Universiteite: Eerstejaars mag weer terugkeer

Dr. Blade Nzimande gedurende Woensdagmiddag se mediakonferensie. (Foto: Kopano Tlape, GCIS)

’n Maksimum van 66% van studente word gedurende vlak 2 van die afsonderingstydperk toegelaat om na universiteite en kolleges terug te keer. Dit sluit in alle voorgraadse eerstejaarstudente.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het Woensdagmiddag nuwe maatreëls bekendgemaak wat gedurende vlak 2 van die afsonderingstydperk by die land se universiteite en kolleges sal geld.

Maroela Media het vroeër berig tot 33% van studente is reeds toegelaat om terug te keer na kampusse en koshuise gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk.

Die volgende studente word nou toegelaat om terug te keer na kampusse en koshuise:

  • almal wat reeds op vlak 3 teruggekeer het;
  • alle studente wat laboratorium- en tegniese toerusting benodig om die akademiese jaar te voltooi;
  • alle studente wat praktiese plasings, ervaringsleer en werkplekgebaseerde leer benodig om die akademiese jaar te voltooi;
  • alle voorgraadse eerstejaarstudente.

Nzimande het vanmiddag gesê die res van die land se studente sal na verwagting gedurende vlak 1 van die afsonderingstydperk eindelik toegelaat word om terug te keer na kampusse. Dit sluit in internasionale studente wat in Suid-Afrika studeer.

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Die minister het verder gesê sy departement beplan om die akademiese jaar in Februarie volgende jaar te voltooi. Voorlopige datums vir die begin van die 2021- akademiese jaar wissel tans van 15 Maart tot 15 April.

Die departement van hoër onderwys en opleiding het intussen ’n risiko-assessering van die land se universiteite gedoen wat Covid-19 betref. Universiteite wat ’n lae risiko vir personeel en studente inhou, sluit in die Noordwes-Universiteit (NWU), die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Kaapstad (UK), Rhodes-Universiteit (RU) en Unisa.

Die Universiteit van die Vrystaat, die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) en die Durban-Universiteit vir Tegnologie (DUT) is van die universiteite wat tans as ’n medium risiko beskou word, terwyl die Universiteit van Fort Hare en die Walter Sisulu-Universiteit (WSU) as hoërisikogevalle bestempel word.

Covid-19 by universiteite, kolleges

Volgens Nzimande het die land se instellings van hoër onderwys teen die eerste week van Augustus reeds 1 552 bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld. Dit sluit in 975 personeellede en 577 studente.

Altesaam 35 personeellede en nege studente van die land se 26 universiteite het reeds weens die koronavirus omgekom, terwyl 25 personeellede en 11 studente by TVET-kolleges hul stryd teen Covid-19 verloor het.

Meer as 2 000 personeellede en studente is in kwarantyn geplaas.

Altesaam 115 555 (20%) studente het reeds permitte bekom om gedurende die afsonderingstydperk op kampusse te kom vir onderrig-, leer- en navorsingsdoeleindes.

Byna 30 000 studente en personeellede word daagliks by die kampushekke nagegaan vir Covid-19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.