Universiteite, kolleges bly eers gesluit

Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, opleiding en tegnologie, het Donderdag aangekondig dat universiteite en kolleges se kampusse gesluit bly vir die duur van die vlak 4-afsondering. Geen kontakonderrig sal dus in die hoëronderwyssektor plaasvind tot afsondering afgeskaal is tot ʼn laer vlak nie. “Die risiko vir die verspreiding van die virus is net te groot om toe te laat dat die meer as 2,5 miljoen studente wat aan hoër onderwysinstellings studeer, teruggaan na hul onderskeie kampusse. Ons wil graag die 2020- akademiese jaar voltooi, maar ons kan dit nie ten koste van lewens doen nie,” het Nzimande gesê.

ʼn Uitsondering word gemaak vir finalejaarstudente wat kliniese opleiding moet ontvang en is hoofsaaklik van toepassing op mediese studente.

“Wanneer studente terugkeer na die kampusse sal ons voorsiening maak vir die beskikbaarheid van beskermende kleredrag en handontsmetmiddels. Studente en personeel sal ook voortdurend vir Covid-19 nagegaan word.”

(Foto: Wits)

Nzimande sê leer en onderrig sal egter nie in hierdie tyd ophou nie. “In hierdie tyd sal afstandonderrig plaasvind deur middel van digitale platforms en aanlyn leer. Ons besef dat nie almal toegang tot digitale toerusting en data het nie. Daarom is die departement besig om skootrekenaars aan te koop en te versprei onder elke student wat ʼn begunstigde is van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS). Die departement is ook in gesprek met selfoondiensverskaffers om ʼn ooreenkoms te bereik om toegang tot data aan behoeftige studente te verskaf.”

Volgens Nzimande kan dit gebeur dat die 2020- akademiese jaar oorloop na die begin van 2021 om studente kans te gee om die jaar klaar te maak. “Dit sal egter in oorleg met die departement van basiese onderwys en die bekendmaak van die 2020-matriekresultate geskied.”

Wat TVET- en gemeenskapkolleges betref, sal hul akademiese jaar ook herstruktureer word en vakansies en eksamentye kan aangepas word. “Radio- en TV-uitsendings van sleutelvakke vir TVET-studente het ook reeds begin en sal vir ses maande voortgaan. Die departement het ook bykomende hulpbronne aan studente op sy webtuiste beskikbaar gestel.”

Nzimande het NSFAS-studente gerusgestel dat hulle steeds vir die hele jaar befonds sal word, al word kontakonderrig nie onmiddellik hervat nie. “Ons werk saam met NSFAS om bykomende befondsing te genereer, sou studente meer tyd nodig hê om hul studies te voltooi.”

Nzimande sê kampusse sal ook ontsmet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Dis goed so maar waarom gaan Blade so aan oor dieNAFSA studente en hul fondse. Klink of dit die enigste studente is. Een ligpunt daar is niks om oor te toy toy nie en die geboue is veilig

Werner

Kan maar die akademiese jaar afskryf sorg net dat studente vergoed word vir hulle skade al klaar te veel tyd verloor om behoorlike onderrig te kry en sluit maar die skole ook en stuur onderwysers huistoe dat hulle maar net soos ons by die huis moet sit sonder n inkomste hulle sal ook nie meer die kinders behoorlik kan onderrig nie en as hulle skole oopstel kan hulle alles oopstel