Universiteite dalk miljoene kwyt weens taalbesluite

tuks-afrikaans-geweld

Graffiti op ‘n muur by die Universiteit van Pretoria. Foto: Twitter via @_Dakie

Tradisioneel Afrikaanse universiteite kan miljoene rande verloor weens hul besluit om Engels die verstektaal by dié universiteite te maak.

Die vakbond Solidariteit het intussen Vrydag met ʼn regsproses begin om toegang te verkry tot inligting by universiteite oor bemakings en skenkings wat bestem was daarvoor om Afrikaanse universiteite te bevorder.

“Ons sal al die bepalings van die skenkings deeglik bestudeer om seker te maak kapitaal, wat bedoel is om Afrikaans te bevorder, word nie gebruik om Afrikaans af te skaf nie. Ons is daarvan oortuig talle van die skenkings en bemakings hoort nie meer by universiteite wat nou Engels verkies nie,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Volgens Solidariteit is hy die afgelope drie weke oorval deur mense wat geld vanaf die tradisionele Afrikaanse universiteite wil wegkeer na die nuwe private Afrikaanse universiteit, Akademia. Binne ʼn kort tydjie het 1 803 alumni hul debietorders na die Solidariteit Boufonds, wat verantwoordelik is vir die bou van Akademia, verskuif.

“Ons verwag dit sal voor die einde van vanjaar tot 10 000 groei. In dieselfde tyd het bemakings en skenkings uit trusts aan Akademia die R100 miljoen-merk oorskry. Dit is alles geld wat voorheen na die tradisioneel Afrikaanse universiteite sou gaan.”

Solidariteit het ook Vrydag ʼn skrywe en SMS’e aan 90 000 oudstudente van die onderskeie tradisioneel Afrikaanse universiteite gestuur, waarin hulle versoek word om die vloei van hul private kapitaal te heroorweeg.

In die skrywe aan die oudstudente skryf Solidariteit: “Die frustrasie wat ons beleef, is dat honderde miljoene rande se trusts, bemakings en skenkings by voormalige Afrikaanse universiteite lê met die doel om Afrikaanse universiteite te bevorder. Duisende Afrikaanse alumni maak ook finansiële bydraes aan hul almal mater. Ons meen egter tradisionele Afrikaanse universiteite kan nie wegdoen met Afrikaans deur Afrikaanse kapitaal daarvoor te gebruik nie.

“ʼn Gemeenskapsuniversiteit, soos Akademia, is onafhanklik van befondsing deur die staat en stel ʼn taal in staat om haar eie toekoms te verseker. So ʼn universiteit staan los van die heersende en veranderende regeringsideologie en word uit die gemeenskap gebou. Die toets vir die voortbestaan van ʼn taal op hoër vlakke berus daarby of dit ʼn universiteit kan bou uit gemeenskapsenergie.

“Solidariteit wil jou deur middel van hierdie skrywe aanmoedig om eerder die vloei van jou private geld te hersien. Private geld moet eerder voorwaardelik en vir spesifieke beurse en projekte by ʼn bestaande universiteit beskikbaar gestel word. Moet dit nie net in die algemeen skenk nie. Niks verhoed ons om weer ʼn uiters suksesvolle Afrikaanse universiteit op te rig nie.”

In ʼn skrywe aan die verskillende rektore van die universiteite, skryf Solidariteit: “In die lig van die onlangse besluite van die rade om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf, is ons genoop om ʼn aantal stappe te neem en te oorweeg. Ons versoek ʼn volledige lys van besonderhede van skenkers en/of bemakings wat tans of in die toekoms bydra tot die koffers en wat spesifiek geskenk of bemaak is op die voorwaarde dat Afrikaans bevorder word deur sodanige skenkings of bemakings. Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot, trusts, testamentêre trusts, ander regsentiteite, natuurlike persone en erflatings.

“Solidariteit gee aan die universiteite sewe dae om die inligting bekend te maak, waarna met formele regsprosesse ingevolge die Wet op Openbaarmaking van Inligting begin sal word.”

Vir Solidariteit is die dood van Afrikaans by openbare universiteite bloot die geboorte van Afrikaans by private universiteite. “Ons verwag honderde miljoene rande sal in die vorm van kleiner en groter skenkings begin vloei om ʼn nuwe universiteit te bou. Die tradisioneel Afrikaanse universiteite het nog nie die prys van die verlies van Afrikaans bereken nie,” het Hermann gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

126 Kommentare

Bakkies B ·

Solank die afrikaans sprekendes van Mitchellsplein ook baatvind klink dit goed!

Ben Serfontein ·

Skote Petoors.

My Wonder van ons taal Afrikaans balkie dra ek met trots want hy sal oor 1000 jaar nog bestaan.
My geldjie is by Julle Solidariteit.
Dankie Meroela vir julle bydrae.
Ben

Jan ·

In die donker eeue was die wêreldtaal Latyn op universiteite. Met die bloei van nasionalisme het universiteite begin om streekstale te gebruik. Duits, Frans, Hollands, ens. En hulle bly daarby.

Nou gaan ons deur dieselfde proses. As Afrikaanas op universiteit verdwyn, sal ons later nie meer onderwysers in Afrikaans hê nie. Daarna nie meer skole. So sterf ‘n kultuur uit, of herleef in aktIfisfiese rebellie soos Katalaans of Wallies en ander. Ons kan dit nie bekostig nie!

Leeukop ·

Ja onttrek ALLE fondse wat daar was om Afrikaners op te bou, en ALLE alumni ondersteuning, laat al ons alumni bydraes gaan aan Akademia.

elize naude ·

engels is mos ook die “taal van die blankes”… hoekom alleen afrikaans deskrimineer?

Thuunda ·

Solidariteit….jou doring! Wees ‘n doring in hul vlees, en laat Afrikaans weer leef!

Marie Visser ·

Ek stem saam met Thuunda, wees die doring in hul vlees. Ek is God so dankbaar vir die slim mense van Solidariteit wat vir geregtigheid opstaan! God seën julle almal en almal wat jul ondersteun.

magrette louw ·

Thuunda dis nie vir solidariteit om Afr weer te laat leef nie. Die taal is nie dood solank ons dit praat nie. Hulle is slegs n instansie wat in die openbare oog is wat die taak op hulle neem, saam met almal wat reeds die Taal praat

Louisa ·

Die onus rus op ons as Afrikaans sprekendes om die taal lewend te hou deur dit SUIWER te praat. Doen weg met die gewoonte om dit te meng met engelse woorde, met anglisismes en vloek wooorde. Wees trots om suiwer Afrikaans te praat!!

Chrisjan ·

Hierdie sal ‘n goeie oefenlopie wees vir die dag wanneer ons begin om belasting reg aan te wend.

Cherokee ·

Daar is van julle wat so graag voorgee dat ons die keuse het oor hoe belasting aangewend moet word.

GES ·

Dit moes lankal gebeur het. Dit lyk my ons mense moet eers rug teen die muur wees voordat daar beweging kom. Viva Akademia !!!

Popeye ·

Goeie skuif! Sterkte Solidariteit! Ek hoop net alle Afrikaanses trek saam hier.

leon de vries ·

Hou van jou term “Afrikaanses”. Soek al lank na so ‘n inklusiewe alternatief.

Daniel Hugo ·

Die term “Afrikaanses” is deur Adam Small geskep. Dit is gepas dat dit so kort na sy dood weer opduik.

JC ·

Ja! Ons en die kleurlinge is afrikaanses en ons sal aanhou baklei vir ons taal ne Rhoda (khadalie) hoogtyd dat ons saam staan ons deel immers dieselfde bloed!!(3 persent)

JC ·

Ja! Ons en die kleurlinge is afrikaanses en ons sal aanhou baklei vir ons taal ne Rhoda (khadalie) hoogtyd dat ons saam staan ons deel immers dieselfde bloed!(3 persent)

Kobus ·

Afrikaanssprekendes.

O’ja, die Engelses kan maar hul universiteite hou.

Leon de Vries ·

Goeie werk wat Solidariteit doen. Die toekoms van Afrikaans sal deur Afrikaanssprekendes verseker moet word.

leon de v ·

Kom alle Afrikaanses. Laat ons ininsiatiewe ondersteun wat ons wonderlike taal bevorder.

Magriet ·

Moenie vergeet van die Griekwas en ander Afrikaanses in ons land so n pragtige Afrikaans praat nie.

Bob ·

Ag asseblief tog!! En hoe lank dink solidariteit gaan die staat (ANC) julle toelaat om die opleidingsentrum (jy noem dit Universiteit) TOELAAT om te funksioneer sonder om te voldoen aan al die toelating vereistes soos deur HULLE voorgeskry?? En as Dirk sy oe uitvee dan is die instansie ook oorgeneem. En raai wie baat by al hierdie bog?? Mense laat jou kind sy studies doen in Engels. Alle oorseese instansies is in Engels!

Duncan ·

Ek stem saam met jou Bop dis inteendeel net n taal,grootmense wat nou so aangaan oor n taal asof dit n god is hehe.

JC ·

Jou sinisisme en naiewiteit is verskriklik. Ons AFRIKAANSES het nie mense soos jy nodig nie wat net wil gaan le nie ,en nie wil opstaan vir wat hy is nie, waar is JOU fight! vir ons pragtige taal ag shame tog dit lyk my jy het lankal opgegee ek het nuus vir jou die res van ons sal nooit ophou baklei vir ons taal op universiteit en andersins NIE!

Duncan ·

Afrikaans is en sal altyd n kombuis taal bly al gaan jul hoe tekere, kom oor dit en gebruik jul energie op iets meer produktief

leon de vries ·

Dankie Daniel Hugo vir die inligting. Ek is bly om te hoor dat Adam Small die vader van die term is. Dit is regtig besonder gepas dat die term of begrip nou ter sprake kom.

leon de vries ·

Bob: Alle “oorseese” ? Daar is twee foute hier. Ek glo/hoop u kan beide identifiseer. Duncan: “kombuis taal”: Al van die “die-toets” ?. Verder: Ek glo nie Adam Small sou met u stelling saamgestem het nie.

Promtu ·

Stem saam met jou. Laat kinders maar in Engels leer die wereld om ons is tog Engels. Die Afrikaanse universiteit waar na julle verwys het ek dink 5 of 6 studies rigtings en almal in Bcomm (I stand to be corrected). Kom ons se ons besluit boikot Tukkies Stellies en die ander wat dan? Waarheen moet ons kinders gaan om te studeer. Miskien moet ons ook begin besef dat daai ou dreigementjie van ek vat my geld en loop is afgesaag en dra nie juis veel by tot oplossing. Ons is nie meer die enigste mense met geld nie. Ons beter vinnig dink aan alternatiewe behalwe die geld dreigementjie. In die tussen tyd gaan ons kinders maar na die Engelse universiteite om te kwalifiseer want hulle lewens kan nie stop terwyl ons strychnine vir ons taal

Hermann ·

Kombuistaal??? Afrikaans is ñ akademiese taal, anders as die ander 9 SA tale. Dit wat in die akademie beskikbaar en aangeteken is van die ander 9 tale is deur die Afrikaanses gedoen. Hou so aan!

Mina ·

Bob, ek is een van daai mense met ‘n Honneurs agter my naam. As dit nie vir die Afrikaanse Universiteit was nie, was ek nou iemand sonder kwalifikasies. ‘n Taal maak die bevolking van jou land slum.

Tiger ·

Bob ek kan jou net bejammer.Jou insig is duidelik bitter beperk en jou geloof zero.As jy jou nie met die Afrikaanses wil vereenselwig nie kan jy maar.Dis ‘n vry land.Mag jou oe gou oopgaan.Solidariteit staan sterker as wat jy dink en die anc sal baie mooi dink voor hulle iets teen hulle sal doen. Daar bestaan nog howe in die land.

Nico ·

Dis mos nou 100% twak. Was in ‘n afrikaanse skool en twee afrikaanse universiteite. Ek werk in Kanada sonder enige probleem. Ons het mos engels ook geleer.

Graaf ·

Bog. Dink jy regtig die onderigtaal aan universiteite in Frankryk, Duitsland, Finland, Slowakye, Letland, Spanje, noem maar op, se universiteite is Engels? Jou wêreldjie is klein.

Poot ·

Bob
En wat dra jy by tot die behoud van ons taal. Of is jy een van die alewige pessimiste?
Gaan sit gerus op jou hoop.

Dirk Breytenbach ·

Bop en Promtu julle redeneer asof dit moeilik is vir Afrikaanses om Engels te praat. Laat ek julle gerus stel Afrikaanses maak baie maklik die oorgang na Engels soos en wanneer benodig. As iemand matriek geslaag het asook ‘n graad verwerf het behoort so ‘n persoon nie probleme met Engels te ondervind nie tensy hy baie onnosel is en nie sy kwalifikasies werklik verdien nie, of in een of ander obskure skool was wat nie Engels aangebied het nie. Ek weet nie van so ‘n skool nie. Afrikaanses het nog altyd Engels as vak op skool geneem en geslaag hoekom enigsins sensitief wees of jy ‘n werk sal kry omdat jou agtergrond Afrikaans is? Ek en baie ander Afrikaanses het Engels in die sake wereld gepraat, geskryf en bedryf EN ons het ander se tale gerespekteer. Gaan voort met julle wan voortellings ons is nie skaam om Afrikaans te wees nie en ek kan myself behoorlik laat geld in ‘n Engelse omgewing al het ek nie Engels as hoofvak geneem op skool of universiteit nie (kommersieel, tegnies en akademies). Politieke korrektheid bring niemand erens nie en om te redeneer dat alles eintlik maar Engels is of moet wees dui op vreesagtighied of onkunde van een of ander aard.

Vrystater ·

Solidariteit jou doring julle doen fantastiese werk. Doen so voort is trots om lid van julle te kan wees.

Promtu ·

Dirk Breytenbach jy sit die pot so very mis dis nie eers snaaks nie. Dit het net mooi niks te maak met vermoed om Engels te praat nie. Dit het te doen met die die realiteite dat universiteite Engels gaan wees. Niemand se nerens ons kinders moet net Engels praat nie. Wat ek wel se is as die universiteite Engels is gaan ek beslis nie my kind daar uithou net omdat dit Engels is. Hulle gaan in Engels klas draft dis ‘n uitgemaakte saak. Wat stel jy voor moet ons doen?

Liewe heksie ·

Hoog tyd dat daar aan hul bewys word waar die eintlike geld belê word en jul wat so moan oor Engels ek glo dat daar natuurlik klasse in Engels aangebied word of dink julle die afrikaanses is verstanloos regtig

JC ·

Die 3de Afrikaanse Taalbeweging! Dit het die Afrikaanses lankal nodig ne Breyten en Rhoda!

JC ·

Die 3de Afrikaanse Taalbeweging! Dit het die Afrikaanses lankal nodig ne Breyten en Rhoda

Kobus ·

Afrikaanses is plesierig en kan jy dit glooooo…. holla drioo holla drio.

Of sing ons Afrikaners is pelsierig ,,,,,,,

Ek kyk mos nou die dag na die Afrikaner bolmmetjies daar in die tuin…. “Nee man, sê ‘n vriend van my dis Afrikaases blommetjies”.

GES ·

Duncan, dit is jou beskeie mening dat Afrikaans ‘n kombuistaal is. Jy is waarskynlik ook iemand sonder wortels m.a.w. ‘n kind van die heelal.

Casper ·

GES. Dankie vir u antwoord aan Duncan. Afrikaans is n volwaardige taal. Dit is NIE n kombuistaal nie

Andrea van Vuren ·

Stem saam JC. Kan iemand asb. verduidelik waar die woord AfrikaanSES vandaan kom? Is dit weer ‘n sagmaakwoordjie omdat iemand een of ander tyd nie daarvan gehou het nie of is dit in die HAT opgeneem??

Trekker ·

Is daar dalk ‘n soortgelyke plan vir ‘n nuwe private “RSG”?

Hannes ·

Hoog tyd.
ons moet ook so teen BEe, grondvergrype en ander onregte opstaan.
Hierdie is dalk n gorie oefen lopue.

Elmarie ·

Duncan met Afrikaners soos jy het ons nie vyande nodig nie. JY is die doodsteek van ons pragtige taal. Waar kan jy jou beter uitdruk as in Afrikaans.

Duncan ·

“Afrikaners”soos jy dit stel Elmarie is jul eie doodsteek, julle self verantwoordelik vir jul ondergang die “afrikaners” is baie goeie “keyboard warriors” maar andersins bly dit net daar, hulle kan nie ongelukkig nie saamstaan.

Theo ·

Duncan. Dis die “joiners” en draadsitters wat nie kan saamstaan nie. Voel jy dalk tuis? Gelukkig is hulle in die minderheid en orals teenwoordig. Die ware Afrikaners is besig om saam te staan. Nag ou grote.

Arno ·

Duncan, Afrikaans is lankal nie meer ‘n kombuis taal nie. Dit het ontwikkel…. Maar ja ‘n 100 jaar terug was daar hanskakies en joiners – dit het nie verander nie! Viva Afrikaans!

Armando ·

Duncan, jou engelsman! My grade het ek in Afrikaans, by ‘n Afrikaanse Universiteit, en ten spyte van Engelse tekste verwerf! Jy moet tog nie dink die enigste onderrigmedium is Engels nie. Vra die Duitsers, Franse, Italianers, ens… Waar kom hulle graduandi vandaan?

so maak mens ·

Bob en Duncan ek wat Afrikaans LEEF omdat ek op moederskoot dit geleer LIEF KRY en so ook RESPEK geleer is.. dié ketting het ek getrek net vir jul tweetjies Vaarwel.

Bob ·

En ek respekteer oor hoe jy voel oor Afrikaans. En jy mag die ketting trek en my in die toilet afspoel. Jy mag ook jou kop in die grond druk en hoop al die Taal probleme gaan vanself weg.
Maar ek belowe jou die Besigheidswereld daar buite is Engels. Of jy daarvan hou of nie!

Dirk Breytenbach ·

…en niemand het gese ons weier om Engels te praat nie, ons dring net aan op ons regte wat in die grondwet vervat is. Al slaan ek oor na Engels wanneer die situasie dit vereis is daar geen rede hoekom Afrikaans uitgerangeer hoef te word nie. Dis nie ‘n prestasie om Engels te praat nie, dis nodig asook ‘n gebaar van respek om oor te slaan sou die situasie dit vereis. Dit gebeur soom loos en ek weet van bitter min gevalle waar Afrikaanses volstrek weier om Engels te praat. Ons is nie so onnosel om dit te doen nie en ons wil ook onder geen omstandighede enige ander taal oorheers, vernietig, verkleineer of afskaf nie. So wat is die probleem nou eintlik?

Christo ·

Duncan en Bob daar is altyd die University of Zimbabwe vir julle!

elize naude ·

presies sulke kommentare is geen goeie advertensie vir afrikaans nie…

Theo ·

Bob jy is reg, die besigheids taal daar buite is Engels, en ons Afrikaans sprekendes het nie n probleem daarmee nie. Ons het immers in die verlede ons skitterend van ons taak gekwyt daar buite.

Ekke ·

Vir n persoon wat baklei vir Afrikaans meng iemand darem lekker sy taal met engels. Shame en fight.

elize naude ·

kan dit volkome onderstreep… as mens so trots is op jou taal dan praat en skryf mens dit in suiwer… maar dit kan bitter min betogers vir afrikaans…

J ·

Duncan. As Afrikaans n kombuis taal is hoekom lees jy dan Afrikaanse koerante? Hoekom praat jy Afrikaans? Jy is nou net lus vir nonsens praat.

AG ·

Baie trots op julle.
Dink nie die anc regering het hierdie optrede van julle verwag nie.

Pragtig

TM ·

Afrikaans is nie net ‘n kombuistaal nie. Dit is ‘n taal wat kunstefeeste laat sing. Dit is ‘n taal wat ons kinders opvoed vir die wêreld daar buite. Dit is ‘n taal wat ons land kan beskryf soos geen ander taal kan nie. Dit is ‘n taal wat kan tug maar ook lief kan hê, maar die belangrikste is dat dit ‘n taal is wat die houe van die lewe kan vat en elke keer weer opstaan. Afrikaans is nie net letters wat woorde vorm nie, Afrikaans is ‘n kultuur. En ja ek praat Afrikaans in die kombuis want geen plek in die wêreld kuier so lekker soos om ‘n kombuistafel nie.

Tanya ·

Beslis TM vat die woorde so uit my mond. Afrikaans is ‘n kultuur.

Dirk Breytenbach ·

en…. ons lewe deur ons taal, ons kommunikeer daarmee, ons is lief daarmee, ons reik uit daarmee, ons presteer daarmee en ons doen besigheid daarmee. Ons is realisties en intelligent genoeg om te weet dat Engels ‘n wereld taal is. Ons het lankal die lig gesien terwyl die selfhaters nog steeds op die ou deuntjie voort gaan. Ek dink die kommentators wat so afwysend oor Afrikaans is het geheime agendas of onverwerkte gevoelens met ‘n oorsprong hul privaat lewe, nou voel hulle beter as hulle negatiewe dinge kan kwyt raak op die onsigbare sosiale media. Moenie tyd mors met hulle nie daar is ‘n nuwe lewe wat vir ons wag. Soos daar in Engels gese word : “Get over it” ons is besig om vorentoe te beweeg.

Sanet ·

Mooi so, ek is moeg van die “we want” mentaliteit. Maggies! Ek is bly daar is ‘n instansie en sal meer instansies opgerig word vir almal wat Afrikaans is en Afrikaans as taal wil bevorder. Dit is die mooiste taal wat ek hoop my kinders se kinders se kinders se kinders nog met trots sal praat! Solank ons as Afrikaanse mense saamstaan vir n saak is daar hoop en n toekoms.

Stef ·

My vraag is teen watse prys gaan hierdie voor reg kos om dat in Afrikaans te studeer ??? Alles goed en wel maar glo my daar gaan baie afrikaanse mense wees wat dit nie gaan kan bekostig nie wat dit baie graag sal wil

Leo ·

Solidariteit Helpende Hand sal beurse beskikbaar stel. Akademia maak gebruik van moderne kommunikasie (conference call) tegnologie wat studeer baie meer koste-effektief sal maak as by die ou tradisionele staatsuniversiteite.

Adrian ·

Herman ek het n korttermynversekering by verseker uitgeneem a.g. Hul m sekere bedrag kanaliseer vir afrikaans. Stel asb vas of dit so is en waarheen daai bydrae gaan indien dit na n universiteit geplaas word ,,fire” ek hulle en kry n ander versekering. My karre en huisgebou is by hulle verseker

Promtu ·

Hoekom wil dit voorkom of kommentaar verwyder word soos bv Bob se oorspronklike kommentaar? Is die idee dan nie vir oop debate?

Popeye ·

Die prentjie is baie groter as net dit wat voor die hand liggend is. Daar is ‘n stelselmatige en genadelose aanval teen blanke mense op baie fronte; waarvan #AfrikaansMustFall maar een is. Die aanval word deur uiters rassistiese mense gedryf en aangevuur. Ander-kleur Afrikaanses word ongelukkig in die middel hiervan vasgevang. Hierdie drywers van rassisme het geen behae in nasiebou nie, slegs afbreek met alles oorheersing as agenda.

GES ·

Popeye, ons het baie meer mense nodig wat die groter prentjie kan sien. Jou waarneming is puik. Ons is so behep met die klein dingetjies dat die groot dinge oor ons spoel. Ons veg teen die roeibootjies maar sien nie die naderende oorlogskepe nie. “Afrikaans must fall” is net die oortjies van die seekoei wat uit steek.

Popeye ·

Virseker is nie ‘n Afrikaanse maatskappy nie. Die polis word deur Auto&General onderskryf.

Cobus ·

Baie geluk Solidariteit, dit is voorwaar ‘n groot pluspunt vir ons taal. Ons moet nie vergeet nie, aan die einde is dit ‘n stryd tussen lig en duisternis. Ek kan nie verstaan hoekom sommigges kla oor die heuglike gebeurtenis nie. Daar is meer as genoeg instellings waar hulle hul Brits kan bevorder. RAU ,soos TUKS en ander , was spesifiek vir Afrikaansspekendes gestig. Toe was daar reeds meer as genoeg Engelse universiteite. Die doel van die wêreldlinge is om AFRIKAANS af te breek en niks anders nie.

GitsGert ·

Soos julle tereg sê, Maroela: Nou pra’ jy! Aan Duncan: ek het alreeds twee geakrediteerde artikels in jou sogenaamde kombuistaal gepubliseer, asook 2 referate gaan lewer daarin in die buiteland. En ek is besig om meer onlangse navorsing in Afrikaans te vertaal vir ‘n derde kombuistaal-publikasie. Maak dit van my ‘n wonderwerker? Wens hierdie werknemer van jou dan asb geluk….

Irene ·

Ek is so dankbaar vir Afrikaans wat my Vader in die Hemel vir my gegee het Hy het tale gegee nasies gemaak hoekom al die bakleiery gaan lees jul BYBEL niemand gaan vir altyd leef nie

De La Rey ·

Afrikaans is ‘n parasietiese taal wat onstaan het uit Hollands, Engels, Frans, en nog baie ander. Afrikaans was nie deel van die toring van Babel in die bybelse tyd waarna jy verwys nie.

André ·

“Maar ek belowe jou die besigheidswereld daar buite is Engels”……hahaha. Jy hoef dit nie te belowe nie, regtig. Dit beteken egter nie wereldwyd is alle universiteite Engels nie.

Lorette ·

Ai mense, heerlik om almal se skrywes te lees. Het Afrikaanse ma en Engelse pa gehad. Twee van my kinders praat goed Engels, ander twee weer Afrikaans. Self is redelik tweetalig, maar Afrikaans is my huistaal. Ek voel egter vir ‘n Afrikaanse Universiteit – MAAR ver van waar dit uitgebrand kan word! Ek is geen rassis en gun almal hul voorkeure en het goeie vriende onder alle rasse. As ek egter kyk na skoolvraestelle se spelling vandag – Engels en Afrikaans – wonder ek of baie nie liewers moet teruggaan na skole en leer spel. UNISA se vraestelle is soms lagwekkend! Solidariteit, dankie dat julle vir Afrikaans veg – ek waardeer dit en sal julle beslis ondersteun!

PJ ·

Laat afrikaanses se geld vir afrikaans gaan , hoekom moet ons aanhou om ander te help, Dit wat reeds in afrikaans beskikbaar is hoekom dit nou laat verval. Hierdie is weer net n poging om van die afrikaans sprekende akademikuste ontslae te raak. My taal is my trots. Alles word weggeneem waarvoor die afrikaanses gestaan het , so dit raak nou tyd om te se soos die ander altyd se: ” as jy nie van afrikaans hou nie, soek vir jou n plek waar daar nie afrikaans is nie en vestig jou daar” Lank leef afrikaans.

Robby ·

PJ. Ek het vir jou slegte nuus. Die Afrikaans Praters sal vir HULLE ‘n ander plek moet soek om te bly want in Suid Afrika GAAN die regering maak soos hulle wil. Sover dit die geld aangaan wat vir “Afrikaanses” moet help. Kyk hoeveel Afrikaanse famielies bly in plakerskampe?? Waar is julle almal nou?

Kobus ·

Afrikaans praters of Afrikaanssprekendes is die regte benaming. die ander een is soos Engelses.

jose de freitas ·

Ons moet ekonomies ook begin saam staan en die hele BEE kanker se nek ook omdraai.Dit het nie gegaan oor net afrikaans op universiteit nie dit gaan daaroor om alle regsdenkende blankes en westerse waardes te vernietig.

Promtu ·

Afrikaners moet begin besef ” we don’t hold the power anymore”. Dis naief om te dink ons gaan BEE se nek omdraai of dat ons die land geiselaar gaan hou met geld dreigementjies. Ek is baie lief vir Afrikaans dis my taal maar ek is eerste ‘n Suid Afrikaner dan ‘n Afrikaanse persoon.

AFRIKAANS ·

Man Solidariteit…julle verdien n klop op die skouer! Dankie vir julle. Die res wat so anti Afrikaans is en n kombuistaal het, voel jammer vir julle. Hulle noem dit “rugstekers”. Afrikaans sal voort leef, ongeag julle negatiwiteit. Skaam julle! Solidariteit,ek salueer julle. Hou aan,hou uit en hou moed! Daar is meer wat agter julle staan as wat daar “rugstekers” is!

Promtu ·

Oh well ten minste glo Microsoft nog on Afrikaans kyk ons kry dan nou tot ons eie vertaler funksie
“Afrikaans is nie dood hys net uitgepass”

Emile ·

Volgende stap:

‘n Volwaardige Afrikaanse bank. Ek’s oortuig na die rugstekery teen Afrikaans deur talle historiese Afrikaanse banke, sal baie Afrikaanssprekendes hul bankrekenings skuif na ‘n Afrikaanse bank. Dit het my vir jare dwars in die krop gesteek dat bv ‘n groot oud-Afrikaanse versekeringsinstelling soos S@nl@m Engelse swart jeugprogramme soos T@k@lani Sesami borg sonder dat daar post ’94 ooit iets vir Afrikaanse kinders op TV gebied of geborg is nie. My kinders het grootgeword sonder Afrikaanse TV rolmodelle, maar S@nl@m het oor sy voete geval om swart Engelse kinders op te hef. RSG se Afrikaanse weergawe van TS was elk geval ‘n poging in sosiale ingeneurswese om die swart Afrika-kultuur aan Afrikaanse kinders op te dring.

Dankie vir Afrikaanse instellings soos Virseker.

Theo ·

Dankie Solidariteit dat julle doen en nie net praat nie. En dit mense, is hoekom ek by hulle aangesluit het.

Emile ·

Exodus 23:19b “Jy mag die bokkie nie in sy ma se melk kook nie”

Afrikaanssprekendes kan nie handegevou sit en toekyk hoe hul kinders (bokkies) in hul moedersmelk (finansies) gekook word nie. ‘n Universiteit kan nie Afrikaanse geld gebruik om Afrikaans te vermoor nie. Dis immoreel, irrasioneel, onregverdigbaar, onverdedigbaar, onverskoonbaar en on-ondersteunbaar (nuwe woord indien dit nie bestaan).

Ek ondersteun hierdie poging deur Solidariteit volwaardelik en versprei die boodskap.

rudi ·

Dis hoog tyd dat die Afrikaner terug ver vir sy regte met die beste wapen wat daar is: Sy geld.

Rienks ·

Mens moet hoop en opstaan vir jou kultuur en taal tot die einde. As dit eendag gebeur dat Akademia ook nie meer afrikaans kan onderrig nie,dan weet ons,ons het ons beste gegee. Daars niks fout daarmee vir die nuwe generasie om in Engels te studeer nie,maar daar is ook niks fout met die nuwe generasie wat nog in Afrikaans wil studeer nie en Solidariteit sal vir dit opstaan tot hul nie meer kan nie – ek sien geen fout in sulke ywerigheid nie. Die stryd teen Afrikaans is nog nie verloor nie. Hou op veg teen ons eie mense wat nog hoop het vir ons taal. Skep moed!

Hendrik von Wielligh ·

Hou maar die toekoms dop baie van hierdie negatiewe kommentatore sal in die toekoms hul toevlug tot Afrikaanse instellings neem, want dit gaan nie alleen suiwer oor n taalkwessie nie, maar kulturele verskille, godsdiensverskille en morele waardes. Die gebeure wat hom die afgelope tyd by universiteite en afgebrande skole afgespeel het, bevestig dit. Dit mag vir sommiges ondraaglik raak.

GES ·

In die politieke arena gebeur die selfde. Almal wat destyds ‘ja’ gestem het is of oorlede of landuit. Dit lyk my nie almal het die vermoë om langtermein gevolge te visialiseer nie.

André ·

Die (‘eg’)skeiding tussen die Afrikaanse gemeenskap en sg. voormalige Afrikaanse universiteite, het betrekking.

Soos tydens ‘n egskeiding die bates van die boedel regverdig verdeel word, so moet die Afrikaanse gemeenskap ‘n
siviele klasaksie loods teen al die voormalige Afrikaanse universiteite waarvolgens ‘n regverdige deel van al die bates geëis word vir die uitsluitlike gebruik van onderrig en leer in Afrikaans.

Waar daar by Universieit Pretoria byvoorbeeld vyf groot kampusse, oor die afgelope eeu (met groot opofferings van die Afrikaanse mense) gebou is … is dit net regverdig dat die Afrikaanse gemeenskap een kampus opeis (bv die Groenkloof Kampus) vir eie gebruik en SELFBESTUUR.

As dieselfde tipe eise by al die ander universiteite slaag kan ‘n Afrikaanse Opvoedkundige Trust gestig word wat al die gedeeltes van universiteitsbates landswyd bestuur tot voordeel van privaat Afrikaanse opvoeding. Finansiele bates soos pensioenfonds bydraes, beleggings en aandele moet ingesluit word by die genoemde eise.

So ‘n siviele klasaksie vir die verdeling van bates, kan selfs na die Verenigde Nasies en die internasionale hof verwys word.

Hannes ·

Afrikaans kan nie in hulle keele afgedwing word nie, hoekom moet engels en ander tale in ons keele afgedwing word. Weg met afrikaans beteken weg net al die ander tale ook. Wat goed is vir 1 is goed vir almal. Hou op om party te bevoordeel en ander te benadeel.

Vra-maar-net ·

Die storie wat ek onthou, is dat die US gebou is op grond wat destyds deur Jan S Marais geskenk is – op voorwaarde dat Afrikaans altyd ñ gelyke taal by die US moet wees. Anders moet die grond teruggegee word aan, of gekoop word by, die Marais-famile/-trust. Weet enigemand iets hiervan?

Leon ·

Mag jou inligting waar wees, spring ek sewe keer oor my huis se dak. Mag die geregtigheidswiel begin draai.

ada ·

Agri en Solidariteit kan julle uitvindoor wat Vra maar Net vra?

Tossie ·

Ek is ‘n volbloed Afrikaanssprekende en sou so graag wou sien dat almal wat ons dierbare taal so met spelfoute vermink, sal seker maak van korrekte spelling .

Leon ·

Kom ons wys nie vingers nie Tossie. Staan eerder saam en verdra mekaar se foute, maak sodoende seker ons oor n duisend jaar nog hierdie wonderlike taal het, OM sinnelose spelfoutjies te kan maak.

Christo ·

DeLa Rey alle tale is nie suiwer nie maar kom van een of ander Stamtaal English Deutch Nederlands Spaans Zulu Italian Xhosa. ..ens Ka pish!

SI ·

Dankie Solidariteit dat julle namens ons baklei vir ons taal. Ek stem saam … daar is ‘niks’ fout met Engels nie …. wel gelyke regte! Ek is maar net te dankbaar vir hierdie mense wat intree vir ons ….

Niknak ·

Ek is ‘n trotse Afrikaan, ‘n trotse Suid Afrikaner en voel bevoorregd om in Afrikaans onderrig te ontvang het. Met so baie dinge in die wêreld moet ons groei en aanpas. Ek stem dat dit fantasties is dat daar ‘n private instansie opgerig word vir die bevordering van Afrikaans. Met dit wil ek ook sê dat ek glo die toekoms van alle Suid Afrikaners (ongeag van ras) sal beter wees met een voertaal in ons skole. Ek glo dat meeste van die probleme wat ons vandag ondervind is omdat ons mekaar so maklik misverstaan. Ons moet Afrikaans bevorder deur dit in ons huise en ander plekke te praat. Met mekaar, met ons kinders. Maar in die skool, deur die bank moet dit maar Engels wees. Ekonomies gesproke dink ek dit is logies. Dit sal ons sterker maak as een nasie. So as jy voel jy wil ‘n Xhosa, Zulu, Afrikaanse of wat-ook-al skool hê, dan bou jy ‘n privaat en onafhanklike een. En daarby bedoel ek glad nie dat ons die kulturele aspek van lewens moet verloën nie. Wees trots op Afrikaans want dit is ‘n pragtige taal. Ek glo ook dat elke Suid Afrikaanse kind ten minste drie tale magtig moet wees. Engels as voertaal, jou Moedertaal en een ander taal verteenwoordigend van die area waarin jy woon. Voorspoed en beste wense aan Solidariteit vir ‘n suksevolle projek. Ek sal beslis ‘n paar rand julle kant toe pos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.