is. Die boosheid moet boet vir wat hul aan mense gedoen en probeer doen het.

Toy ·

Dit is absurd om mense te dwing om iets te vat wat hulle nie wil he nie, almal het ‘n reg om te ja of nee.

Cherokee ·

Miskien.. hopelik.. begin meer en meer mense besef dat die voorspelling van meer as 2000 jaar gelede, verwerklik word. Dit is so geskryf in Openbaring 13.

Dawid ·

‘…but I want to be clear. Nobody will be forced to take this vaccine. I want to repeat. Nobody will be forced to take this vaccine. Nobody will be forbidden from travelling to wherever they want to travel to, including enrolling at school or from taking part in any public activity if they have not been vaccinated. Nobody will be given this vaccine against their will…” Pres. Cyril Ramaphosa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.